[Foto’s] Bielie van ʼn luislang gevang wat bok plattrek

Fanie Cilliers by die 4,3 m lange luislang wat hy gevang het. Foto: Verskaf aan ANA

Fanie Cilliers by die 4,3 m lange luislang wat hy gevang het. Foto: Verskaf aan ANA

Fanie Cilliers, ʼn plaaslike slangvanger van Ladysmith in KwaZulu-Natal, het Dinsdag sy hande vol gehad om twee luislange te vang en van ontstoke inwoners te red, aangesien dié gediertes hul vee as prooi vang.

Cilliers verduidelik toe hy na Ladysmith verhuis het, het hy verskeie berigte in plaaslike koerante gelees waar inwoners slange doodmaak en dat hy ʼn einde daaraan wou bring. Hy het homself aan die omliggende gemeenskappe as ʼn slangvanger voorgestel en sy nommer aan die polisie en raadslede gegee sodat hulle hom kon skakel as hy slange uit die gemeenskap moet verwyder.

Hy is Dinsdagmiddag na die Emcitsheni-omgewing ontbied nadat ʼn 4,3 m lange luislang ʼn inwoner se bok gevang het.

In plaas daarvan om die slang dood te maak, het die eienaar van die bok die polisie ontbied wat op hul beurt vir Cilliers ontbied het.

Die eienaar van die bok, slegs bekend as mnr. Nzimande, het aan Cilliers vertel dat hy vroeër die oggend reeds twee hoenders aan die luislange afgestaan het.

“Mnr. Nzimande beweer dit was die derde luislang die dag en toe dié een van sy bokke beetkry, het hy genoeg gehad. Hy beweer dat twee ander luislange twee van sy hoenders gevang het en dat dit glo gereeld gebeur,” het Cilliers gesê

Cilliers het gesê toe hy by Nzimande se erf opdaag, was die luislang steeds om die bok gedraai, besig om dit dood te druk.

“Dit was ʼn pragtige wyfie. Ek het haar van ʼn krans se kant teruggetrek sodat ek veiliger met haar kon werk. Ek het haar in ʼn sak gesit en die ver pad terug na my voertuig gestap met die slang, wat 28 kg geweeg het, op my rug.”

Cilliers het gesê die luislang sal in ʼn nabygeleë wildreservaat vrygelaat word.

Mishkè Cilliers, Fanie se dogter, by die 2,7 m lange luislang wat in die Estageni-omgewing gevang is. Foto: Verskaf aan ANA

Mishkè Cilliers, Fanie se dogter, by die 2,7 m lange luislang wat in die Estageni-omgewing gevang is. Foto: Verskaf aan ANA

Cilliers het vroeër die dag ʼn luislang van 2,7 m in die Estageni-omgewing verwyder.

Sedert Cilliers sy dienste as slangvanger in die omgewing aangebied het, het hy al minstens 30 luislange gevang en gered.

Dinsdag se vangs was egter nie sy grootste nie. Hy het al ʼn bielie wat 5,2 m lank is gevang en in ʼn veilige gebied vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E.K. - ek sê net! ·

Ag dankie tog die slange is verwyder en nie net weer doodgemaak of iets nie!

Justice ·

Fanie uitstekend! Ek het baie respek vir jou as mens vir wat jy in jou gemeenskap vir die slange en veral luislange se veiligheid doen – ek twyfel of jy enigsins vergoed word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.