Foto’s: ‘Bielie van ʼn slang’ in tuin gevind

Nick Evans by die slang. (Foto: Facebook)

Inwoners van Waterfall, wes van Durban, met ʼn slangfobie het heel waarskynlik die afgelope naweek na suikerwater gegryp nadat ʼn allemintige slang in hul midde gevang is.

Die luislang, met ʼn stewige gewig van 31 kg en ʼn lengte van 3,9 m, is Sondag deur ʼn egpaar gewaar toe dit oor Linkweg geseil het. Die egpaar het aanvanklik eers die stert van die slang gesien, maar gou dié reptiel se volle grootte besef soos dit onderdeur ʼn hek van ʼn huis se oprit geseil en toe vir ʼn oomblik vasgesteek het.

Die slang het ʼn ruk later weer terug onderdeur die hek geseil en in ʼn bedding gaan laag lê. Dit is toe dat die bekende slangvanger Nick Evans se hulp omstreeks 18:00 ontbied is.

Evans, van die KZN Amfibiese en Reptiel-bewaring, het Dinsdag aan Maroela Media vertel dat dié slang die sterkste luislang is waarmee hy al ooit kennis gemaak het. “Sy is baie gesond en in ʼn goeie toestand. Wat ʼn mooi spesie.”

Hy vertel dat die slang met sy aankoms opgerol in die bedding gelê het. Hoewel hy dadelik besef het dat sy ʼn volwasse slang moet wees, het hy egter nie besef hoe groot sy is nie. “Skielik het haar kop uitgeskiet en tóé weet ek,” verduidelik hy vandag.

Nick Evans wys hoe groot die slang se kop is. (Foto: Facebook)

Volgens Evans is die vang van ʼn slang eintlik ʼn baie vinnige proses. Hy verduidelik dat hy altyd ʼn slang aan die kop vang. Die slang in hierdie geval was nie giftig nie, maar het wel skerp tande. Hy het haar dus aan die kop gevang, maar in ʼn wending het sy haar stert skielik om sy arm gekrul en begin vasknyp. “Dit het gevoel soos ʼn sterk mens wat aan jou arm klou en vasknyp,” verduidelik hy.

Evans het toe noodgedwonge met sy lyf op die slang gaan lê om weer beheer oor die reptiel te kry waarna sy vrou hom moes help om die slang op sy skouers te kry sodat hy haar tot by ʼn vervoerboks kon dra. Weer het die slang vasgeknyp maar hy kon haar in die boks kry waarin die slang na sy werksplek vervoer is.

Volgens Evans kom die slang moontlik van ʼn nabygeleë natuurreservaat. ʼn Slang van dié grootte vreet moontlik aan dassies, klein bokkies en ja, selfs apies.

Die slang is nog in aanhouding maar sal na verwagting Woensdag in ʼn vasgestelde gebied weer vrygelaat word.

Vir ʼn ervare Evans was dié vangs opwindend teenoor ander gevalle. “Hierdie slang was op ʼn volgende vlak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Mariette ·

Hulle moet in die laeveld kom kuier.. Dai is n baba teen ons sin

Lizelda ·

Agge nee wat ek word flou net daar… op die spot haha!! Maar darem is Mnr Slang veilig, maar sjoe…

Willehond ·

Hy kon my buurman se hond wat heelnag blaf met plesier gekry het! Ek sal hom chutney ook by gee!

Daar maar waar ·

Kyk die is nie klein nie en sal nie graag so een wil teekom eendag nie maar toe ek in die laerskool was in Musina het hul een jaar n luislag daar kom wys wat n Nissan 1400 vol gelê het! Yslik groot verby! Kry baie nou by ons huis tussen 1m en 2m

Nettie ·

@Lizelda – dis ‘n MEJUFFROU Slang (of dan MEVROU slang, as sy dalk al …..)

@Willehond – jy sal dankbaar wees vir daai buurman van jou se brak wat heelnag blaf, as daai geblaf van hom jou dalk wakker maak wanneer die een of ander skelm by jou wil inbreek. ‘n Hond blaf nie net omdat hy of sy ‘n bek gekry het om mee te blaf nie; daai aanhoudende geblaf is dalk die een of ander soort waarskuwing. GAAN KYK WAT AANGAAN, hoekom daardie hond so blaf. En los maar die chutney saam met die slang – honde eet dit nie.

Lizelda ·

@Ekke ek hou ook van hule maar liewer net op Discovery channel of so, NIE my voorstoep nie, haha.

Theresa ·

Vir die arme diere is dit ook erg wat orals aangaan. Natuur word ook verwoes en nou begin hulle al skuiling ens soek by huise. Ek is bly hy word iewers veilig vrygelaat.

Mooi, maar hou ver. ·

Sy is ‘n MENEER. Kan ‘n rotplaag op haar eie uitwis.

Evans ·

Dankie Nick vir die wonderlike werk wat jy doen. Dit sit nie in enige een se broek nie.

Mariette ·

Hulle moet in die laeveld kom kuier.. Dai is n baba teen ons sin

Marie MALAN ·

Sal wat wil gee om so n luislang te kan besit… Nice.

Wenner ·

Hulle sal maar die lykswa vir my moet kry. Ek sal terstond net daar dood neerslaan

Pieter ·

As mevrou slang op my werf net mik vir my hond bring een SSG sake onmiddelik onder beheer.

Anne ·

Baie spesiaal. Sy’s inderdaad pragtig en ek’s net so bly sy’s gered en nie doodgemaak nie. Die mooi van hierdie diere gaan soms my verstand te bowe. Hulle is so interessant. Hier is pofadder en ander slange op ons erf. Ek los hulle want hulle hanteer die rotte en muise.

Jo-anli ·

Ek kry net daar ń hartaanval, is ongelooflik bang vir slange het n vreeslike fobie vir die goed. Nee dankie.

Liezel ·

Skielik voel my voete nie meer veilig onder die lessenaar nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.