Foto’s: Bloemiste bekoor inwoners, bejaardes met blommeprag

(Foto: Lindy Kriek Photography)

Te midde van angs en paniek oor die Covid-19-pandemie het ʼn groep bloemiste besluit om inwoners van Tulbagh en die bejaardes van Huis Vergenoegd in die Paarl se lewe in te kleur met hul blomskeppings.

Nadat troues links en regs afgestel is weens die Covid-19-pandemie, het dit bloemiste soos Anli Wahl van Tulbagh moedeloos gelaat. Derduisende rande se blomme wat reeds vir troues bestel is, sou tot niet gegaan het.

Wahl het die idee gekry om die blomme “nuwe lewe” te gee. “Ons wou eerder die blomme gebruik om Tulbagh-inwoners se gemoed op te kikker en hulle net vir ʼn oomblik van die pandemie te laat vergeet,” vertel Wahl.

Die span wat gehelp het om die blomskeppings op te rig (Foto: Lindy Kriek Photography)

Wahl het Adene Nieuwoudt, eienaar van Adene’s Farm Flowers net buitekant Wolseley, wat die meeste van die bloemiste se blomme verskaf, genader.

Niewoudt het ʼn magdom blomme – van tuinrose, dahlias en amarante tot lisiante – geskenk.

Wahl het Maandagaand en Dinsdag vroegoggend saam met Marcel Augustyn-Clark, ook ’n bloemis van Tulbagh, die strate van Tulbagh ingevaar en die dorp met hul blommerangskikkings verfraai. Hulle het blomskeppings voor die apteek, aan die lamppale voor die Spar en voor die Oude Kerk Volksmuseum opgerig.

Die blomskeppings is in ‘n kwessie van drie ure opgerig (Foto: Lindy Kriek Photography)

“Ons moes soos diewe in die nag rondsluip omdat ons die inwoners met dié aanskoulike prentjie van blomskeppings wou verras,” vertel Wahl.

Nieuwoudt en Wahl het Woensdag besluit om nog blommeskeppings by Huis Vergenoegd in die Paarl op te rig. Nieuwoudt en Wahl het albei in die Paarl grootgeword en die dorp lê hulle na aan die hart.

“Bejaardes, soos in Huis Vergenoegd, word seker die meeste deur die pandemie geraak. Hulle word afgesny van hul familie en hul vreugde word weggeraap omdat hulle soos voëltjies in ’n kou vasgevang word. Ons wou hul lewe weer kleur gee met ons blomme,” vertel Wahl.

Tannies staan en kyk na die blomme (Foto: Lindy Kriek Photography)

Nieuwoudt het 600 bosse blomme ter waarde van R50 000 geskenk waarmee Wahl en Clark saam met bloemiste Jo-lize van der Merwe van Riebeek-Kasteel en Amanda Theron van Stellenbosch dié tehuis verfraai het.

Nico Laubscher, troubeplanner van Nconcepts and Design in die Paarl, het die stellasies vir die blomme opgerig.

In ʼn kwessie van drie uur was die blomskeppings opgerig.

Die vroue van die ouetehuis het daarna stuk-stuk om die gebou gekloek om die blomme te aanskou. Van hulle het ʼn traan gepink en party het net van oor tot oor geglimlag. “Daar was ʼn ongelooflike reaksie onder die bejaardes. Almal kon vir ʼn oomblik glimlag te midde van die donker tye,” vertel Wahl.

(Foto: Lindy Kriek Photography)

“ʼn Tannie van 93 jaar het by ons kom staan en gesê: ‘Dit is die mooiste ding wat ek al ooit gesien het. Die Here kan my nou maar kom haal,” vertel Nieuwoudt.

Nina Slabbert, die voorsitter van Huis Vergenoegd se bestuur, sê hulle was verstom oor dié goeie gebaar. “Ons is so dankbaar dat dié bloemiste hul harte vir ons in hierdie onsekere tyd oopgemaak het. Dit beteken die wêreld vir ons inwoners,” vertel Slabbert.

Slabbert sê dit het Woensdagmiddag liggies begin reën en die blomme staan nog regop en pronk.

Anli Wahl en Marcel Augustyn-Clark (Foto: Lindy Kriek Photography)

Die blomme gaan Donderdag van die stellasies afgehaal word en aan al die inwoners van Huis Vergenoegd geskenk word. Nico Laubscher het vir die ouetehuis ook 60 glasblompotte geskenk.

Nieuwoudt sê sy het Donderdag nog ʼn vrag blomme vir die Rusoord-ouetehuis in die Paarl en die ouetehuise in Ceres en Wolseley gevat.

“Mag ons eerder die mooi in als raaksien in plaas van paniek. Daarom het ons positiewe stories soos dié nodig,” sê Wahl.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Genis ·

Eerder die natuur se mooi tentoonstel, voor dit verlep met die lockdown.. Di sn pragtige mooi gebaar..

Michael 1 ·

Fantasties, die Kaap se mense is maar net anders as in Tranvaal.

Juliet ·

2 berigte oor die Paarl na mekaar. Taxi skietery en dan nou die mooi berig. Watter mooi gebaar. Dink aan ons ou mensies wat in hierdie tyd so alleen gaan voel.

Chantel ·

Oh my word, dit is absoluut asemrowend mooi. Julle is sterre.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.