Foto’s: Boer skenk waardevolle ossewa aan monument

Jan Adriaan Oosthuizen by die ossewa wat hy aan die Voortrekkermonument geskenk het. (Foto: Verskaf / Voortrekkermonument)

ʼn Boer van die Morgenzon-distrik in Mpumalanga het besluit om ʼn bykans eeu-oue ossewa aan die Voortrekkermonument in Pretoria te skenk, al sou hy duisende rande daarvoor kon kry as hy dit verkoop het.

Jan Adriaan Oosthuizen (88) het dié ossewa in 1972 ontdek toe hy die plaas Uitzig by ene Kerneels Rautenbach gekoop het.

Die ossewa is in 1926 gebou.

Volgens Oosthuizen staan die wa al jare lank ongebruik in ʼn stoor op die plaas en dus het hy vanjaar besluit dat dit ʼn nuwe tuiste moet kry.

Sy dogter, Wilna Lindique, het haar tot sosiale media gewend om vas te stel of iemand in die wa sou belangstel.

Tot haar verbasing was mense glo bereid om duisende rande vir die wa op te dok.

Van geld wou Oosthuizen egter niks weet nie.

“Ek het vir my dogter gesê ek wil nie hê die wa moet vergaan nie. Sy het op Facebook gesien dit is baie geld werd, maar ek wil nie geld vir die ossewa hê nie. Ek wil hê dit moet bewaar word.

“Ek het toe dadelik besluit die Voortrekkermonument is die regte plek waar die ossewa sy laaste staanplek moet kry.”

Jaco Cilliers, hoof van erfenisbewaring by die Erfenisstigting, sê so ʼn skenking is van onskatbare waarde vir Afrikanererfenis.

“Die wa kry nou ʼn nuwe tuiste en ons is bitter dankbaar vir die skenking. Dit maak ʼn mens se hart warm dat mense ons só vertrou om so ʼn stuk geskiedenis te bewaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaun ·

Hi Maroela. Dalk moet die verwysing na ‘n “eeue oue” wa in die berig verander word na “eeu oue”. Van 1926 tot nou is 95 jaar.

SomeOne ·

“Kerneels Rautenbach”, jy trek sekerlik elke haar op jou lyf uit met ‘n “tweezer”

pragtige gedagte oom Jan Adriaan Oosthuizen , waardering is van hoogste lof vir jou

Transvaalse Boertjie ·

Geseënd is jy oom! mag Jesus Christus jou seën omdat jy nie na die aanlokende geld god mamon geluister het nie, as net meer Boere soos u was!

Di ·

Sjoe dis ‘n wonderlike gebaar om die erfenisstuk vir die afrikaner volk te bewaar. Geld kan nie alles koop in die lewe, daar is seker dinge wat meer waarde het as geld.

Elinette ·

Ja. Veral op die plase. In 1926 het baie boere bitter swaar gekry – dit was droogtejare, daardie tyd en die Groot Depressie het gewink. Nie almal kon die luuksheid van “mouterkarre” bekostig nie en baie van die ou volksmense het nog reggekom met perde- of donkiekarre en ossewaens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.