Foto’s: Boer waak heelnag by honger, verkluimde skape

Steyn Labuschagne, ‘n boer van Kamanjab in Namibië, waak by sy skape.

Heelnag lank het hy by sy skape gewaak. Dié boer van Kamanjab in Namibië.

Want op die welkome reëntjie het ʼn ysige nag gevolg en die diere is reeds so swak, vertel Stephanie Labuschagne. Stephanie (23) het aangrypende foto’s van haar pa, Steyn (53), op sosiale media gedeel waar hy heelnag lank langs ʼn vuur tussen sy maer, verkluimde skape waghou.

Te midde van ʼn moordende en voortslepende droogte wat groot dele van suidelike Afrika in ʼn wurggreep het, het dit Woensdag 7 mm op die Labuschagnes se plaas gereën. Die plaas is sowat 500 km noordwes van Windhoek.

“Almal weet teen dié tyd ons sit met ʼn krisisdroogte en as jou diere swak is, weet jy met die eerste reën, wanneer die diere nog nat is [wanneer dit donker word], is daar ʼn kans dat jy van hulle gaan verloor,” het Steyn gesê.

Die diere wat te swak was, is tot langs die vuur gedra.

Hulle het dus die diere in kraal gejaag, ʼn paar vure aangesteek en die skape begin warm hou.

Deur die nag het Steyn en sy jongste dogter, Heike (21), die skape wat self te swak en te koud was, nader aan die vuur gebring. Dié diere wat dit te naby aan die vlamme gewaag het, is op hul beurt weer verder weggeskuif. Elke skaap het ʼn beurt langs die vuur gekry, honderde van hulle. Steyn se vrou, Gaby, het koffie aangedra en die foto’s geneem.

“Hulle het hul bes probeer om elke, liewe siel te red,” skryf Stephanie by die foto’s. “Dit is die werklikheid en dit breek my hart. Daardie magteloosheid breek ʼn mens se hart.”

Heike Labuschagne (21) waak saam met haar pa, Steyn, by die skape.

“As die droogte hulle nie laat vrek nie, verkluim hulle wanneer die reën uiteindelik kom.

“Jy het al hóéveel voer gekoop en jy weet die reën kom. Jy bid daarvoor en dan klap die reën jou. Hulle sou ʼn hele week lank elke aand dwarsdeur die nag só by die skape gewaak het as hulle moes,” sê Stephanie oor dié vasbytboere.

Steyn het Dinsdag aan Maroela Media gesê ten spyte van hul beste pogings het talle skape steeds gevrek. “Maar dis maar wat ʼn ou doen om jou diere te probeer red.

“Dis die harde werklikheid van ʼn droogte. Dit het begin 2013 begin sleg word. Tussen-in het ons beter jare gehad, aan en af, maar vanjaar is dit ʼn ongekende droogte. Ek het so naastenby 60 mm op die plaas gehad, waar ons gemiddeld tussen 250 mm en 300 mm reën per jaar kry,” sê hy.

Hulle weidingreserwes is uitgeput en Steyn het reeds een keer droogtehulp van weldoeners ontvang. “Ek weet nie of die mense in die stede werklik weet waardeur ʼn boer gaan nie. Die boere weet dit, want ons almal gaan deur dieselfde krisis. Dis miskien goed soos dié [foto’s] wat bewusmaking kan skep oor dit waardeur boere gaan, sodat mense se oë kan oopgaan. Dit is ʼn harde tyd vir ons boere.”

Die droogte het, net soos in Suid-Afrika, ook groot dele van Namibië in ‘n wurggreep.

Steyn sê dit was vir hom byna ondenkbaar om in dié posisie te beland. “Dit is erg, maar soos my meisiekind nou die dag vir my sê, daar is ouens wat níks meer oor het om te verloor nie.”

Steyn sê hulle het in dié stadium geen reserweweiding meer oor nie. “Die plaas se spens het opgedroog.”

Die reënbui het egter reeds gelei tot botsels op die bossieveld en Steyn glo nog reën gaan kom. “Ek glo dit vas. Gebed. Dis net gebed wat ons hierdeur gaan kry.”

Soms wankel sy geloof effens, maar Steyn sê daar is ook niks wat ʼn boer so motiveer soos ʼn bui reën nie.

Stephanie Labuschagne se aangrypende inskrywing op Facebook.

“Die droogte het ʼn geweldige impak en as ʼn ou begin gesels en jy praat daaroor, lyk dit dalk na so ʼn donker bedryf. Die boerdery moet aangaan. As dit reën, moet jy wéér boer.”

Stephanie skryf op haar Facebook-blad boere is die mooiste mense wat sy nog ooit teëgekom het.

“Hulle liefde vir hul diere is astronomies.

“Moet nooit ophou bid nie en moet nooit ophou hoop nie. Dis amper verby.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

40 Kommentare

jongste oudste gewildste
belinda

ai baie hartseer kry somer trane in my oo baie sterkte

Ronalda Botha

Dis so hartseer baie sterkte vir al ons boere. Julle bly in ons gebede

marous

Hartverskeurend . Mag die Vader ons genadig wees .

Dassie

Sign of the times….

M

Dis ongelooflik hartseer ! Ons bid saam julle