[Foto’s] Boere het hulp nodig na verwoestende veldbrand

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Boere in die Calvinia-distrik in die Noord-Kaap sit met hul hande in die hare nadat ʼn verwoestende brand twee weke gelede ongeveer 25 000ha se weiding en plantegroei verwoes het.

André Steenkamp se familie boer al vir nege geslagte lank op ʼn plaas in hierdie gebied en sy broer woon en boer tans op die familieplaas. Hy vertel omtrent 6 000 skape in die distrik moet nou gevoer word, aangesien al die weiding vernietig is.

Die brand het op 28 Desember ontstaan nadat ʼn kortsluiting vermoedelik by ʼn Eskom-transformator ontstaan het. Daar is dae lank gespook om die verwoestende brand te blus en dit is uiteindelik op 2 Januarie in bedwang gebring. Op 3 Januarie het die brand egter weer opgevlam, maar boere kon daarin slaag om dit binne ʼn dag finaal te blus.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Volgens Steenkamp is aanvanklik gedink byna 50 000 ha is verwoes, maar sedertdien kon ʼn behoorlike raming van die skade gedoen word dat sowat 25 000ha onder die vlamme deurgeloop het.

“By ons plaas het net twee kampe afgebrand, maar ander boere het baie erger skade gely. Ek wil hierdie boere graag help omdat ek weet hoe dit is om te boer en hoe baie werk daarin gaan om ʼn boerdery van die grond af op te bou. Ek wil keer dat hierdie brand veroorsaak dat boere nou alles verloor,” het hy gesê.

Volgens Steenkamp het verskeie mense intussen na die boeregemeenskap uitgereik en ingestem om bale voer vir die diere te skenk. “Een vrag kom uit Laersdrift in Mpumalanga en drie vragte voer uit Middelburg. Ek weet ook van nog ʼn skenking by Bethlehem, maar ek is nog nie seker hoeveel bale dit is nie,” het hy gesê.

ʼn Vervoermaatskappy in Johannesburg het ook ingestem om vragmotors en bestuurders gratis beskikbaar te stel om die voer te gaan haal en in Calvinia te gaan aflaai, mits die koste van die diesel gedek kan word. “Die Suid-Roggeveld-landbouvereniging het al van die voerskenkings begin aanry, maar hierdie vervoerkostes moet nog betaal word. Daarby het ons geld vir diesel nodig om die ander voer te gaan haal en vir die boere te neem,” het Steenkamp gesê.

Hy het gesê die landbouvereniging sal die fondsinsameling namens die boere hanteer. Agri Noord-Kaap het ook hul ondersteuning aan die inisiatief uitgespreek en die publiek gevra om skenkings te maak sodat die voer gehaal kan word.

Vir meer inligting kan Steenkamp op 082 520 8665 of Agri Noord-Kaap op 053 832 9595 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan ·

Die regering gaan nie help nie. Moenie my vra dat ek rede daarvoor gee nie.

CHRISTA ·

Ek hoop Eskom gaan die boere vergoed vir al die skade!! Dis al erg genoeg dat ander brande OPSETLIK stig!!

Justice ·

Nou wat gaan Eskom aangaande die skade doen wat deur hul transformator veroorsaak is. Hulle behoort versekering vir dit te he of so nie ‘n fonds geskep het uit die premies wat hulle vanaf ons boere hef. Sekerlik is kortsluitings soos die nie ‘n geisoleerde geval nie.

Jaco Grobler ·

Ons lees so dikwels ‘n boerdery is’ n besigheid, en inderdaad is dit so, hoe bedryf jy dan ‘n besigheid sonder om een van die belangrikste bate te verseker?

cv ·

Die eerste 44 bale word nou amper afgelaai by die nodiges uit Middelburg uit.

SP ·

Is daar dalk iemand wat weet of daar onlangs ook brande in die Sederberge omgewing was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.