[Foto’s] Boere in Williston: ‘God weet ons kan nie meer nie’

Boere in die Williston-distrik in die Noord-Kaap is raadop oor ʼn dringende tekort aan voer, kos en water.

“Ons boere hier is trots, maar God weet ons kan nie meer nie,” sê Roelof van der Merwe (51), ʼn skaapboer wat ongeveer 30 km buite Williston boer.

Die afgelope jaar is daar voer na dié area gebring wat diere aan die lewe gehou het, maar hierdie reëling kon ongelukkig nie meer volgehou word nie. Vragte voer sit en wag tans op verskeie plekke reg oor Suid-Afrika, maar kan nie in Williston uitkom nie omdat vervoerkostes nie gedek kan word nie.

“Ons is bitter dankbaar vir die mense wat ons die afgelope jaar gehelp het en ons probeer nou ons bes. Ek moes leer kruip en ons boere is mos trots, maar ek doen dit nie net vir myself nie. Hier is ander mense wat ook bitter swaarkry,” het Van der Merwe gesê.

Sy plaas het ongeveer drie jaar laas ordentlike reënval gesien. “Die weer kom op en daar is ʼn paar donker wolke, maar dan val die reën net so plek-plek. Sommige plase het so ’n bietjie reën gekry, maar ons het maande laas hier ordentlike reën gesien.”

Volgens Van der Merwe is die omgewing “pikswart” en vrek diere wat nie taai genoeg is nie daagliks. “Hier is niks nie, alles is soos droë hout. Die diere bly aan vrek en ek moes twee werkers laat gaan. Dit gaan regtig nie goed nie.”

Verskeie boere in dié distrik sit met hulle hande in die hare en hoop op reën en dat voer by hulle sal uitkom. “Voer vir die diere, voer vir die mense, noem dit, ons kort dit. Enigiets sal help.”

Nico Gerber, direkteur van Boere in Nood, sê daar is talle boere van reg oor Suid-Afrika wat bereid is om voer te skenk, maar dat die vervoer daarvan tans ʼn groot probleem is. “Ons is bewus van die situasie en ons probeer om die voer in die Noord-Kaap te kry. Vervoer is nou ons grootste probleem. Ons kort dringend vragmotors om die voer by boere uit te kry.”

AfriForum in samewerking met Solidariteit, Caring Daisies, Water Shortage South Africa, Solidariteit Helpende Hand en Ctrack het die afgelope naweek ʼn waterprojek op die been gebring wat water en voer na die Noord-Kaap vervoer. Hoewel dié projek vir eers op die Calvinia-area fokus, meen organiseerders hulle hoop om omliggende areas ook by te staan.

“Daar is soveel mense in nood en ons wil nie vals hoop by mense skep nie, maar ons hoop om hierdie projek nog verder uit te brei in die komende weke,” het Hein Gonzales,

projekwoordvoerder by AfriForum, gesê.
Die onderskeie organisasies wat hulle hiervoor beywer, doen ʼn beroep op die publiek om betrokke te raak deur “NOOD” na 38312 te SMS en sodoende R10 aan die noodfonds te skenk, asook om die webblad te besoek by www.noodfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Chantelle Connoway ·

Waar is VOLVO SA – kan hulle nie help nie – dit is so tragies

Julene Stevens Louw ·

Volvo SA het vir ‘n jaar lank 3 vragmotors en hul bestuurders geskenk. Ons kan nie genoeg dankie se vir dit wat hul reeds gedoen het nie. Wens ons kon vir Boertjie, Boytjie en Die Lady vir altyd gehad het.

Regardt ·

My beplanning is om na ‘It’s Time’ in Bloemfontein te gaan later die maand, en ek lees dat 2000 bale voer gebaal is in voorbereiding vir parkering ens. Ek verstaan water is die mees noodsaaklike, en net Vader kan daar voorsien, maar sekerlik kan van daai duisense bale geskenk word…

Johann ·

Ons intieme, en opregte gebede gaan uit ons harte uit na julle mense

Ange ·

Ag nee weet jy asof die Boere nie genoeg het om te bekommer met die regering nie dan dit nog ook.

Here asb gryp in.

Raymond ·

Vanwaar kom voer? Daar kom talle lee trokke uit Namibia na Kaapstad area? Miskien kan daar so gehelp word

Marika de Klerk ·

Raymond, kan jy nie dalk hierdie trokke in kontak sit met Nico Gerber of Carina Swartz van Boere in Nood Groep nie? Gaan kyk op die Facebook groep vir die kontakbesonderhede. Baie dankie!

Bokram ·

Ons regering beteken darm niks,hoekom help hulle nie die boere nie,dis mos ANC gebied daardie,die DA kan die ANC mos n ding of twee wys en die boere help met vervoer.ek ry volgende naweek kakamas toe en deur Calvinia en sal so veel water as moontlik saam vat ek ry met n lee bakkie,ek wil graag die water op die regte plek afsit as iemand my se waar asb?

Penellope Jones ·

Ons bid vir uitkoms, hetsy met reen of vervoerkoste wat gedek kan word.

jaco ·

Boete wat sukkel moet NOU wakker skrik. Die regering gaan nie help nie. Die regering gebruik eerder die droogte as “hulpmiddel” om boere van hulle plase af te kry. Verkoop NOU terwyl julle darem nog iets kan kry daarvoor. Mark my words: nog net 2 jaar en onteiening sonder vergoeding is ‘n harde werklikheid. Boere word ook tans teen die grootste tempo nog op plase aangeval en vermoor. Watter tragedies moet NOG op plase gebeur voor boere besef die skrif is aan die muur vir hulle?

Tina ·

Waar is die Weermag???? Is hulle nie veronderstel om die land se mense in so situasie
by te staan nie? Kan hulle nie die trokke beskikbaar stel sodat die voer by die mense kan uitkom nie. En het hulle nie ook watertrokke nie? Ek dink die feit dat die Staat in al die ampelike tale swyg is skandelik.

willehond ·

Watter weermag praat jy van Tina? Ons het nie ene nie!! Ons sogenaamde “weermag” se trokke se batterye, bande en brandstof is lankal gesteel!!!! En die troepe hou nie daarvan om die goed rond te stoot nie, dis nie deel van hulle werk nie!!

Zandrie ·

Ons moet sommer ons belasting gelde hiervoor kan inspan. Want waar dit nou heen gaan help ons net skelms.

leon pit ·

Ja Jaco dis maklik vir jou om te praat neem aan jy boer nie, so gedink. Om n Boer te wees sit nie in elke een se broek nie. Die plaas kom van geslag tot geslag dis jou hele bestaan . Dis in jou bloed om te boer. Gun jou naaste om sy droom uit te leef en ondersteun hulle.

Stephanie ·

My kinders woon in Calvinia, dis naby Willston.
Hulle (my kinders) het reeds verskeie kere self voer aan gery van uit Gauteng. Koop bale ten duurste om hul klein kudde skape aan die lewe te hou.
Dis hart verskeurend om te sien en hoor hoe dier en mense sukkel sonder genoeg water en voer.
Ek wens ek kon die water wat hier in ons strate (Centurion/PTA) so wegspoel en sommiges sommer net vermors word deur mense, by mekaar skep en Noord Kaap toe stuur.
Here, assebief, ons weet U sal nooit ons las te swaar maak om te dra nie, maar ons as mense voel moedeloos . Help asseblief.

Ronel ·

Staphanie ek hoor wat jy sê. Ek woon in Kroonstad. ‘n Jaar terug was dit ons beurt om bakhand te staan vir water- en voerskenkings. Ons reën het egter in oorvloed en op die regte tyd gekom. Nou mors ons munisipaiteit lekker water deur nie gerapporteerde barste reg te maak nie!!! Water loop vir dae lank in die strate af. Die keer was dit ons voorreg om te kon water skenk aan Calvinia se mense.

amvi ·

Ek hoop almal van julle het ook al jou sms gestuur om ‘n bydrae te maak?
Dit is baie wreed en hartseer dat die diere so moet ly en dan doodgaan. Laat nog ‘n werker of twee gaan en laat die diere drink.

Neels ·

Maroela Kan julle nie help om vervoerborge te kry nie Toyota dalk Baie boere ry hul produkte Ek sit ook met voer om te skenk Of sit iets op die nuus Eks n boer van limpopo

Michael ·

Die regering moet help die boere van williston betaal immers belasting.Die weermag voertuie wat in die DRC gebruik word kan voer en water aanry.

Dries ·

My hart en gebede is met die Boere wat so swaarkry. As ‘n mede Boer het ek so ‘n klein bietjie begrip van wat julle deurmaak. Ek het ookal ‘n kwaai droogte gesien waar die vee van honger vrek en glo my daar is min dinge so hartverskeurend as diere wat vra en daar is niks wat die Boer kan doen nie.
Mag God julle genadig wees en julle gebede verhoor.
Van ‘n Walliese Boer

E.K. ·

Mense – weereens SMS ASSEBLIEF! Dis SO maklik om so R10 te skenk en as elkeen wat Maroela lees tog net asb dit sal DOEN!

Fj ·

Waar kan ons water aflewer in Calvinia,ons ry volgende week daar deur.

marietjie ·

Is daar dalk hulp vir boere in Hartbeesrivier omgewing oppad na Baviaans v westekant?

ML ·

Williston val in die somer reenvalstreek. Vir die gras is reen nou te laat, vir die bossieveld sal dit goed wees. ‘n Dorp soos Calvinia is tans sonder drinkwater, maar hulle het darem ‘n vooruitsig vir ‘n moontlike winter reen. Hierdie streek is ‘n semi-woestyn, maar HIERDIE droogte knou almal baie erg. Williston julle was nog altyd bekend vir julle ‘mens’ mense wat daar woon en die beste vleis wat ons daar kan kry. Pas julleself op en bly positief. Die dag as die opdrifsels bo in die bosse sit sal ek graag op die ko-operasie se stoep wil wees en al die positiewe lag en gesels vir hoor. STERKTE!!!!!!!!

E.K. ·

23 kommnetare sover -mense moet asb NIE NET kommentaar lewer, help Afriforum deur ‘n sms (of ‘n paar, ek het sommer hele paar gestuur)na die nommer hierbo te stuur en so R10 te skenk. As almal hierbo net een stuur is dit klaar R230!! Meer nog want ek het klaar ‘n paar gestuur. Stuur asb mense en moedig vriende, familie en kollegas aan om ook te doen en voor julle weet het ons genoeg geld bymkeaar gekry vir die vervoerkostes!

Christo vd Burgh ·

Mense…ek het “link” vragmotor bale beskikbaar (1000) maar kry niemand om dit van die vrystaat af Noord Kaap toe te neem nie! As iemand dit kan reel….
072 207 2977
Winburg
Chris

Fj ·

Waar kan drinkwater afgelewer word in Calvinia? Ek het al n sms gestuur .

A van der Merwe ·

Hoe gaan mens te werk om voer aan Williston te skenk, maar nie die oor die nodige vervoer daarheen beskik nie?

E.K. ·

A vander Merwe, ek sou dink as jy na die webblad onder in die berig gaan sal jy alle inligting kry. Mooi dat jy wil help!

Daniel de Villiers ·

Goeienaand, Ons het ‘n reuse netwerk van spoorlyne wat Williston, Calvinia ens verbind.
Kan Transnet nie help met die vervoer van voer nie.
As ek sou weet wie om te kontak by Transnet sou ek dit gedoen het.
Is daar dalk iemand wat kan help.
Daniel van Jeffriesbaai.

Louise ·

Dis nou ‘n fantasties idee! Ek hoop iemand het kontak detail.

SS ·

JZ het ‘n triljoen rand kernkrag transaksie aangegaan saam met sy neef Khulubuse Zuma. Daarom is daar ontslae geraak van Gordhan.

Uit watter geld kas kom daai geld? Ek dink dis seker moontlik om nog so kassie oop te maak vir die boere. Dit is mos in belang van SA! Inteendeel, wat het ons met Rusland se kernkrag uit te waai?

Marsha ·

Would it not be more cost effective to send water and animal feed by train? Just an idea

SARIE VAN HEERDEN ·

E.K. Gee asseblief die adres waarheen ons geld kan stuur vir die Boere . Dis so maklik, skryf net en druk die “SEND” knoppie sonder dat jy vertel ons moet op die webtuiste gaan wat in elk geval NIE onder jou insetsel verskyn nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

Maroela, kan julle miskien vir ons die nodige inligting gee waarvan E.K. praat vir die sending van fondse vir die boere in nood?

SARIE VAN HEERDEN ·

Maroela, ons het die e-posadres gekry en reeds geld gestuur dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.