[Foto’s] Boere ‘moedeloos, trane lê vlak’ oor droogte

Die droogte in Edenburg. Foto: Andre van Wyk/Vrystaat Landbou/Facebook

Die droogte in Edenburg. Foto: Andre van Wyk/Vrystaat Landbou/Facebook

Die westelike en suidelike dele van die Vrystaat gaan steeds onder erge droogte gebuk.

Vrystaat Landbou het foto’s gedeel van die droogte in die Edenburg- en Trompsburg-omgewing, waar dit steeds uiters droog is. Warm temperature, wat met warm winde gepaardgaan het, het ook die afgelope week oor die gebiede voorgekom.

“Dele van die Wes- en die hele Suid-Vrystaat lyk so. Met die trane vlak en soms moedeloos, staan ons steeds hoopvol en wag op reën. Ons sal nooit ophou glo en vertrou op Hom nie,” het boere wat die foto’s aan Vrystaat Landbou verskaf het, gesê.

Swaar reën en hael het in Oktober en November veral oor die noordelike dele van die Vrystaat voorgekom. In die westelike en suidelike dele van die Vrystaat, was daar egter nog steeds geen noemenswaardige reën nie.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het vandeesweek 147 ton voer aan boere in die droogtegeteisterde Reddersburg-distrik geskenk. Dié skenkings is deel van die organisasie se veldtog om hulp aan boere te verleen. Boere wat tans hulp kry, is vroeër genader om aan te dui wat hul grootste behoeftes is.

Foto: AfriForum

Foto: AfriForum

Die skenking is moontlik gemaak deur bydraes van die publiek, sowel as donasies van twee Nederlandse organisasies, Woord en Daad en Hulp Bij Bijzondere Noden. Volgens Pieter Brink, ʼn boer waar voer vroeër afgelewer is, is die boere in die Reddersburg-omgewing dankbaar vir die tydelike verligting wat die voer bied, maar steeds bekommerd oor hul toekoms op die plase.

Hy het op sosiale media foto’s gedeel van hoe die huidige droogte sy familieplaas in Reddersburg, waar hulle met skape en beeste boer, beïnvloed het. Volgens Brink het hulle reeds agt koeie, agt swartwildebeeskalfies en 34 blesboklammers weens die droogte verloor. Hy meen inwoners in dié gebied, wat vier jaar laas genoeg reën gekry het, is baie moedeloos.

Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap, het tydens ʼn onlangse onderhoud ʼn beroep op boere gedoen om op hul plase te bly en nie moed op te gee nie. Hy meen dit is juis Suid-Afrikaanse boere se toewyding wat verseker dat dié land die enigste in Afrika, suid van die Sahara, is waar voedselsekerheid nog bestaan.

AfriForum het vanjaar altesaam sowat 300 ton voer aan boere in die Vrystaat en Noordwes geskenk en het ook in November vanjaar verskeie Europese organisasies besoek om verdere steun vir droogtehulp te werf.

Die droogte in Trompsburg. Foto: Herman Archer/Vrystaat Landbou/Facebook

Die droogte in Trompsburg. Foto: Herman Archer/Vrystaat Landbou/Facebook

Volgens Henk Maree, AfriForum se nasionale woordvoerder, het sowat 38 000 Suid-Afrikaners reeds hul werk verloor weens die droogte. “Basiese produkte, soos mieliemeel, se pryse gaan die hoogte inskiet. Die impak van die droogte van die afgelope paar jaar gaan in die afsienbare toekoms ʼn groot impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie hê,” meen Maree.

ʼn Geldtekort het Agri SA intussen genoop om ʼn dringende beroep op die privaatsektor en regering te doen om sy droogtehulpfonds te ondersteun om boere in nood te help.

Johannes Möller, president van Agri SA, het gesê ʼn droogte is nie ʼn eenjaar-verskynsel nie en die westelike dele van die land, wat die afgelope drie jaar ʼn erge droogte ervaar het, kan hiervan getuig.

Ondanks wydverspreide reën oor groot dele van die land, is dele van die Noord-Kaap, Wes-Kaap, Noordwes, Limpopo, Oos-Kaap en Vrystaat steeds in die greep van die ergste droogte die afgelope dekade.

Tobie Rossouw, senior weervoorspeller van die weerkantoor in Bloemfontein, het vroeër aan Maroela Media gesê al die langtermyn-voorspellingsmodelle dui daarop dat bogemiddelde reënval in die somerreënvalgebiede in November, Desember en Januarie verwag word. “Selfs al is dit net normale reënval, sal dit reeds ʼn reuse verskil maak. Die toestande wat ons verlede seisoen ervaar het, was regtig abnormaal.”

Hy het gesê die media het al berig dit sal drie tot vier jaar neem vir die veld om te herstel van die droogte, maar die droogte kan letterlik in ʼn kwessie van weke tot ʼn einde kom, as hierdie gebiede opvolgreën van 100 tot 200 mm kry en al die damme, wat tans baie leeg is, weer vol loop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Ann ·

Sjoe, ek weet presies hoe dit voel as mens se trane so vlak is oor die droogte!! In Harrismith-omgewing was dit laasjaar hierdie tyd so verskriklik droog. My boere (kliënte) was so moedeloos, en wanneer hulle by die winkel inkom was hulle trane net so vlak gewees. Ek het laasjaar baie groot manne gesien wat byna geknak het onder die juk van die droogte, en glo my, dis ‘n baie hartseer prentjie om te sien.
Julle moet moedhou – daar SAL uitkoms wees. Hou jul oë op die berge en bly op julle knieë. Sterkte, Suid-Vrystaters!!

DPJ ·

Kom ons verootmoedig ons werklik voor God drie enig en sien hoe God die sluie van die hemel vir ons oopmaak sodat mens en dier kan lewe.

CHRISTA ·

Dan die meerderheid van ons landsburgers as jy ‘n plaas besit is jy skatryk!! Intussen besef hulle nie dat EEN droogte jou geestelik en finansieel kan breek!! Ons Kerke moet een Sondag as ‘n Biddag vir Reën verklaar en ALLE lidmate wat gesond genoeg is, moet op daardie Sondag die diens bywoon!! NET ons liewe HERE kan ons help, maar ons moet ons voor Hom verootmoedig en opreg vir Sy hulp en bystand vra!!!

al ·

Inderdaad so, boere word gesien as ryk mense en dis absoluut nonsens. Ons as landburgers moet besef dat net God ons kan help. Ons moet ons van ons eie egos en arrogansie stroop en kinderlik afhanklik wees van Hom. Dis net n jammerte dat die boere in die voorste linie staan van hierdie verwoestende droogte.

Reti ·

Ek bid vir julle vir uitkoms. Mag julle ‘n groot kersgeskenk kry die jaar. Sterkte julle.

Johann ·

Wil nie lelik wees nie, maar kyk maar Sondae by die plattelandse kerke wie ry die duurste voertuie, wie gooi die R200 note in die kollektes, sommige boere kla regtig met ‘n witbrood onder die arm. Ons gaan almal ernstig gebuk onder die droogte, veral as ou nou al R30 vir ‘n slaai koppie betaal, ou voel benoud oor dit nie reën nie. Ons bid almal saam, sterkte

Johan Steyn ·

Ja ek is ‘n Karoo boer en ek gooi R200 Sondae in die kollekte want alles wat ek het, alles wat ek is en alle Genade wat ek ontvang kom onverdiend uit die hand van die Here. Ook die R200 wat ek gee. Ek gee met ‘n blye hart en wens ek kon nog gee.

Bettie ·

Ja Johann, hulle mag dalk die duurste voertuie ry want met plaaspaaie wat nie altyd in goeie toestand is, moet hulle ordentlike voertuie he, En wat daarvan as hulle geseend is- ek kan jou verseker hulle is die mense wat hul medeboere in nood bystaan. Hoeveel het JY al gegee vir droogtehulp. Dis maklik om te kla wanneer jy ewe gerieflik nog steeds kos op die winkelrak kry, ‘n kraan oopdraai om jou grasperk nat te maak. So, moenie lelik wees nie en gun hul dit wat hul het- hulle het hard gewerk daarvoor.

Terrie ·

Nee Johann jy is wat genoem word ‘n internet troll en jou opinie is ondeurdag. Gaan bly op ‘n plaas waar die warm stof wind jou moedeloos maak en jy bietjie wakker gemaak kan word.

Ekwilibrium ·

Hierdie droogte is vieslik; hier in Bloem is die stofstorms en temperature van 40°C aan die orde van die dag, waar dit teen die tyd lowergroen moes wees met ‘n donderstorm omtrent elke middag. Volgens die weervoorspelling kan ons ‘n klam kersgeskenk kry; kom ons bly hoop!

Engelbek ·

Miskien is Kersvader ons genadig en dan bring hy milde reën vir ons.

Annie ·

Dit is erg kom kry al julle ouens by mekaar bid vir God en vra in sy naam om vir julle reen te stuur onthou dat julle n belofte moet gee en nakom waar is julke geloof

Simon ·

As ek reg onthou het n Regerings-amptenar n paar maande gelede beweer dat dit nie droog genoeg is om Regeringshulp (met belastingbetalersgeld) aan boere te gee nie.
Dit terwyl dit nou ALGEMEEN bekend is dat dit ergste droogte in jare is.

Dirk ·

Ja nee ek weet ek bly op n plot met n paar beeste wat aboluut niks in.vergelyking met ons boere is nie en ek.voel.dit baie erg. My finansiele uitgawe x 1000 ek kanie myself sien oorleef nie. Kyk dis Feestyd nou maar ek kan darm n R100 afstaan en in n bankrekening betaal as iemand dalk die hulpfonds se nommer vir my kan gee. Weet dis nie baie nie maar elke bietjie help darm. So daag ek elkeen van julle wat nou komentaar gelewer het om ook elk n R100 te deponeer.

miv ·

Stem saam met Dirk. Dankie boere vir die baie kollektegeld in die kerk, was jul nie so ruimhartig nie, het ons ook nie middelle vir geestelike voedsel gehad nie – dankie ook vir ons vol mae. Ons bid vir julle, hou net jul oë gerig op God.

Johan Bester ·

Die volk wil hulle nie bekeer nie.In ons tyd het die regering n biddag afgekondig,besighede het gesluit en ons was by die kerke om God Saam te soek en Hy het uitkoms gestuur.Doen dit vandag en amper die hele volk lê in die malls rond.Sondae lê hulle in malls en vlooimarkte.Die volk het gekies in 1992 om die huidige regering oor hulle te kry ter wille van SPORTdie afgod van die wereld.My wit Afrikaner Boere volk word wakker.AS MY VOLK OOR WIE MY NAAM UITGEROEP IS HULLE VEROOTMOEDIG BID EN HULLE BEKEER VAN HULLE VERKEERDE WEË SAL EK UIT DIE HEMEL HOOR HULLE SONDE VERGEWE EN HULLE LAND GENEES.SO SÊ DIE HERE GOD.

Johannes Meintjes ·

Die droogte is knellend. Mens empatiseer met die boere en hulle diere. As mens dan kyk hoe word landbou bestuur op ‘n weberf soos agriland.ie, en sien hoe en waarvoor boere geld kan terugeis, is SA landbou darem maar na mening baie primitief georganiseer en ge-administreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.