Foto’s: Boere, taximanne staan saam oor Vrystaatse paaie

Sechaba sa Ficksburg se vreedsame protes. (Foto: Verskaf)

Boere en taxibestuurders: dalk ʼn onwaarskynlike kombinasie, maar wel met ʼn gesamentlike doel voor oë.

Vrystaatse boere asook taxi-eienaars en -bestuurders het vandeesweek soos een man saamgestaan om hul misnoeë te kenne te gee oor die regering se versuim om dié provinsie se haglike paaie te herstel.

Sechaba sa Ficksburg, ʼn gemeenskapsforum bestaande uit die Ficksburg Taxi Association (Fita), die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), die landboumaatskappy OVK, Setsoto Youth Development, Ficksburg Commonage Tenants en die Ficksburg Landbouvereniging het Woensdag ʼn vreedsame protes in die omgewing van Ficksburg gelei waartydens verskeie roetes in en om die dorp met trekkers, bakkies en taxi’s versper is.

Dít nadat die gemeenskapsforum op 2 Maart ʼn brief aan die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, gerig het waarin hy geëis het dat die premier óf LUR van paaie dringend met hom vergader oor die toestand van die provinsie se paaie. Dié paaie is vrot van die slaggate en het al verskeie motorongelukke tot gevolg gehad.

Volgens Friedl von Maltitz, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL) en woordvoerder van Sechaba sa Ficksburg, was swaar reën aan die begin van die jaar ná baie droë jare die laaste slag vir die Vrystaat se reeds brose paaie-infrastruktuur.

Sechaba sa Ficksburg se vreedsame protes. (Foto: Verskaf)

“Dit het daartoe gelei dat ons paaie-infrastruktuur dwarsdeur die provinsie uiteindelik ingegee het ná jare lange versoeke, briewe en vergaderings met amptenare wat tot geen betekenisvolle optrede tot gevolg gehad het nie.”

Von Maltitz het intussen gesê die Vrystaatse LUR van paaie, Sam Mashinini, het wel laat Woensdagmiddag in Ficksburg aangekom en met die gemeenskapsforum vergader.

Die LUR het ook op versoek saam met lede van die forum die haglike Hammonia-pad gery. “Hy het self erken ʼn mens kan dit nie eens ʼn pad noem nie,” sê Von Maltitz.

Sechaba sa Ficksburg se vreedsame protes. (Foto: Verskaf)

Mashinini het onderneem dat die slaggate op die R26 onmiddellik herstel en die Hammonia-pad geskraap moet word. Daar is ook besluit dat Morgan Barret, voorsitter van die Ficksburg Landbouvereniging, saam met die padingenieur sal werk om die vordering te monitor, die begrotingsbesteding te beplan, asook om te bepaal watter paaie herstel moet word.

“Ons is dankbaar dat die optrede resultate gelewer het en hoop dit kan oorspoel na die hele provinsie.”

Francois Wilken, president van VL, sê dit is verblydend dat mense saamstaan. “Ons ondersteun die gemeenskap van Ficksburg en sal voortgaan om druk op die regering uit te oefen om sy pligte uit te voer soos vervat in ons Grondwet.”

Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep, sê op sy beurt die protes behoort vir die regering ʼn aanduiding te wees van “ʼn burgerlike versadigingspunt” oor die provinsie se paaie.

“Die mense was dit eens dat paaie in dié provinsie lewensgevaarlik en onrybaar geword het.”

Mulder wys verder daarop dat dieselfde situasie op baie ander plekke in die land ook geld waar instandhouding agterweë gelaat is.

Sechaba sa Ficksburg se vreedsame protes. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kokerboom ·

Welgedaan solank nie net gepraat word maar resultate bereik word!!

CHRIS ·

Hoogtyd dat almal begin saam staan om dinge gedoen te kry , Nou net almal saam staan en die land weer beheerbaar te maak

Estelle ·

Kom doen dit asb ook in die Noord Kaap,die pad tussen Hotazel en Kathu is in n haglike toestand. Die myne voel niks vir hul werkers nie!!!

Henk ·

Wel gedaan Boere en Taxi manne dalk kry julle reg wat ons regering nie kan nie , WELL DONE!!!!!

Magda ·

Goed om te sien daar is mense wat wil saam werk, en dis lekker om te sien ons staan saam.

Hennie J ·

Waar ons n gesamentlike doelwit het, is dit noodsaaklik dat daar saamgestaan word om dit te bereik. Welgedaan!

Anel ·

Knap die spoorstelsel op. Haal die onnodige swaarvoertuie van die paaie af. Vervoer weer per spoir. Baie goedkoper om treine te gebruik as om swaarvoertuie wat paaie on begaanbaar maak en onveilig. Dalk kan die paaie se toestand verbeter en langer hou.

Kanjynoumeer ·

1. Email n verslag oor die paaie na jou Agri groep (Vrystaat, Wes Kaap Noord Wes, Noord Kaap ens).
2. Email fotos van paaie aan jou Agri groep saam met jou verslag.
3. Gaan sien jou plaaslike dowr Publieke Werke.
Lê verslag voor en bespreek dit.
4. Indien geen samewerking ontvang word nie, rapporteer terug aan Agri groep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.