Foto’s: Boere verloor duisende hektaar, vee en wild

Baie vee en wild is in die brand dood en beseer. Foto: Facebook via Free State Umbrella Fire Protection Association

Soveel as 70 000 ha grond is die afgelope naweek in ʼn verwoestende veldbrand in die Boshof-omgewing in die Vrystaat verwoes.

Die oorhoofse brandbeskermingsvereniging (FSUFPA) van die Vrystaat het in ʼn verklaring gesê die brand het Saterdag omstreeks 13:30 so 4 km oos van Boshof op die R64 ontstaan. Volgens die vereniging het die uitermate hoë brandgevaartoestande veroorsaak dat die brand vinnig in ʼn noordoostelike rigting versprei het. Die vlamme kon teen 20:00 onder beheer gebring word.

“Die AFIS-satellietstelsel dui aan dat ongeveer 70 000 ha gebrand het, maar opnames op die grond is nog nie voltooi nie. Die brand het ongeveer 45 km ver en in party areas tot 20 km breed gebrand,” lui FSUPA se verklaring.

Volgens die vereniging het twee huise en ʼn voerstoor ook afgebrand. “Baie vee en wild is dood en vermink, maar definitiewe getalle is nog nie bekend nie. Dit is egter bevestig dat daar boere is wat tot 100% van hul weiding verloor het.”

Twee huise en ʼn voerstoor het ook afgebrand. Foto: Facebook via Free State Umbrella Fire Protection Association

FSUFPA het gesê daar is reeds begin om skenkings in te samel vir lede van die gemeenskap wat deur die brand geraak is.

Daar was ook ʼn tweede brand in die Kalkfonteindam omgewing tussen Koffiefontein en Fauresmith. Volgens FSUFPA is geen verslae van dié brand nog ontvang nie, maar die voorlopige AFIS-afmetings dui daarop dat 8 000 ha deur die brand verwoes is.

Instansies wat met die insameling van skenkings behulpsaam wil wees, kan ʼn e-pos stuur na info@fsufpa.

“FSUFPA waarsku weer die publiek en brandverenigings dat die brandseisoen in groot dele van die provinsie nog nie verby is nie aangesien die heersende weerstoestande die brandgevaar bepaal en nie net ʼn kalenderdatum nie. Die huidige weersomstandighede maak dit baie waarskynlik dat areas wat die laaste maand lae of geen brandrisiko gehad het nie weer ʼn tydperk van hoë brandgevaar kan ervaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gideon ·

Regtigwaar skokkend hoe ons boere getref word deur allerlei “rampe”…..droogtes, brande, moord….en, en, en…..die verskil is dat hierdie mense kans sien om elke keer weer op te staan en voort te boer.

Wat ek nog nooit kon verstaan nie is dat, tydens sulke rampe soos droogtes, vloede, ens., is dit altyd besighede of die gemeenskap wat help met skenkings….die regering doen byna niks om te help nie. Wys mens net dat hulle eintlik net n onnodige uitgawe is….mors van tyd en geld.

Maar laat daar nou kongres of begrafnis of iets is dan vloei miljoene van ons belasting geld baie vinnig.

Simon ·

Ek werk in die industrie, die regering doen meer as wat julle dink. Doen eers bietjie navorsing voor jy net afgaan.

Martie ·

Ek hoop die top ouens van die regering gaan ook persoonlik bietjie kyk en ook n bietjie help.

CHRISTA ·

Ek is in 1960 gebore en sover ek kon onthou het ons vele droogtes gehad. Ons het selfs een jaar terwyl ek nog in laerskool was na ‘n Kerk gestap om ‘n biddag vir reën by te woon. Droogte is dus vir ons niks nuuts nie, maar sover ek kan onthou het ons NOOIT soveel brande gehad nie – veral NIE op plase nie!!! En nou . . . . . . ?

Kleintjie ·

Die vereniging moet dalk beter ondersoek instel. Daar is nog 3 store verwoes wat ook voer ingehad het. Toevallig ken ek die boer wie se grond is. Die einste boer kon ook sy huis verloor het, maar dit kon betyds geblus geword het.

FSUFPA ·

Slegs inligting wat met die tyd van die verklaring geverifieer en van amptelike bronne bekom is word vrygestel. Opdatering word gedoen word soos inligting beskikbaar raak.

Rieks ·

Presies wat ek gedink het! Brand het “op die R64 ontstaan”. Wat anders as ‘n stompie wat by ‘n venster uitgegooi is?

Cobus ·

Geen vlam ontstaan sonder n vuurhoutjie
Ek Bid vir al ons Boere en Jul families
Dink asb verder wie Wil grond afneem van die boer

Gert ·

Gee besonderhede oor hoe die mense jul kan help. Sterkte bid vir julle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.