[Foto’s] Boggelrugwalvis-karkas van Kaapstad-strand verwyder

Die boggelrugwalvis word op die vragmotor vervoer (Foto: NSRI)

Die boggelrugwalvis word op die vragmotor vervoer (Foto: NSRI)

Die Stad Kaapstad het Maandag ʼn boggelrugwalvis-karkas van een van die gewilde strande na Houtbaai-hawe gesleep om dit te verwyder.

Die Stad het in ʼn verklaring gesê hy is Maandagoggend van die 1,5 ton karkas in kennis gestel wat ongeveer 1,6 km van Llandudno-strand dryf en die gestrandewalvisprotokol is onmiddellik geïmplementeer.

“Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het die departement van omgewingsbestuur in kennis gestel van die boggelrugwalvis,” het Gregg Oelofse, woordvoerder van die departement van omgewingsbestuur, gesê. “Die Stad het, in konsultasie met die departement, besluit om eerder die karkas na Houtbaai-hawe te sleep om dit te verwyder, om seker te maak dat dit nie tydens die spitsvakansietyd op die strand in ʼn moontlike moeilike verwyderingsgebied sou uitspoel nie.”

Oelofse het gesê kragtens die stad se gestrandewalvisprotokol sal die departement monsters neem voor die karkas na Vissershok-stortingsterrein geneem word.

Volgens hom is die oorsaak van die walvis se afsterwe nog nie bekend nie, maar dit is moontlik dat ʼn skip die walvis getref het.

Geoff Stephens, adjunkstasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Houtbaai, het bevestig die NSRI is omstreeks 09:25 na die toneel ontbied nadat die walvis naby Llandudno-strand opgemerk is. Volgens hom is die agt meter lange jong walvis sonder enige voorval na Houtbaai-hawe gesleep. Die karkas is op ʼn vragmotor gelaai om via Constantia Nek na Vissershok geneem te word.

Oelofse het gesê die Stad vra om verskoning vir enige ongerief wat motoriste dalk kon beleef tydens die vervoer van die karkas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Besef nie hoe groot die vis is as jy hom in die see sien nie. Dis eers as ek daai foto van die vis op die “flatbed” sien dat ek sien hoe groot dit werklik is.

Grotman ·

Dis nou vir jou n groot vis! En hulle se dis nog n jonge? Hulle gaan hom glo iewers stort?? My magtig ons prez se stort behoort mos groot genoeg te wees!..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.