Foto’s: Brand in Overberg woed voort

‘n Digte rookwolk hang oor die Overberg-gebied naby Kleinmond. (Foto: Kevin Kruger)

ʼn Brand wat Saterdag in die Overberg in die Wes-Kaap uitgebreek het, woed voort en kommer heers dat dit na huise in die gebied kan versprei.

Die R44 tussen Heuningkloof en die Kleinmond-kruising op die R43 in die Overberg-streek in die Wes-Kaap is vroeër vir alle verkeer, buiten noodvoertuie, gesluit terwyl brandbestryders spook om ʼn brand in die gebied in bedwang te bring.

Die munisipaliteit het later gesê ʼn stop-en-ry-stelsel is ingestel sodat verkeersopeenhopings aan albei kante verlig kan word.

Die brand het Saterdag uitgebreek en woed tussen die berg en die R44 in die rigting van die Arabella-gholflandgoed.

Die R44 is vroegoggend vir verkeer gesluit. (Foto: Verskaf)

Dit het teen Maandagoggend steeds teen die berg bo die dorp gewoed.

Brandbestryders spook sedert Saterdag teen die vlamme. (Foto: Greater Overberg FPA/Facebook)

Brandbestryders het oornag gekeer dat die brand oor die pad spring, waar dit huise en ander strukture in die gedrang kon bring. Lugbestryding moes gister egter weens verwagte swaar weer opgeskort word.

(Foto: Kevin Kruger)

Die Groter Overberg-brandbeskermingsvereniging het omstreeks middernag gesê die brand het aanvanklik in die rigting van Arabella beweeg, maar die wind het gedraai en die brand in ʼn ander rigting gestoot. In daardie stadium was die brand sowat 7 km van die dorp.

Geen inwoners is nog gevra om die gebied weens veiligheidsredes te verlaat nie, maar die Overberg-munisipaliteit het vroeër gewaarsku dat kragonderbrekings dalk in die geraakte gebiede kan voorkom.

Talle organisasies en vrywilligers help om die brand in bedwang te hou. (Foto: Thomas van Dalen)

Annelie Rabie, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, het die afgelope naweek gesê mense het hul harte oopgemaak en brandbestryders en vrywilligers wat die brand bestry, gehelp met alles van koeldrank tot snesies en oogdruppels.

Brandbestryders van die Overstrand-munisipaliteit, die Stad Kaapstad, amptenare van CapeNature, vrywilligers, Working on Fire, grondeienaars, die Overberg-veldbranddiens, die Groter Overberg-brandbeskermingsvereniging en lede van die publiek help almal om die situasie in bedwang te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Ai die mooie overberg. Dit is sleg vir die boere wat weiding nodig het vir hul diere.

Shakespeare ·

Brande oor die hele land. Te dik vir ‘n daalder. Trek bietjie Mal-emma en Zuma en kinders nader.

Perdeby ·

Dit is die afgelope week bitter warm daar 40 grade plus so nee dit is gewone veldbrande wat maar daar voed.

JM ·

Ek stem saam met Shakespeare. Al die brande die afgelope tyd is darem net té toevallig.

Perdeby ·

Dis bitterlik warm daar so veldbrande kan so ontstaan. Die weer kantoor het gewaarsku vir veldbrande.

Swerwer ·

Waar is die brandbestryders wat oor die water gestuur was om die brande daar te bestry? Hul moet dit mos hier ook doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.