Foto’s: Brand lê historiese skool in puin

Donderdagoggend was net ’n leë dop van die geskiedkundige sandsteengebou oor. Foto: Facebook

ʼn Brand het Woensdagnag ʼn groot gedeelte van die geskiedkundige gebou van die Hoërskool Sutherland in die Karoo in puin gelê.

Kapt. Marius Malan, bevelvoerder van die plaaslike polisiekantoor, sê ʼn forensiese span van Pretoria word môre op dié Noord-Kaapse dorp verwag om die oorsaak vas te stel van die brand wat sowat 80% van die skool vernietig het.

Hy sê polisiebeamptes op patrollie het omstreeks 22:00 gesien die skool is aan die brand. Polisielede en amptenare van die Karoo Hoogland-munisipaliteit was gou op die toneel om die brand te blus. “Die vlamme het blitsvinnig versprei omdat die gebou so oud is en uit heelwat hout bestaan wat baie droog is. Die wind het ook op party plekke redelik gewaai.”

Malan sê die munisipaliteit se toerusting was voldoende om die brand onder beheer te bring. “Teen vieruur vanoggend was die vuur geblus,” het hy Donderdagoggend aan Maroela Media gesê.

Die brand het omstreeks 22:00 Woensdagaand ontstaan, maar kon eers ure later geblus word. Foto: Facebook

Die brand het vermoedelik in ʼn klaskamer ontstaan en deur die hele gebou versprei. “Ons kon net enkele klaskamers red,” sê Malan, maar sewe klaskamers, die administrasieblok, personeelkamer en skoolsaal het in die slag gebly. Niemand is beseer nie.

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement (NKOD) sê in ʼn mediaverklaring die gekombineerde skool huisves 137 leerders van wie 20 in matriek is. “ʼn Departementele taakspan is aangestel om die skade vas te stel en ʼn gebeurlikheidsplan op te stel sodat leerders se akademiese prestasie nie benadeel word wanneer die skool [op 9 Oktober] vir die vierde kwartaal heropen nie.”

Die NKOD gaan ʼn diensverskaffer aanstel om die gebied te beveilig en die verwoeste materiaal van die perseel te verwyder. “Op die oomblik is vier klaskamers en die koshuis onbeskadig en dit sal vir die res van die skooljaar gebruik word om kinders te huisves.

“Dit is die derde soortgelyke geval wat vanjaar in Noord-Kaapse skole plaasvind,” sê die departement. In Julie 2016 het ʼn brand die meer as 100 jaar oue laerskool op Loxton in die Bo-Karoo ook in puin gelê.

Die Hoërskool Sutherland se eeu oue sandsteengebou was ’n sieraad op die dorp. Foto: Morné van Rooyen

“Dis ongelooflik hartseer,” het Jolene du Plessis, wat die distrik se geskiedkundige geboue vir haar doktorale tesis navors, Donderdagoggend aan Maroela Media gesê. “Uit ʼn erfenisoogpunt is dit ʼn groot verlies.”

Haar man, Cobus, wat sy laerskoolloopbaan aan die skool voltooi het, sê die brand is skokkend. “Ons weet nog nie presies wat daar gebeur het nie, maar dis baie tragies dat ʼn skool met so ʼn groot tradisie verlore is.”

Hy vertel die sandsteengebou is een van die min geboue van sy soort wat ook vloere van sandsteen het, byvoorbeeld die gange. Sommige van die vloere was wel van hout.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

toy ·

Daar is gedurig iets wat brand in die land wat gaan aan! Dit was nooit so nie.

Soeker ·

Tragiese verlies. NP van Wyk Louw was o.a. ook daar op skool.

Graham ·

Pragtige geboue van historiese waarde – in puin gelê…. Hartseer verby.

Ek ruik n rot en vermoed dit kan brandstigting wees…..

Hannetjie ·

Daar moet toegesien word dat gereelde instandhouding op sulke ou geboue nagegaan en gedoen word

Penellope Jones ·

Baie hartseer, spesifiek omdat dit ‘n historiese gebou is . . . .

Sandra ·

Weiding op plase word beslis afgebrand. Oortuig daarvan. Selfs brandwond eenhede vra hoekom is daar soveel boere beseer en dood die jaar?

Stuiwer ·

Ek kry die kinders die jammerste (gelukkig is niemand beseer nie). ‘n Gebou kan altyd vervang word, maar hierdie kinders is nou misplaas en die matriek eindeksamen is om die draai.

Pieter ·

Dit wil voorkom of brandende geboue, grasvelde, treintrokke en enigiets wat kan brand brandgesteek moet word omdat die brandstigtingbendes verslaaf is daaraan om te vernietig. Alles moet tot op die grond afgebrand word om dit te laat lyk soos die land wat ou Jan amper 400 jaar gelede hier aangetref het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.