[Foto’s] Brand op Tafelberg saai paniek

Foto: @ComMedics/Twitter

Foto: @ComMedics/Twitter

Verskeie inwoners van Vredehoek en Oranjezicht het Maandagaand self hul huise ontruim nadat ʼn brand laataand op Tafelberg uitgebreek het.

Theo Layne, woordvoerder van Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, het gesê die brand het ná 21:00 in die omgewing van Deerpark-rylaan begin woed. Minstens agt brandweerwaens en vier watertenkers was op die toneel.

Inwoners is nie ontruim nie, maar wel versoek om hul vensters en deure toe te maak en enige plantegroei in hul erwe nat te lei. Mense wat naby Deerpark-rylaan woon, het egter later self begin ontruim uit vrees vir hul veiligheid.

Foto: @stressed_medic/Twitter

Foto: @stressed_medic/Twitter

ʼn Inwoner van die omgewing het aan Maroela Media gesê die brandweer het omstreeks 04:00 Dinsdag met loeiende sirenes rondgery om mense wie se huise naby aan die brand was wakker te maak. Inwoners het met nat lappe op hul gesigte rondgeloop. Volgens ʼn inwoner was haar hele huis vol rook en as, en hang die reuk van roet in die lug. Helikopters het ook vroegoggend oor die gebied gevlieg.

Dit is in dié stadium nog nie duidelik of enige huise in die brand verwoes is nie, maar volgens sekere berigte is daar wel huise wat in die brand beskadig is.

Volgens ER24 is geen beserings tot dusver aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Lyn ·

Ek sien op News24 ‘n 14-jarige gevang oor brandstigting by Signal Hill.

snoefie ·

so n brand is vreesaanjaend. sterkte aan inwoners en veral brandbestryders.

Frans du Toit ·

Ek wonder of die moontlikheid van doelbewuste terrorisme of minstens politieke motiewe uitgesluit kan word..??

Ken ·

Nee wat…. Brande verseker doelbewus gestig. Te veel en te wyd versprei… En elke keer naby welaf woongebiede… Slang innie gras hier….

Niccy ·

Frans ek stem saam met jou… waar kom die skielike brande nou vandaan en die laaste een wat 04:00 in die oggend begin?? Is dit nie ook ‘n manier om gegoede mense af te breek en uit hul huise te jaag nie.

AL ·

Ek stem saam, die baie brande is baie agterdogtig. Die ander politieke partye is groen van jaloesie omdat die Wes-Kaap suksesvol deur DA regeer word – die eerste onluste in die land het by die Kaapse universiteit uitgebreek met die rhodes must fall beweging. Hierdie brandstigters moet vasgevat word en vinnig en sommer n klagte byvoeg van poging tot moord.

Erg ·

Hierdie is erg, uiters erg. Ek dink ook aan diegene wat hulle tuingemors ophoop in hulle erwe en dan aan die brand steek sodat ‘n smeulvuur die hele dag voortduur en die rook dan in omliggende huise se gordyne ens. gaan sit. Ook hulle is terroriste in die ware sin van die woord.

Chris Ws ·

Erg,mense wat hul tuin vullis in hul erwe brand oortree die munisipale en brandbeheer regulasies en kan aangekla word.Indien jy weer so iets opmerk rapporteer dit dadelik aan die brandweer eerstens en ook dan aan die munisipaliteit.Kanse is goed dat die skuldige beboet gaan word.

Simon ·

n Aantal jare gelede het daar gereeld brande ontstáan in die boomplantasies in Natal en omgewing van Howick.
Daar is later vasgestel dat brande gestig word in areas wat die vorige dae deur weerberigte op TV nuusberigte aangedui as gevaar vir weghol brande.
Daar is al verskeie kere op hierdie forum n voorspelling gemaak waar die volgende brand gaan uit breek . Weereens na aanleiding van weerberigte op TV nuus die vorige aand. Dit het steeds presies so gebeur.
Dit dui tog ook op opsetlike brandstigting.

MM ·

Kinders word aangehits om die brande te stig. Ek is bly om te hoor dat daar daren iemand al gevang is ivm die brande en dit is ‘n kind!

Chris Ws ·

MM,As hy nie op video vasgele is TERWYL hy die brand stig nie gaan daar dadels van kom en omdat dit ‘n kind is nog meer so.

Jem ·

Definitief n slang in die gras. Sterkte aan al die brandbestryders en baie dankie vir die onbaatsigtelike diens wat julle doen. Sterkte ook aan al die in Wonersh wat skade gelei het.

mb ·

Hierdie is brandstigting met politieke oogmerke. Hulle wil die DA-beheerde Weskaap onregeerbaar maak. Ek kan nie glo mense wonder nog waaroor die baie brande gaan nie. DA, doen iets!

Penellope Jones ·

Iets vreemds is aan die gang. Hoekom sal so baie vure ontstaan in a kwessie van twee weke, almal gekonsentreer in die Wes-Kaap?
Dis warm en droog in ander dele van die land ook so hoekom lees ons nie van brande daar ook nie?

Pietser ·

Gebeur elke jaar, dis brandseisoen. As dit warm is en die wind waai kwaai, is net ‘n klein vonkie nodig (soos ‘n sigaretstompie)..of slegs ‘n stukkie glas in die veld.

WW ·

Ek het nogal lank gelees voordat ek by hierdie plasing kon uitkom wat sin maak. Dankie Pietser! Meeste mense is nou ongemotiveerd hier besig met conspiracy theories. Genade, ouens, hoe slaap julle snags!?

Christine ·

Ai, Lg dankie vir daardie humor nou lekker gelag, ja regtig dis erg en ‘n mens kan ook maar net dink wat jy wil ne. Bid net dat Jesus die sluise van die Hemel sal ooptrek en redding bring in daardie gebiede waar dit brand.

At ·

Daar is soveel bosslapers in die Kaapse-berge in die somer. Ideale wegkruiplek ook vir kriminele en hul buit. Hul vuurtjies, Kaapse-wind en uiterste droogte is ‘n resep vir ‘n omgewingsramp. Die klein jakkalsies in die wingerd….of hoe?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.