Brandbestryders in Potchefstroom in Noordwes het Donderdag in die vroeë oggendure nagenoeg twee uur lank gespook om ʼn brand by HTS Potchefstroom in bedwang te bring.
Lee-Roy Pretorius, van die Tlokwe-brandweer, het aan Maroela Media gesê die brandweer is omstreeks 03:20 na die skool ontbied en met hul aankoms was die sowat 113 jaar oue administratiewe gebou in ligte laaie.
“Die administratiewe gebou is losstaande van die res van die skool en bestaan onder meer uit die ontvangskamer en ʼn paar kantore, waaronder die hoof se kantoor. Dié gedeelte is in die brand verwoes,” het Pretorius gesê.
Die brand is omstreeks 05:30 in bedwang gebring en brandbestryders kon keer dat die brand na die personeelkamer en res van die skool versprei.
“Die meerderheid van die skool se argiewe kon darem ook gered word, hoewel van die argiewe waterskade opgedoen het.”
Niemand is tydens die voorval beseer nie en die brand het nie skoolverrigtinge ontwrig nie.
“Die matrieks skryf eksamen en hul vraestelle was in ʼn kluis en kon betyds gered word sodat hulle vandag hul eksamen kan skryf.”
Pretorius het gesê die oorsaak van die brand is onbekend en word ondersoek. Die omvang van die skade moet nog bepaal word.
Is dit dieselfde skool as Ferdinand Postma?
Nee, Ferdinand Postma (was) is die handelskool. Hoër Tegnies is ‘n ander skool. Potchefstroom het goeie skole (gehad), en pragtig voorsien van al die spesialisasies wat nodig is vir ‘n samelewing. Onder die ou bedeling tot stand gekom.
Bou van nou af skole met boumateriaal wat nie kan brand nie, en maak gereeld elektroniese “backups”.
Die berigte oor skoolbrande neem onrusbarend toe. Twee teorieë: (1) die verouderende infrastruktuur van die land kom nou in onderwys en die skoolgeboue na vore en/of (2) die Afrika-manier om daardie dinge wat jou bedreig laat voel (goeie skole) is om dit te verwoes.
Nie een van die twee opsies voorspel enigiets goeds nie. Of gaan iemand beweer dit is nou maar so dat daar toenemend berigte uitslaan van skoolgeboue by gevestigde skole wat brand?
Waar is die moderne tegnologie om die brandstigters op kamera vas te vang? Waar is die veiligheidsheinings? Wagte?
Tensy die teendeel bewys word is ek amper seker dis brandstigting.
In daai Hoof se kantoor het my dinges baie gebrand. Gevoel of ek aan die brand was. Goeie ou dae
… En lekker harde rugby gespeel op daai geelvaal gerypte velde in die Wes-Transvaalse winter.
Wil li am my agterent het ook n paar maal goed gebrand in dieselfde hoof se kantoor vir skelm rook veral as die oudrugby springbok Mnr Dick Putter die slaanwerk gedoen het.Ek was in Krugerhuis koshuis lekker dae met streng dissepline.