Foto’s: Brande in Overberg geblus

(Foto: Working on Fire)

Brandbestryders in die Overberg-distrik in die Wes-Kaap is Maandag op gereedheidsgrondslag geplaas weens kommer dat twee brande wat die naweek gewoed het, te midde van warm weerstoestande weer kan opvlam.

Reinhard Geldenhuys, hoof van die brand- en rampbestuureenheid in die Overberg, sê verskeie brande het Sondag in die distrik gewoed. Twee groot brande het veral gedreig om skade aan wingerde en strukture aan te rig.

Die eerste brand het Sondagmiddag in ’n digte plantasie in Paardekloof ontstaan waarna die organisasie Working on Fire (WOF) se Kleinmond-afdeling gekry is om die brand onder beheer te bring.

Nóg ’n brand het kort daarna in Graymead net buite Villiersdorp uitgebreek. Dié brand het weens die digte plantegroei in die omgewing na ʼn nabygeleë berg versprei en ’n helikopter is ingespan om die vlamme uit die lug te blus. Dit het egter te gevaarlik geraak vir die helikopter om te vlieg en brandbestryders is genoodsaak om die vlamme verder te voet te bestry.

(Foto: Working on Fire)

Die helikopter is teen 18:00 weer ingespan en albei brande was teen vanoggend 95% onder beheer.

Die brand in Graymead het 300 hektaar se plantegroei vernietig. Dit is nie in dié stadium duidelik hoeveel skade in Paardekloof aangerig is nie.

Geldenhuys sê dit is nie ongewoon vir brande om dié tyd van die jaar in hierdie omgewing te woed nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.