Foto’s: Brandweermanne red brakkie uit rioolpyp

(Foto: Verskaf)

Die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste het die afgelope naweek ’n klein hondjie uit ’n rioolpyp in die noordelike voorstede gered waarna hulle Woensdagoggend die pyp herstel het.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, sê die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad is Sondag vroegoggend na ’n huis in Ruyterwacht ontbied nadat ’n gesin tjankgeluide in hul toilet gehoor het.

Die gesin het rondgevra en besef dat een van die bure se werpsel hondjies vermis word waarna die nooddienste ontbied is.

Die brandbestryders Morne Moolman en Steve Riddle saam met die brakkie. (Foto: Verskaf)

“Hulp sou tyd neem en teen daardie tyd sou personeel reeds skofte geruil het. Die brandweermanne van die Epping 3- en Goodwood 3-peloton het nietemin besluit om die hondjie te hulp te snel aangesien hulle nie geweet het hoe lank die brakkie al daar vasgesit het nie,” vertel Smith.

Die hondjie is ná ’n gespook eindelik teen 11:15 uit die rioolpyp gehaal waarna hy aan die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) oorhandig is om te verseker dat hy ongedeerd is.

Durandt Geldenhuys, bevelvoerder van die Goodwood-brandweerstasie, het intussen die nodige materiaal gekoop waarna dieselfde brandweermanne vanoggend na die huis teruggekeer het om die pyp te herstel wat hulle beskadig het toe hulle die hondjie uitgehaal het.

“Ons brandweermanne word weer eens geloof vir hul toewyding om nie net hul pligte na te kom nie,  maar ook lewens te red. Soms is hierdie lewens dié van die harige, vierpotige variëteit en dit getuig van hul toewyding,” sê Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

TO ·

Dankie julle daar is darm nog mense in uniform wag omgee. Soo trots op julle

SomeOne ·

‘n “good show” medalje aan die manne wat die hondjie gered het

Sonneblomkind ·

Awesome ek is so dankbaar. Julle is absoluut die beste

Wondermaarnet ·

Baie dankie. Dit is lekker om iets positief te lees. Hou aan met jul goeie werk.

Pieter ·

Mooi van julle en trots op julle. Ware getuigskrif, ons soek sulke mense wat onbaatsugtig omgee en optree in publieke bestuursposisies.

Nico ·

Ek haal my hoed af vir die manne! Wel gedaan. Wonderlike gebaar Manne!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.