Foto’s: ‘BSV’ se Hennie, Eloïse staan voor kansel

Hennie de Villiers en Eloïse van Heerden van “Boer soek ‘n vrou”-faam is getroud. (Foto: Verskaf)

Hennie de Villiers, wat in die 15de seisoen van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou liefde gevind het, het Saterdag saam met dié einste donkerkopnooi voor die kansel gestaan.

Die 36-jarige Hennie en Eloïse van Heerden (28) het mekaar by Jenkins Creek-venue buite Cradock voor sowat 100 gaste die jawoord gegee.

Die paartjie het in Junie vanjaar hul verlowing aangekondig.

Hennie en Eloïse vertel aan Maroela Media hulle was albei opgewonde oor die troue.

“Toe die gaste begin aankom, was ek nogal emosioneel en senuweeagtig, maar Eloïse was kalm en rustig,” sê Hennie.

Hy en Eloïse toer tans van Cradock af na Struisbaai, waar hulle die res van die vakansie sal deurbring.

“Ons verkies afgeleë plekke sodat ons gehaltetyd saam kan deurbring,” sê hulle.

Volgens die egpaar het Eloïse, ʼn onderwyseres wat oorspronklik van Tarkastad afkomstig is, die afgelope jaar gereeld tyd op Hennie se plaas in Moorreesburg in die Wes-Kaap deurgebring.

“Sy het al die fasette van die boerdery ervaar en gemaklik daarby ingeskakel,” sê Hennie.

Die pasgetroudes beplan om die feestyd saam met hul onderskeie families deur te bring.

“Dit voel nog onwerklik dat ons uiteindelik getroud is. Ons is baie ontspanne en sien uit daarna om saam te groei in ons huwelik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Olive ·

Mooi, hulle lyk sommer of hulle net pas en baie gemaklik en natuurlik. Voorspoed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.