Foto’s: Byleveld vereer met “baasspeurder”, “rampokker” en “tjoekie” in die WAT

Piet Byleveld word deur Susan Lombaard, Maroela Media se algemene bestuurder, vereer. Foto's: Este Meyer-Jansen.

Piet Byleveld word deur Susan Lombaard, Maroela Media se algemene bestuurder, vereer. Foto’s: Este Meyer Jansen.

Tydens die openingsaand van die landswye Piet Byleveld vraag- en antwoordtoer Donderdagaand in Pretoria, het Maroela Media Byleveld op ʼn besonderse manier vereer vir die byna 40 jaar diens wat hy aan die Suid-Afrikaanse gemeenskap gelewer het. Maroela het ʼn sertifikaat aan Byleveld oorhandig wat aandui dat dié media-instansie die woorde “baasspeurder”, “rampokker”, “tjoekie”, “swerkater” en “snuffelhond” namens hom in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ʼn woord-projek borg.

Die eerste vraag- en antwoordsessie van die landwye toer, waarvan Maroela Media borg en mediavennoot is, is by die Atterbury-teater gehou. Die toer word georganiseer deur Top Star Management. Verskeie bekendes, waaronder oudmin. Pik Botha, Pieter Smit, Magda van Biljon, Leon Schuster, Kurt Darren, Fredi Nest, Althus Theart en Elizma Theron was in die gehoor. ʼn Volgepakte teatergehoor het aan Byleveld se lippe gehang terwyl hy oor die hoogtepunte van sy loopbaan gepraat het. Lees meer hier.

“Nuus en Afrikaans is beide vir ons baie belangrik. Daar was dus vir ons geen beter en meer kreatiewe manier om iemand soos hy te vereer as deur uitdrukkingsvolle Afrikaanse woorde wat met sy werk verband hou, namens hom te borg nie,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê.

Byleveld was verras met dié onverwagse toekenning, en het sy dank uitgespreek vir die ongewone manier waarop hy vir sy werk vereer is.

Die WAT moet jaarliks geld insamel om hul werksaamhede te kan volhou, sedert hul staatsubsidie ʼn aantal jaar gelede verminder is. Met die Borg ʼn Woord-projek samel die instansie jaarliks ʼn groot deel van die inkomste wat hulle hiervoor nodig het, in. Die projek gee aan enigiemand die geleentheid om ʼn Afrikaanse woord te borg teen R100, of eksklusief te borg teen R5 000. Elkeen ontvang ʼn sertifikaat met hul naam en die geborgde woord daarop. Die WAT se jaarlikse nuutskeppingskompetisie het ook pas afgeskop. Klik hier vir meer inligting.

Byleveld het in 2010 afgetree. Sy loopbaan spog met ʼn 99%-sukseskoers waarvan die land se wreedste misdadigers suksesvol geïndividualiseer, opgespoor, vervolg en gevonnis is. ʼn Biografie oor sy lewe, Byleveld: Dossier van ʼn baasspeurder deur Hanlie Retief, het in 2011 die lig gesien.

Hou Maroela Media of Top Star Management dop om te kyk wanneer die toer in jou kontrei ʼn draai kom maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.