Foto’s: Carletonville-sinkgattragedie 56 jaar later steeds onthou

Die berugte Carletonville-sinkgat. In die agtergrond is die Kriel-gesin se huis wat ook gedeeltelik in die gat verdwyn het. (Foto: Joe Huyzers)

In die vroeë oggendure van 3 Augustus 1964 is ʼn hele huisgesin en ʼn huiswerker op ʼn klein Suid-Afrikaanse myndorpie lewend verswelg toe die aarde skielik oopgeskeur en hulle saam met hul huis en aardse besittings onder die rooi grond verdwyn het.

Dít klink byna soos die ysingwekkende storielyn van ʼn fantasiefliek, maar vir die destydse inwoners van Westdene, Blyvooruitzicht, sowat ses kilometer suid van Carletonville in Gauteng, is dié gebeurtenis 56 jaar later steeds ʼn glashelder herinnering.

Carel Huyzers was ʼn klein seuntjie toe hulle bure, die Oosthuizen-gesin – die pa, Johannes (37), ma, Hester (34), en drie jong kinders, Jacoba (13), Johannes (8) en die sesjarige Marianne, saam met hul huiswerker in die bekende sinkgattragedie verdwyn het. Die huiswerker se naam is onbekend.

“My ma het vertel die Oosthuizens het glo pas van vakansie af teruggekom toe die tragedie homself hier op ons voorstoep afgespeel het,” vertel Huyzers aan Maroela Media.

Huyzers se pa, Joe, het foto’s op skyfies gehad wat hy pas ná die voorval geneem het. Huyzers het dié skyfies laat digitaliseer en later op Facebook gedeel.

“Daar was soveel belaglike stories wat mense vertel het oor wat daardie dag gebeur het. Almal het baie gepraat, maar niemand het werklik gesíén hoe dit gelyk het nie. Toe besluit ek om die foto’s te plaas.

“Dit is die vreemdste ding wat kon gebeur – daar was nie ʼn aardbewing nie, die grond het net padgegee – soos ghoef, weg is dit, ʼn hele huisgesin en niemand het ooit weer iets van hulle gekry nie.”

Blyvooruitzicht is in 1937 gevestig om werkers van die Blyvooruitzicht Goudmyn te huisves.

Carel Huyzers as klein seuntjie saam met sy ouma en suster, Rona, besig om te trek ná die tragedie. (Foto: Joe Huyzers)

Ná die tragedie is talle inwoners inderhaas vort uit vrees dat ʼn verdwyning in ʼn diep, donker gat ook hul lot sal wees en die mynmaatskappy moes onmiddellik alternatiewe verblyf vir ongeveer 170 huisgesinne vind. Volledige gesinne is genoop om in woonwaens by die eens gewilde, maar nou verlate, Blyvooruitzicht-ontspanningsentrum te bly.

In een van Huyzers se foto’s is hy saam met sy ouma en haar suster, Rona Engelbrecht, te sien waar hulle ook besig is om sak en pak te trek.

Geen swaar voertuie is naby die sinkgat toegelaat nie en inwoners moes hul besittings in trollies na die vervoerwaens aanry. Daar was niks in die gat sigbaar behalwe die rooigrond onder in nie. Dié groot, gapende wond in die grond van sowat 20 meter diep en 150 meter breed is later met klippe toegegooi.

Talle mense wat self destyds die tragedie op Carletonville beleef het, het kommentaar op Huyzers se Facebook-foto’s gelewer met staaltjies oor dié verbysterende dag in 1964.

“Ons het skool gebank en die dag langs die gat deurgebring. Ons het gesien hoe die walle gedurig instort het met meubels en gedeeltes van die huise,” sê Nick Erasmus.

“Dit was ʼn tragiese dag,” beaam André Jacobs. “Ons kon dit nie mooi verstaan nie. Maar nou – die herinneringe aan die tyd sal ons altyd bybly.”

Inwoners moes hulle besittings in trollies na die vervoerwaens stoot omdat geen swaar voertuie naby die sinkgat toegelaat is nie. (Foto: Joe Huyzers)

Martie Erasmus onthou die Oosthuizen-gesin goed. “Was ʼn wonderlike gesin. Die oom het saam met my pa gewerk en sy oudste dogter was in my suster se klas en het saam met ons musieklesse geneem.”

John Botha vertel hy, sy pa en broer het dié oggend nadat die gat ingeval het gaan kyk hoe dit lyk. “Dit is ʼn gesig wat ek nooit sal vergeet nie. Die Oosthuizens se huis was no. 10; ons adres was no. 6, albei in 29ste Laan. Daarna moes ons by die ‘staff mess’ intrek – ʼn hele gesin in een kamer. Ek was toe in standerd vyf.”

“My oom en tannie het daardie nag na ons toe gekom,” onthou Beulah McCarthy. “My pa kon dit nie glo nie en hy en my broer het gery om te gaan kyk. Hulle het só verslae en geskok teruggekom. Ek was in my matriekjaar.”

Honderde mense het op 5 Augustus 1964 ʼn gedenkdiens vir die Oosthuizen-familie en die huiswerker op Carletonville bygewoon. Die diens is deur vier predikante uit die NG-kerk gelei. ʼn Monument met ʼn gedenkplaat is ter nagedagtenis van die gesin opgerig op ʼn heuwel wat uitkyk oor die area waar Blyvooruitzicht eens was.

“Dis amper asof die grond presies op die grense van die Oosthuizens se erf geskeur het. Daar was geen manier vir hulle om hierdie gebeurtenis te ontsnap nie. Dit is wat so vreemd en hartseer is. Op die gedenkteken staan daar tereg: ‘God het hulle self ter aarde bestel’,” sê Huyzers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nicholaas ·

Het in die vroee 70s elke dag daar verby gery op pad blyvooruitzig skool toe en terug huistoe ons het in Elandsrand gebly, baie tragies, het so rukkie terug my kinders vertel hiervan.

Miskruier ·

“God het hul self begrawe” die sin maak soveel emosie los, gelukkig net hul liggame, hul siele is met Hom weg.

Prikkie ·

Dit was baie groot nuus daardie tyd. Ek kan dit goed onthou.

Daar is natuurlik verskriklike stertjies aan die storie aangelas. Hoe ookal, dit was ‘n groot tragedie.

Excalibur ·

Die geskiedkundige stragedie het menig Suid-Afrikaners in die eertydse Wes-Transvaal tot in Noord-Transvaal met koue rillings gelaat; veral die rondgaande nuus dat die dolomietiese rots wat so bekend is vir insakkings/sinkgate met ‘n gordel vanaf die Waterkloof CBD gebied in Pretoria via Centurion (Ou Verwoerdburg) – Valhalla/Thaba Tshwane (Ou Voorterekkerhoogte) – digby Krugersdorp verby tot in Carletonville gebied hardloop. Vrese het weer opgevlam toe menig ‘n sinkgat nie te lank gelede in Centurion (Jean Laan & N14/N1 na Pta), Waterkloof LMB, Swartkop LMB, Snake Valley, Valhalla/langs R101, SALM Gymasium, Thaba Tshwane, M24 (“Motor ry onverwags in sinkgat in”), Laudium/R55, ens soos paddastoelle beginne opskiet het en die Tshwane stadsraad nie kon byhou met herstelbefondsing nie. Daarom is dit wys dat voetslaners en kinders liefs nie hul avontuur in oop velde in die gebiedens moet gaan uitleef nie maar liefs veiligheid en voorkoming aan die dag le.

Anel ·

Ek onthou dit ook nog baie goed. Ons het net die jaar van tevore in Valhalla huis gekoop. Ek onthou hoe my pa navraag gedoen het oor die dolomiet in die omgewing masr ons omgewing was veilig.

Wielspore ·

Die gebied is bekend vir sy diepste goudmyne ter wêreld, familie van ons het in die jare 90’s daar gewoon en ons het met besoeke heelwat aardbewings gevoel. Dit was partykeer so erg dat ek sommer klaar gekuier het en huis toe gegaan het, nie vir my nie, dankie. Ons het gaan kyk na die plek waar die huis ingeval het en die area was verlate, huise is ontruim en staan leeg, bouvalle en kaal grond.

Emmerentia ·

Ek het gedurende my kinderjare in die 70s in Letabastraat gebly en die gat was agter ons huis. Dit het n groot merk in my geheue gelaat en ek sal dit nie maklik vergeet nie. Hierdie gebeurtenis asook die Westdene-ramp (in die laat 70s was ek n leerling van Hoërskool Vorentoe).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.