[Foto’s] Chaos ná swaar reën in KZN

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Minstens een persoon word vermis terwyl talle ander gered moes word ná swaar reën kitsvloede oor groot dele van KwaZulu-Natal veroorsaak het.

Die polisie se soek-en-reddingspan is Maandagaand saam met die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) na Silverglen in Chatsworth ontbied nadat twee voertuie deur vloedwater meegesleur is. Die twee voertuie is sowat 300 m stroomaf gevind. Die bestuurder van een van die motors kon nie gevind word nie. Die soektog gaan vandag voort.

In Umbumbulu is ʼn 16-jarige meisie gered nadat sy deur vloedwater vasgekeer is. ʼn Lid van die gemeenskap het na die meisie geswem om haar te help, maar is in die proses ook vasgekeer. Polisieduikers en lede van die NSRI kon egter daarin slaag om albei mense na veiligheid te bring waarna hulle vir uitputting en hipotermie behandel is.

Foto: SAPD

Foto: SAPD

ʼn Beampte van die Durbanse metropolisie moes Maandag gered word nadat sy voertuig in ʼn sinkgat beland het in Boothweg. Sy voertuig is saam met vier ander voertuie uit die water gehaal.

Lede van Durban se soek-en-reddingspan het kort tevore twee mense gered nadat hulle voertuig deur vloedwater meegesleur is in Quarryweg. Met die span se aankoms op die toneel was een persoon steeds in die voertuig terwyl die ander een op die voertuig se dak was. ʼn Substasie naby die toneel het intussen aan die brand geslaan nadat dit nat geraak het. Die span het vinnig gewerk om die twee mense te red weens die risiko van ʼn elektriese skok.

Twee vroue is Maandagmiddag uit ʼn oorstroomde gebou in die Amanzimtoti-sakesentrum gered. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is deur die polisie na die toneel ontbied. “Hulle het gevind dat die grondverdieping van die gebou reeds tot heuphoogte oorstroom het.”

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Die paramedici het die grond- en eerste verdieping deursoek voordat hulle uiteindelik die twee vroue gevind het. “Die vroue is uit die gebou na die ambulans gedra waar hulle medies ondersoek is. Gelukkig was hulle ongedeerd,” het Meiring gesê.

Intussen het Ceron Lennox, woordvoerder van Rescue Care Paramedici, gesê die swaar reën in die provinsie het sedert Saterdagnag chaos in en om Durban veroorsaak. “Hoewel die provinsie die reën baie nodig het, het ons ʼn merkbare verhoging in botsings gesien sedert Saterdagaand,” het sy gesê.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens word daar Dinsdag nog swaar reën, hael en stormsterk winde verwag oor dele van Zoeloeland, die uThungulu-distriksmunisipaliteit en die noorde van eThekweni.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.