Foto’s: Chapmanspiek vandag 100 jaar oud

[Foto: Dji Mavic Air via Chapmans Peak Drive, Facebook]

Die ikoniese kusrit by Chapmanspiek in Kaapstad het Vrydag 100 jaar oud geword.

Dié skouspelagtige 9 km-roete strek tussen Houtbaai en Noordhoek langs die Skiereiland en bied ʼn uitsig oor die rotsagtige kuslyn. Dit word as een van die mooiste roetes ter wêreld beskou. Dit vorm ook deel van die Kaapstad-fietswedren en die Twee Oseane-marathon.

Luidens ʼn verklaring op die webwerf Chapman’s Peak Drive is die pad amptelik op 6 Mei 1922 deur die goewerneur van die Unie van Suid-Afrika, prins Arthur van Connaught, geopen.

Die storie van die pad het in 1607 begin toe ʼn Engelse skip in die baai, vandag bekend as Houtbaai, aangekom het. Die skipper het sy loods, John Chapman, aan wal gestuur op soek na proviand.

[Foto: Chapmans Peak Drive, Facebook]

“Chapman het tot by die basis van ʼn berg aan die westekant van die Kaapse Skiereiland geroei. Die baai waar hy geland het, is aangeteken as Chapman’s Chaunce of Chance. Die naam het vasgesteek en het amptelik op alle Oos-Indiese kaarte verskyn,” lui die verklaring.

Sir Nicolas Fredrick de Waal, die eerste administrateur van die Kaap, wou in 1914 ʼn pad hê wat Houtbaai met Noordhoek verbind. Die pad het sewe jaar geneem om voltooi te word en het die regering destyds sowat R400 000 (₤20 000) uit die sak gejaag.

“Die pad is in 2003 heropen nadat dit opgeknap is met baie meer moderne tegnologie. Dit volg nadat die pad oor die jare agteruitgegaan het. Weens erosie het rotsstortings plaasgevind wat talle beseer of selfs dood gelaat het.”

[Foto: @tilopreis via Chapmans Peak Drive, Facebook]

Die pad het egter ook al vir baie trane gesorg nadat motorongelukke en ander tragedies talle lewens die afgelope 100 jaar geëis of motoriste beseer gelaat het. In Februarie is  Lucy Thomas (25) verlam gelaat, nadat haar motor by Chapmanspiek afgetuimel het. In November is die liggaam van ʼn vrou op die rotse by Chapmanspiek gevind, nadat haar dogter se liggaam kort tevore ʼn ent daarvandaan aangetref is.

Nietemin is dié pad vandag op elke toeris se lys van “doen-dinge” in Kaapstad. Afgesien van die skouspelagtige uitsig wat ieder en elk bekoor, is die twee verskillende bedreigde plantegroeitipes – Skiereiland-sandsteen-fynbos en Kaapse graniet-fynbos – verál ʼn hoogtepunt. Dié plante is albei endemies aan Kaapstad en kom nêrens anders in die wêreld voor nie.

[Foto: @verenakueppers via Chapmans Peak Drive, Facebook]

[Foto: @shamier_ocean via Chapmans Peak Drive, Facebook]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JohanR

In my vry dae en voor die tol opgegaan het en dit nog veilig was het ek en die jongste nooi daarvan gehou om op ‘n donker nag daar op die muur te gaan sit en die visserboot lugte te kyk. Sal nie vandag in die aand waag om selfs eers uit die kar te klim nie.