Foto’s: Cyril Ramaphosa vergader met opposisiepartye

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa en Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, na afloop van die vergadering met opposisiepartye by Tuynhuys in Kaapstad op 18 November 2014 Foto: Linda Mthombeni, departement van kommunikasie

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa en Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, na afloop van die vergadering met opposisiepartye by Tuynhuys in Kaapstad op 18 November 2014 Foto: Linda Mthombeni, departement van kommunikasie

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het Dinsdag ʼn ooreenkoms met opposisiepartye aangegaan dat dissiplinêre stappe teen die EFF tydelik opgeskort word met dien verstande dat hulle parlementêre reëls sal respekteer.

“Gaan ons al hierdie dinge wat gebeur het nou eers agterweë laat? Ja, want ons gaan politieke oplossings vind, gesamentlik as ʼn versameling van politieke leiers,” het Ramaphosa aan die leiers van opposisiepartye by Tuynhuys in Kaapstad gesê.

Hy het gesê die landsburgers moet na die leiers in die parlement kan kyk en kan sê: “Ja, hierdie persone verteenwoordig ons.”

Ramaphosa het aan die media gesê die opposisiepartye het onderneem om die leiers in die regering te respekteer, wat op hul beurt gereeld na die parlement sal kom om aanspreeklik gehou te word en “moeilike” vrae te beantwoord.

Die adjunkpresident en opposisiepartye het dié twee uur lange krisisvergadering bygewoon nadat oproerpolisie verlede week Donderdagaand ontbied is om ʼn EFF-LP in die Nasionale Vergadering hardhandig van die podium te verwyder nadat sy pres. Jacob Zuma ʼn “dief” genoem het.

Dit blyk dat Ramaphosa dit diplomaties probeer stel het dat Zuma aan opposisiepartye se versoek sal voldoen om na die Nasionale Vergadering terug te keer en op vrae te reageer. Dit is een van die griewe wat die spanning hoog laat loop het. Zuma het versuim om na die parlement terug te keer nadat ʼn EFF-LP hom op 21 Augustus uitgejou het. LP’s wou weet wanneer hy die geld gaan terugbetaal vir opgraderings wat aan sy privaat woning by Nkandla aangebring is.

Die Vergadering sou Dinsdag ʼn verslag van die komitee oor regte en voorregte oorweeg waarin 20 EFF-LP’s, insluitend die party se leier, Julius Malema, skuldig bevind word aan wangedrag wat uit bogenoemde voorval voortspruit. Die lede sou na verwagting tot 30 dae lank geskors word. Die EFF wou Dinsdag ʼn dringende interdik bekom om die bespreking van die verslag te verhoed.

Teen die tyd dat Ramaphosa met die DA se parlementêre leier Mmusi Maimane en sy eweknieë vergader het, het dié item van die parlementêre skedule af verdwyn.

“Die beginsel wat ons almal weer bevestig het, is dat die voorsittende beamptes in die parlement onpartydig moet wees, en konsekwent die reëls moet toepas sonder enige vooroordeel. Hulle moet dit in realiteit bewys,” het Ramaphosa gesê. Maimane het verlede week gedreig dat die DA nie meer die ANC-voorsitter Baleka Mbete as speaker sal erken nie, aangesien die opposisie meen sy is nie onpartydig nie.

Ramphosa het gesê ʼn komitee word saamgestel om kwessies aan te spreek wat die “behoorlike funksionering” van die parlement sal verseker, en ook verlede week se gebeure sal ondersoek. Dit sluit die feit, dat die regstreekse uitsending van die parlement gesny is toe die polisie die saal betree het, in. Ramaphosa het dit as “kommerwekkend” beskryf. Hy sal aan die hoof staan van die komitee en Maimane en Stone Sizani, ANC-hoofsweep, sal as adjunkte dien. Die komitee se eerste vergadering sal volgende week plaasvind.

Hy het ook aangedui dat hy beplan om jaarliks vier keer met opposisiepartye te vergader.

Die lede van opposisiepartye wat Dinsdagoggend met Ramaphosa vergader het, sluit
Mangosutho Buthelezi (leier van die Inkatha Vryheidsparty), Khanyisile Litchfield-Tshabalala (EFF-LP), Bantu Holomisa (United Democratic Movement), Kenneth Meshoe African Christian Democratic Party), Mosiuoa Lekota (Congress of the People) en Pieter Mulder (Vryheidsfront Plus) in. Hulle het nie ʼn geleentheid ontvang om die media by die konferensie toe te spreek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.