[Foto’s] Danabaai-brand sorg vir benoude oomblikke

Brandbestryders op die toneel in Danasbaai. Foto: Via Facebook

Brandbestryders op die toneel in Danabaai. Foto: Via Facebook

ʼn Verwoestende veldbrand het inwoners van Danabaai in die Wes-Kaap en talle vakansiegangers die afgelope twee dae benoud gelaat, maar danksy uitstekende rampsbestuur het die brand tot geen lewensverlies of ernstige skade aan eiendom gelei nie.

Nickey le Roux, nuusredakteur van die plaaslike koerant, Mossel Bay Advertiser en inwoner van Danabaai wat deurlopend oor die toestand daar berig, het Saterdag aan Maroela Media gesê die brand het Donderdagmiddag tussen Pinacle Point en Danabaai uitgebreek.

“Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en word ondersoek. Baie bespiegeling doen die rondte, maar nog niks is konkreet bewys nie,” het sy gesê.

Sy het gesê ʼn noodoperasionele sentrum is op die been gebring en puik samewerking tussen die brandweer, ander nooddienste, owerhede en gemeenskap het daartoe gelei dat die toestand heeltyd onder beheer was.

“Daar was egter benoude oomblikke toe Floraweg, die enigste toegangsroete, noodgedwonge twee keer vir verkeer gesluit moes word. Inwoners en besoekers kon vir sowat twee tot drie ure nie in en uit die dorp kom nie.  ʼn Vrou moes mediese behandeling vir asma ontvang en vakansiegangers moes by die lughawe uitkom, maar die buurtwag het ingespring en ʼn tweespoorpaadjie deur die veld beskikbaar gestel sodat dié mense by die N2-snelweg kon uitkom.”

Die verwoestende brand is Donderdag en Vrydag met lugsteun van twee vastevlerkvliegtuie en twee helikopters beveg, wat die brand sover moontlik by knelpunte bestry het, terwyl grondspanne plek-plek gespook het om die vlamme onder beheer te kry.

Le Roux het gesê buiten talle hektaar fynbos en bome wat beskadig is, is eiendom nie erg beskadig nie. “Die brand het in ʼn stadium naby huise, ʼn vulstasie en aftree-oord gekom, maar weereens het die rolspelers uitstekende werk verrig en die brand gekeer.”

Sy het gesê sy is bewus van slegs een huis waarvan die ruite gekraak het weens die hitte.

Thys Giliomee, Mosselbaai se munisipale bestuurder, het Saterdag aan Maroela Media gesê die brand is sover onder beheer, alhoewel dit nog nie heeltemal onder bedwang gebring is nie.

“Grondspanne is nog in die omgewing en die gebied word steeds gemonitor. Dit het in ons guns getel dat die wind weg van die bewoonde gebied gedraai het,” het Giliomee gesê.

“Die feit dat daar geen skade aan geboue of lewensverlies was nie, word grootliks toegeskryf aan ʼn gemeenskap wat saam gestaan het met ʼn uitstekende brandweerspan,” het hy gesê.

Giliomee het gesê brandbestryders is al van voor Kersdag besig om sporadiese brande in die gebied te beveg en werk hard regdeur die dag en nag.

Die oorsaak van die brande word ondersoek.

Hou Mossel Bay Advertiser se Faceboek-blad dop vir die jongste inligting oor die veldbrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Buitestander ·

Wys jou net hoe gou kan ‘n vakansie in ‘n nag merie ont aard.

Greg ·

10/10 vir die brand bestryding spanne. Julle het julle goed van julle taak gekwyt en baie mense skade gespaar. Wel gedaan!

Francois le Cochon ·

Ek het een jaar verversings geneem na brandbestryders. Net dit was seker die mees uitdagende ding wat ek al ooit gedoen het. Mens besef nie in watter erge toestande hierdie mense hul werk verrig. BAIE DANKIE !!

jakes ·

Dankbaar vir almal betrokke.My vraag is nou: Sal rampbestuur ook so doeltreffend in die res van die land kan toegepas word soos in die Wes Kaap?Ek meen almal weet mos nou al, hoe die heersende politieke party in die ander provinsies dinge doen.Munisipaliteite en dienste val uitmekaar uit.

Danabaaier ·

Ek woon in die pragtige kus dorpie al vir jare! Die laaste twee dae was vir ons almal n groot nagmerrie! Maar danksy al die hulp wat vir ons gestuur is, kan ons almal weer vorentoe kyk. Ek as inwoner wil graag vir elke persoon se Dankie vir julle harde werk! Veral vir die manne wat die helikopters en vliegtuie aanhoudend heen en weer gevlieg het met kosbare water! Julle almal is ons helde!

KP ·

Ek dink nie hierdie is n vakansieganger se nagmerrie nie eerder n bewys van hoe dinge gedoen word in die suid en weskaap.
Wel gedaan aan almal.

Plaatsie ·

Kyk na 7e laan vanaand na die weerberig vir n aanduiding waar die volgende brand gestig gaan word.
Word gewoonlik in rooi as “brandgevaar” area aangedui.

Flintstone ·

Ek stem Plaatsie,ek het ook al hierdie tendens bemerk.9/10 keer “ontstaan” veldbrande waar die vorige aand op tv/radio as gevaarsones gemerk was.

Lithop ·

Wie is in beheer van hierdie munisipaliteit? Vanselfsprekend nie die ANC nie!

Louis ·

Ek is seker dat van die brande die afgelope tyd gestig is deur ondersteuners van die E F F

jaco ·

daars n working on fire skema (ek weet nie wie dit beheer nie) waar mense in arm gemeenskappe as vrywilliger brandbestryders kan registreer. baie van hulle stig vermoedelik veldbrande, help dan om dit te blus en maak so ekstra geld. ongelukkig is konkrete bewyse baie skaars.

CL ·

18:30 31 Desember
Dit brand baie erg. Snelweg toegemaak. Groot vlamme en BAIE rook. Pad na Dana nou nog oop maar die brand raak erger.

Vakansieganger ·

Dankie aan Elke brand weer man aan Elke man vrou in Hierdie straat by Danabaai, ek en my man was deel van Hierdie readings, was baie baie erg om iemand te vra men eers want kan ek vir jou uit jou huis neem en sy antwoord is al wat ek nodig het is my dokumente Id en bank kaart, wow was vir my verbaasend, sy hele lewe was amper daar mee, dankie liewe here het tot hulle huis se redding gekom. Bid vir Hierdie Mense van Danabaai

Francis Linstrom ·

Ek wil ook dankie se vir elke brandbestryder. As plaaskind en later plaasvrou wat verskeie baie erge wegholbrande beleef het, die laaste 1 het so n mnd gelede op ons grond ontstaan en daar is plekke wat nog steeds brand. Maar wat ek ook wil se omdat ekself dit al n paar keer eerstehands ervaar het, is die verstikkende rook en die lewensgevaar waarin hierdie mense hulle werk doen. Die kere wat ek gehelp het om vuur te slaan het my oe so gebrand dat die trane loop en ek heeltemal verblind. Dit is verskriklik warm by so n vuur, en dan ook gewoonlik nog n warm droe sonnige dag Jy kan nie met enige ligte klere gaan vuurslaan nie. Wind gooi vonke of draai skielik wat jou baie vinnig in n baie gevaarlike posisie plaas. Daarom n baie groot dankie aan almal wat vure op die grond of uit die lug beveg.???

Johannes Meintjes ·

Provinsiale en munisipale rampbestuur wat d.m.v. GPF en verwante burgerlike deelname bygestaan word, is van onskatbare waarde in plaaslike en buurt beveiliging. Dit vorm ‘n basis vir burgerlike selfbestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.