
Teen Maandagoggend was talle paaie in hierdie provinsie oorstroom (Foto: Musina Local Municipality, Facebook)
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n oranje vlak 6-waarskuwing uitgereik vir swaar reën wat na verwagting Maandagmiddag in gedeeltes in Limpopo sal uitsak. Dit volg na swaar reën reeds Sondagaand in hierdie provinsie begin val het en veroorsaak het dat paaie oorstroom het.
Teen Maandagoggend was talle paaie in hierdie provinsie oorstroom en onbegaanbaar vir motoriste. Stormweer het veral verwoesting in die Musina-omgewing gesaai.
Volgens die Musina-munisipaliteit het sommige gebiede in die dorp ure lank sonder krag gesit.
Die munisipaliteit het ouers aangeraai om nie hul kinders skool toe te stuur tot dit veilig is nie.

Stormweer het verwoesting in dele van Limpopo veroorsaak (Foto: raffic Policing Affairs Limpopo, Facebook)
Die Tzaneen-dam het teen Maandagoggend byna 95% van sy kapasiteit bereik en begin oorloop. Volgens die departement van water en sanitasie was die dam teen einde Januarie minder as 40% vol.
Die Limpopo-rivier loop ook tans baie sterk.
Volgens die weerdiens het gebiede om Tzaneen tot meer as 100 mm reën gisteraand ontvang, gevolg deur sowat 96 mm reën in Elim, ʼn nedersetting net suid van Louis Trichardt.
Die Tshivhasie- en Tshanowa-nedersetting het onderskeidelik sowat 47 mm en 22 mm reën ontvang. In Thohoyandou is 18 mm reënval aangeteken en in Levubu 13 mm.

‘n Lugfoto van die Limpopo-rivier. Die foto is 6km stroom-op met die rivier van die mees noordelike punt van SA geneem. (Foto: Johann Claassens, Verskaf)
In Mpumalanga het dele van die Kinross-omgewing Sondagaand tot 70 mm reën ontvang, gevolg deur Nelspruit met sowat 30 mm reën.
Reën het Maandag ook in gedeeltes in Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, Vrystaat en KwaZulu-Natal uitgesak.
Volgens Kumsa Masizana, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, kan hierdie provinsies vir die res van die week reën verwag. Die reën sal na verwagting teen Saterdag stelselmatig begin opklaar.

Byna 200 mm reën het gisteraand tot vandag in Musina uitgesak (Foto: Traffic Policing Affairs Limpopo, Facebook)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
8 Kommentare
Ek sal seker nooit verstaan, dat as jy sulke water sien, jy nogsteeds daardeur moet foeter nie… Jy SOEK dan vir moeilikheid? As jy nie kan deur nie, kan jy nie? Is jou lewe dan minder werd?
Ons in Mokopane wag in angs vir ñ druppel….
My ouers het vir jare in Letsitele gebly, en ek onthou die jare toe daai Tzaneen Dam leeg leeg leeg was. Hierdie is nou ‘n mooi gesig. Daai area is waar die lekker lekker vrugte vandaan kom……groot piesangs, lemoene en avo’s. Maar ek dink nie ons sien dit nie. Dit word afgepluk en gaan dadelik oor die see.
Water is nie jou speelmaat nie, bly weg van vloede.
Kan iemand asseblief vir my meer inligting gee oor die foto’s van die Limpopo? Daar is plase op albei oewers; dus ook aan Zimbabwe se kant? My man is ‘n eks-Zimbo (van Mutare) en hy was verras dat iemand steeds so ‘n goeie boerdery daar aan die gang hou.