Foto’s: Dele van Limpopo onder water

Teen Maandagoggend was talle paaie in hierdie provinsie oorstroom (Foto: Musina Local Municipality, Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n oranje vlak 6-waarskuwing uitgereik vir swaar reën wat na verwagting Maandagmiddag in gedeeltes in Limpopo sal uitsak. Dit volg na swaar reën reeds Sondagaand in hierdie provinsie begin val het en veroorsaak het dat paaie oorstroom het.

Teen Maandagoggend was talle paaie in hierdie provinsie oorstroom en onbegaanbaar vir motoriste. Stormweer het veral verwoesting in die Musina-omgewing gesaai.

Volgens die Musina-munisipaliteit het sommige gebiede in die dorp ure lank sonder krag gesit.

Die munisipaliteit het ouers aangeraai om nie hul kinders skool toe te stuur tot dit veilig is nie.

Stormweer het verwoesting in dele van Limpopo veroorsaak (Foto: raffic Policing Affairs Limpopo, Facebook)

Die Tzaneen-dam het teen Maandagoggend byna 95% van sy kapasiteit bereik en begin oorloop. Volgens die departement van water en sanitasie was die dam teen einde Januarie minder as 40% vol.

Die Limpopo-rivier loop ook tans baie sterk.

Die Tzaneen-dam het Maandagoggend oorgeloop (Foto:: Santie Joubert via ReënvalSA, Twitter)

Volgens die weerdiens het gebiede om Tzaneen tot meer as 100 mm reën gisteraand ontvang, gevolg deur sowat 96 mm reën in Elim, ʼn nedersetting net suid van Louis Trichardt.

Die Tshivhasie- en Tshanowa-nedersetting het onderskeidelik sowat 47 mm en 22 mm reën ontvang. In Thohoyandou is 18 mm reënval aangeteken en in Levubu 13 mm.

‘n Lugfoto van die Limpopo-rivier. Die foto is 6km stroom-op met die rivier van die mees noordelike punt van SA geneem. (Foto: Johann Claassens, Verskaf)

In Mpumalanga het dele van die Kinross-omgewing Sondagaand tot 70 mm reën ontvang, gevolg deur Nelspruit met sowat 30 mm reën.

Reën het Maandag ook in gedeeltes in Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, Vrystaat en KwaZulu-Natal uitgesak.

Volgens Kumsa Masizana, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, kan hierdie provinsies vir die res van die week reën verwag. Die reën sal na verwagting teen Saterdag stelselmatig begin opklaar.

‘n Kar staan in water in Musina (Foto: Musina Local Municipality. Facebook)


Die N1 digby Musina onder water (Foto: Traffic Policing Affairs Limpopo, Facebook)


Byna 200 mm reën het gisteraand tot vandag in Musina uitgesak (Foto: Traffic Policing Affairs Limpopo, Facebook)


Die Limpopo-rivier vloei sterk (Foto: Johann Claassens, Verskaf)


‘n Lugfoto van die Limpopo-rivier. Die foto is 6km stroom-op met die rivier van die mees noordelike punt van SA geneem. (Foto: Johann Claassens, Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rentia ·

Ek sal seker nooit verstaan, dat as jy sulke water sien, jy nogsteeds daardeur moet foeter nie… Jy SOEK dan vir moeilikheid? As jy nie kan deur nie, kan jy nie? Is jou lewe dan minder werd?

Frank ·

Dis Potgietersrus. Dis darem nie heeltemal so nie, LD. Ons het darem al baie water ontvang, genadiglik. Wens net die dorpsdam, Doringdraaidam se opvangsgebied, kan meer water ontvang. Kan nie glo dat die boere se damme stroomop so groot kan wees dat die dam nog nie vol is teen hierdie tyd nie.

JohanR ·

My ouers het vir jare in Letsitele gebly, en ek onthou die jare toe daai Tzaneen Dam leeg leeg leeg was. Hierdie is nou ‘n mooi gesig. Daai area is waar die lekker lekker vrugte vandaan kom……groot piesangs, lemoene en avo’s. Maar ek dink nie ons sien dit nie. Dit word afgepluk en gaan dadelik oor die see.

Saartjie ·

Kan iemand asseblief vir my meer inligting gee oor die foto’s van die Limpopo? Daar is plase op albei oewers; dus ook aan Zimbabwe se kant? My man is ‘n eks-Zimbo (van Mutare) en hy was verras dat iemand steeds so ‘n goeie boerdery daar aan die gang hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.