[Foto’s] Derduisende hektaar deur wegholbrande verwoes

Wegholbrande in die Oos-Kaap tussen Lady Grey en Barkly-Oos (September 2017). Foto: Facebook

Minstens 20 plase, waarvan minstens sewe heeltemal vernietig is, het vandeesweek deurgeloop onder ʼn verwoestende wegholbrand tussen Lady Grey en Barkly-Oos in die Oos-Kaap.

Dié brand het vermoedelik Sondag in die Lady Grey-gebied begin en vinnig oor Witteberg in die rigting van Barkly-Oos versprei. Teen Woensdag is meer as 40 000 ha weiding verwoes.

Piet Steyn, hoofbrandbeskermingsbeampte van die distrik, het gesê die weerstoestande was uiters droog en winderig wat dit baie gunstig vir welholbrande gemaak het. “Alle grondeienaars was bewus van die hoë risiko vir veldbrande voor hierdie brand begin het. Die winterseisoen was veral droog en daar is geen vog in die veld oor nie.”

Steyn het gesê ongeveer 40 boere, 160 plaaswerkers, drie spanne brandbestryders van Working on Fire, brandbestryders van die Joe Gqabi-munisipaliteit en beamptes van die Oos-Kaapse brandbeskermingsvereniging het almal gehelp om teen vlamme te baklei. “Die gebied is baie bergagtig wat dit moeilik gemaak het om die brand te bestry soos dit deur die vallei versprei het. Sterk winde het ook die vlamme aangeblaas en die paaie en strome het niks gedoen om die brand te stuit nie,” het Steyn gesê.

Wegholbrande in die Oos-Kaap tussen Lady Grey en Barkly-Oos (September 2017). Foto: Facebook

Hy het gesê ʼn vliegtuig is gebruik om die omvang van die brand te bepaal, terwyl ʼn helikopter mense by die berg opgevlieg het om brande daar te blus. Die helikopter kon egter net ʼn kort rukkie vlieg voordat die winde te erg geraak het. Steyn het gesê dit was nie moontlik om waterbomme te gebruik om die brand te blus nie, aangesien daar nie genoeg water beskikbaar was nie.

Volgens Steyn is 24 plase deur die brand geraak, waarvan 12 plase geen weiding meer oor het nie. “Die verlies aan vee is ingrypend, maar die presiese getalle is nog nie bekend nie. Baie wild het ook doodgebrand. Dit is moeilik om te sê hoeveel, maar baie karkasse is opgemerk,” het hy gesê.

Hy het gesê hoewel geen geboue deur die brand vernietig is nie, is die lewens van ongeveer 600 mense deur die brande geraak. “Gelukkig was daar geen sterftes nie, maar vier mense het beserings opgedoen.”

Wegholbrande in die Oos-Kaap tussen Lady Grey en Barkly-Oos (September 2017). Foto: Facebook

Die SAPD het Woensdag in ʼn verklaring gesê inwoners in die omgewing is steeds op hoë paraatheid aangesien sterk winde steeds in die gebied voorkom en daartoe kan lei dat die brande weer opvlam. Volgens die SAPD is minstens 26 000 ha weiding verwoes, 20 plase deur die brand geraak en sewe plase heeltemal verwoes. Die SAPD het gesê veeverliese word steeds bepaal.

Steyn het Donderdagoggend aan Maroela Media bevestig dat nuwe brande steeds plek-plek opvlam en dat inwoners en brandbestryders steeds teen die brande veg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Ontsteld ·

Dis wat ek nie verstaan nie. Hoe laat boere die skape doodbrand. Kan mens nie die drade KNIP dat hulle kan vlug na veiligheid nie?? Selfde met boere wat beeste sal sien vrek van honger en dors in ‘n kamp. HOEKOM. oor dit jou besitting is? GEE die goed weg vir iemand wat hulle kan voer of slag hulle of doen iets maar moenie die diere laat ly nie!

Ronel ·

Al was die drade geknip, sal nie al die diere vinnig genoeg kan wegkom nie. Vuur maak sy eie wind en te same met bergwinde, maak jou eie sommetjies.. So moenie altyd die blaam voor die boere of brandbestryders se voete lê nie.

Karma ·

@Ontsteld, liewe land, mens kan sien jy boer nie of het nie ‘n ‘clue’ wat aangaan op ‘n veeplaas nie. Dié boere het nie net 20 skapies wat almal mooi oulikies in hulle kampies staan nie – daar is 100’e en 1000’e skape wat in groot, oop weilande/kampe is. En skaap se tjend is maar skaap se tjend – raak verbouereerd en maal saam en hol die een in ‘n rigting, hol almal saam, al is dit reg in die rigting van die brand. Om ‘n draadjie of twee te knip of hek of wat oop te laat staan is nie ‘n oplossing nie.

Goeiste, as dit droog is en jou beeste vermaer vanweë voer-tekort, dan gee jy nie sommer net die arme dier weg nie. Jy het geen idee, Ontsteld, wat dit kos om ‘n dier te teel, groot te maak en reg te kry vir slagpale of melkery nie. In stede van jou diere ‘weggee’, sal jy eerder ‘n lening aangaan om voer te koop of maak jy staat op regeringshulp en mense se donasies vir voer.

Nee wat, Ontsteld, gaan leer eers bietjie meer oor boerdery voor jy jou mond hier kom uitspoel.

Annakapat ·

Ontsteld, was jy al in so ‘n natuurramp waar jy jou besittings moes sien wegspoel of verbrand? Daar is partykeer regtig niks wat jy kan doen om jou diere te red nie. As jy nog nie daar was nie, moenie oordeel nie! Dink jy dis vir die boere lekker om te sien hoe alles waarvoor hulle gewerk het, in vlamme opgaan?

Elize ·

Ja nee duidelik is onsteld ‘n city girl of boy en het geen idee van die plaas en plaaslewe nie. As jy onverhoeds gevang word kan jy absoluut niks doen nie, jou hart en siel is in duisend stukke. Die wat op die kantlyn staan kan maklik praat tot hy/sy self in daardie posisie is.

·

Gaan jy jou salaris weggee ter wille van … die wat nie werk kry nie, wat nie ‘n dak oor hul kop het nie? Nee jy gaan nie! Gaan jy tevrede wees om swak gehalte vleis in die winkel ten duurste aankoop – want dit is wat jy sopas voorgestel het? ‘n Boer hou nie diere aan vir die lekkerte nie, dis sy besigheid, sy brood en botter. Moet jy al jou diere in ‘n droogte jaar verkoop en dan mense in die oë kyk om aan die lewe te bly of moet jy hoop dit kom reën? Weet jy hoe voel dit om jou diere te sien agteruit gaan? Hier by ons is ‘n man wat sy perde adverteer om WEG TE GEE want hy het nie kos nie..weet jy wat…niemand het die diere nog kom haal nie… so wat staan ‘n mens dan te doen? Of bied jy aan dat ‘n boer en sy gesin maar by jou kan kom bly as hy al sy diere weggegee het? Diere wat hy reeds kosgegee en gedokter het? Gaan jy voorsien in al hulle behoeftes? Gaan jy ‘n boer help wat dit gedoen het? Nee jy gaan nie… Dis nie greenpeace die nie Ontsteld.
Het jy al gesien hoe vinnig ‘n veldbrand hardloop onder die regte omstandighede? Wat jy eintlik sê is dat boere hul diere met opset laat doodgaan … wat de hel??? Dink jy hulle is monsters???

TDW ·

Dit voel regtig nou of die Here self ons boere van die grond verjaag. Ek voel regtig so moedeloos!!

Elize ·

Moet asb nie moed verloor nie, hulle kan ons vermoor, ons grond verbrand, ons diere vermink maar hulle sal nie ons nie onderkry nie. Ek bly eerder in die bos as in die beton oerwoud waar mense nog minder kans het as ons – hulle besef dit nog net nie lekker nie. Staan sterk, veg moedig terug, ons sal weer oorwin.

TDW ·

Dit voel regtig asof die Here self nou die boere van die grond verjaag. Weet Hy van iets wat gaan gebeur wat ons nie van weet nie? Ek voel regtig so moedeloos.

Was gewaarsku ·

Boere was gewaarsku al ses maande terug dat brande die tyd erg gaan wees want goeie reen het baie grasmateriaal gemaak.

Annatjie ·

Ons moet ontsteld verskoon, sy het beslis nog nie die mag en krag van ‘n veldbrand ervaar nie. As die wind daardie vlamme vat kan geen dier of selfs mense voor daardie hitte wegkom nie. Nie eers ‘n pad help nie. Ek bid dat God spoedig reën sal voorsien en dat elke boer wat deur die brande geraak is, die nodige krag en genade sal hê om weer op te staan en aan te gaan. Sterkte

Mien ·

Ontsteld, ek kan net my kop skud oor jou kommentaar. Jy het nie die vaagste benul waaroor dit hier gaan nie !

Dan ·

Glo my ek werk by working on fire i vuur is nie jou maat nie.
Sterkte vir daai Boere

Elize ·

Was gewaarsku – duidelik het julle geen idee nie. Ek was al betrokke by brande, waar die vuur onder die grond begin oor hitte, daar was nie ‘n vuurhoutjie naby nie, die brande is vir drie dae en nagte geveg ons was doodmoeg en dan spring daar ‘n brand uit, uit die nuut……….kom werk jy bietjie vir drie dae op brande waar niks en niemand jou help of vir jou eens ‘n eet of drink dingetjie bring nie. Julle monde is groot. Lewe te beskermd in die stad.

Stadsjapie ·

Neewat die boere is nooit verkeerd nie. Hulle was gewaarsku, niks is gedoen nie, hulle laat vee doodbrand, niemand mag ‘n woord sê nie want dit is ‘hulle brood en botter’ … hulle wil nie na raad luister nie, dit is fine want die ander is STADSJAPIES wat nie weet hoe om te boer nie. Wel dis hoekom dit met boere deesdae gaan soos dit gaan. Wees maar hardkoppig, beledig maar stadsjapies, maar waar gaan vra julle eerste vir HULP as julle plase afbrand? Waar vra julle water en kos en ou klere ? BY DIE STADSJAPIES, my simpatie met boere het sopas verdwyn . Ploeter maar voort, ons sal maar soos die regering reken kos INVOER, want die boere is te ARROGANT om na enigiets of enigiemand te luister.

Ronel ·

Rerig Stadsjapie? Water het ons in Kroonstad van julle “stadsjapies” ook gevra toe ons nie ‘n druppel water gehad het nie. Water, kos en julle ou klere is na Knysna toe ook gestuur. Dis nie net boere wat van “stadsjapies” afhanklik is nie. En uhm, waar kom daai lekker skaaptjoppie of steak vandaan of die melk wat jy injou koffie gooi of die groente wat jy eet?? Beslis nie van die boere af nie, ne? So, jy nodig die boer en die boer nodig jou.

Karma ·

Ja-nee, OK, Stadsjapie – skop maar die boere onder die agterend en kritiseer waar jy kan. Kom ek sê jou: jy sal nie ‘n dág kan oorleef sonder iets wat enige boer, hetsy die melk, brood, vleis, groente of watookal is, lewer nie. Boere is ons voedselproduseerders. Goed, so die boere was ‘gewaarsku’ – waarteen is ek nie seker nie, maar kom ons veronderstel hulle was gewaarsku dat die goeie reën vroeër beter groei van grasgewasse sou beteken. Wat moes die boere intussen doen? Met ‘weed eaters’ al die gras op hul weivelde gaan afsny? Ja, Stadsjapie, mens kan sien jy bly in jou meenthuisie met ‘n posseël-grootte grasperkie en presies drie roosbome in jou tuintjie. En …e…. so terloops, ek boer nie, hoor! My visie is net bietjie beter ontwikkeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.