[Foto’s] Dié pampoen is groot genoeg vir ʼn regte koets

Foto: Verskaf

Hugo le Roux (40) van Doornpoort in Pretoria se pampoen het vanjaar koning gekraai op die Goliat van Gat-pampoenfees.

Dié kompetisie is reeds in sy 14de bestaansjaar en Hugo se pampoen van 556 kg is sover die swaarste wat dié kompetisie nog gesien het.

“Ek en my gesin is nou al so drie jaar besig met hierdie stokperdjie. My kinders, my ma, en selfs my vrou kweek al pampoene”, sê Hugo, wat hom besig hou met datawetenskap by Monsanto.

Hugo en sy gesin was die afgelope drie jaar die wenners in dié kompetisie en meen hulle maak ʼn gedugte span, hoewel hy dink ʼn bietjie geluk ook aan hulle kant is.

“Elke jaar word dit al hoe moeiliker. Met die eerste jaar was ons pampoen ongeveer 80 kg, die volgende jaar het ons pampoen amper dubbel soveel geweeg, maar vanjaar het die gewig nie verdubbel nie.”

Hugo sê die geheim vir ʼn groot pampoen is goeie grond met ʼn neutrale pH. Die grond moet vol organiese materiaal wees. “Mense maak die fout om kompos te gebruik wat nog nie goed afgebreek het nie. Die organiese materiaal moet baie goed afgebreek wees.”

Dié monsterpampoen is 1,6 m by 1 m en sal vir liefdadigheid geskenk word. “Kyk, hy gaan baie waterig wees, want dit is hoe hy sy gewig kry, maar die pampoen is beslis eetbaar en sal vir mense in nood geskenk word.”

Dit neem tussen 140 en 150 dae vir die pampoen om sy volle grootte te bereik en Hugo sê op so 60 dae bereik die pampoen sy piek in die hoeveelheid kilogram wat dit per dag groei.

“Ons pampoen het so tussen 18 tot 20 kg per dag gegroei. Dit is ongelooflik om die groeiproses dop te hou.” Hugo het ʼn driepootstander, wat mens gebruik om boorgatpype mee uit te trek, gebruik en spesiale aanbouings gemaak om die pampoen op ʼn waentjie te kon laai.

Henri Combrink, organiseerder van die fees en voorsitter van die Cullinan Boere-Unie, sê hulle het vermoed dié pampoen gaan die 500 kg merk bereik. “Ons het in groot afwagting gestaan toe hy geweeg is!”

Die pampoen sal tot Woensdag nog by die Uitkyk-slaghuis in Pretoria te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

thea ·

Wow! Wat n pragstuk. Sal tog eendag so n pampoen wil proe. Kyk mense daar gaan jy pampoen koekies bak dat dit by jou ore uitkom. Laat my dink toe ek tiener was, was daar so n gediggie. Lemoene lemoene so groot soos pampoene, so lekker, so lekker. Soos my lief se soenne. Hahahaha. Kyk dit sou nou vir jou n soen en n half gewees het daai. Dankie Maroela Media dat jul alles met ons deel.

Janie Monsieur ·

Dagsê Gerda.

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir dde oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Ek weet ·

Ek weet net soos julle van ‘n nóg groter pampoen in die land . . .

Alida ·

Ek weet, noem jy hom pampoen ek weet van n baie beter beskrywing.

janee ·

Watter tipe pampoen is dit en waar kan mens van die saad bekom?

boervrou ·

jy sal daar vir die land se eerste burger moet vra om te doneer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.