Foto’s: Diere baljaar in besoekerlose wildtuin

‘n Trop leeus lê in die pad naby die Orpen-ruskamp in die Krugerwildtuin. (Foto: SANParke)

SANParke sê hy het die afgelope paar weke – tydens die staat van algehele afsondering – heelwat interessante dieregedrag opgemerk.

SANParke het Donderdag foto’s geplaas van ʼn trop leeus wat luilekker op ʼn pad by Kempiana rondlê. Die pad is digby die Orpen-ruskamp in die Kruger Nasionale Park. Die trop woon in ʼn gebied waar besoekers normaalweg nie toegelaat word nie.

“Die diere is aktief – selfs deur die dag – op paaie wat normaalweg baie besig is,” het Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, gesê.

“Hulle is slim en het agtergekom daar is nie toeriste nie.”

Gholfkampioene. Leeus drentel rond op die grasperke van die Skukuza-gholfbaan in die Krugerwildtuin. (Foto Jean Rossouw)

Die wildtuin is tydens die afsonderingstydperk vir besoekers gesluit en werkers wat in die parke woon, moet streng inperkingsriglyne volg. Slegs noodsaaklike pligte word in dié stadium verrig sodat die parke na die afsonderingstydperk weer besoekers kan verwelkom.

Volgens Phaahla is daar tans bykans geen voertuie wat in die wildtuin rondry nie.

Hy sê ook die diere raak gou gewoond aan die besoekers – of die gebrek daaraan.

Die diere het vinnig besef daar is nie tans besoekers nie. (Foto: Jean Rossouw)

“Daar is wonderlike dinge wat gebeur wanneer mense afwesig is, maar natuurbewaring het geld nodig om suksesvol te wees,” sê Phaahla.

“Ons doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om die bepalings van die afsonderingstydperk te gehoorsaam sodat ons die virus kan verslaan en mense kan terugkeer om die natuurlewe te geniet en bewaring te ondersteun.”

Jean Rossouw, die baanopsigter by die Skukuza-gholfbaan in die Krugerwildtuin, het die afgelope ruk ook pragfoto’s van diere wat dit nou al hoe meer op die gholfbaan waag, geplaas.

(Foto: Jean Rossouw)

Rossouw sê sekere noodsaaklike pligte moet steeds verrig word en dat hy die baan deesdae met die hand water gee en die gras op die afslaanbowwe sny om te keer dat dit te dik word.

“Terwyl baie mense wêreldwyd die terugkeer van wildlewe na ruimtes wat gewoonlik deur mense beset word opgeteken het, is my ervaring terwyl ek my daaglikse pligte op die gholfbaan verrig, soortgelyk.

“Nadat mense die ruimte verlaat het, het die welige grasperke en water op die baan die perfekte speelplek vir ʼn magdom diere geword,” sê Rossouw.

“Ek was bevoorreg om ʼn paar asemrowende gesigte te sien. Ek het leeus, troppe sebras wat gewoonlik te skaam is om by die baan te kom water drink, skaars wildsbokkies en selfs ʼn trop wildehonde gesien wat die baan besoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Cherokee ·

Ruimte vir ‘n spotprentkunstenaar om die diere te laat gholf speel.

Genis ·

Ek glo nie die mens aldag wat se uitwerking hulle het op die natuur…

Johann ·

En so kry die natuur kans om te herstel van die mens se doen en late…

Adam Adriaan ·

‘n Duidelike gedrag verandering by die water drinkplek, is ook bespeur by die duiwe wat ek nou al vir jare water gee

charmaine ·

Ek kon dit ook by ons sien daar is meer mossies en die ander dag was daar so klein swart voeltjie met donkerblou kop seker die een of ander suisie.

Oujongvrou ·

Ek dink nie die diere is noodwendig baie lief vir die bosse nie. Nou kan hulle lekker loop op die grasperke. Te lekker

TSAMMA ·

“Daar is wonderlike dinge wat gebeur wanneer mense afwesig is…..”
Nou kom hulle agter dat met al die ‘miljuisende’ besoekers voor inperking dat die Leeus het nooit eintlik voluit gebrul nie maar eintlik gehoes het van al die lugbesoedeling…………
Hoe meer voertuie en mense – stuur af op dieremaskers??

ameli ·

Lees die berig met trane in my oë. So dankbaar dat hulle ook net wild en heeltemal vry kan wees. So so lief vir die wildtuin enigste rede hoekom ek nooit wil emmigreer, ek sal dit te veel mis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.