[Foto’s] Dieretuin spog met talle nuwe babas

Die babalemur.

Die ooievaar het by die Nasionale Dieretuin in Pretoria gaan kuier en talle babadiertjies is in Oktober daar verwelkom.

Die jongste toevoeging tot die dieretuin is ʼn bontsebra-merrie wat nou ʼn week oud is.

“Die bontsebra word as een van die mees algemene en geografies-wydverspreide van die sebraspesies beskou. Hulle kom in lande voor wat strek van die suide van Ethiopië, deur die ooste van Afrika so ver as Angola en tot die oostelike gedeeltes van Suid-Afrika,” het Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin, gesê.

“Alhoewel dit nog ʼn nie bedreigde spesie is nie, word dié sebras baie vir sy vleis en vel gejag. Die spesie kompeteer ook met ander vee vir weiding weens boerderye op groot dele van sy natuurlike habitat.”

ʼn Tweeling urial-lammetjies is twee weke gelede gebore. “Urials is ’n subspesie van die wilde skaap en kom natuurlik voor in sentrale gedeeltes van Asië. Wat dié skaap so merkwaardig maak, is dat die mannetjies se horings tot 1 meter in lengte kan strek en spiraalvormig uitwaarts krul. Hulle word as kwesbaar gelys weens ʼn afname in die spesie as gevolg van jag, hibridisasie en habitat-agteruitgang,” het Allenby gesê. Die dieretuin huisves drie rammetjies en vyf ooitjies. Die tweeling is onderskeidelik ʼn rammetjie en ʼn ooi.

Die eerste baba wat in Oktober by die dieretuin verwelkom is, is ʼn ringstertlemur wat begin Oktober gebore is. “Die soort aap word as bedreig spesie gelys as gevolg van habitatvernietiging en onoordeelkundige jag. Hulle word in die droë woude en bosse van die suidelike en suidwestelike dele van Madagaskar aangetref,” het Allenby gesê.

Hy het gesê babatjies word van geboorte af op hul ma’s se rug rondgedra en sal van twee weke af self begin kos soek, maar tot ʼn ouderdom van twee jaar oud deur sy ma gesoog word.

Die nuweling het reeds dieretuinbesoekers aan die gons en is spekvet en gesond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.