[Foto’s] Diewe ‘waag lewe’ om kabels by sinkgat te steel

Foto: Verskaf

“Sinkgate en kabeldiefstal is die grootste probleme in my wyk en gister het albei ons tegelyk getref.”

Dit is die woorde van rdl. Ina Strydom nadat sy en ʼn span werkers Dinsdag reg deur die dag moes spook om naby ʼn nuutgevormde sinkgat in Thaba Tshwane (Voortrekkerhoogte) kragkabels te herstel wat gesteel is.

Strydom het Woensdag aan Maroela Media gesê vier hoofstroomkragkabels is in die vroeë oggendure in ʼn afgeleë en digbebosde gebied tussen Thaba Tshwane en Valhalla in Centurion gesteel.

“Die krag na Thaba Tshwane, 1 Militêre hospitaal en die Atteridgeville-gevangenis het tussen 02:00 en 03:00 afgegaan. Nagenoeg 50 m van elke draad, 200 m in totaal, is afgesaag en gesteel om verkoop te word,” het sy gesê.

Strydom het gesê toe sy en ʼn kontrakteur van die Tshwane-metro gaan ondersoek instel het om vas te stel wat die kragonderbreking veroorsaak het, het hulle die nuutgevormde sinkgat opgemerk.

“Die sinkgat is sowat 100 m in deursnee en die kante daarvan is direk onder die plek waar die kabels gesteel is. Die diewe het hul lewens gewaag om dit daar af te saag want die grond kon enige tyd verder ingegee het.”

Strydom het gesê ʼn span werkers moes reg deur die dag en aand werk om nuwe kragkabels aan te lê en dit moes om die sinkgat herlei word.

“Die sinkgat het veroorsaak dat herstelwerk langer as gewoonlik geduur het omdat ons met die swaar toerusting dit nie naby die gat kon waag nie. Maar teen Woensdagoggend was kragtoevoer na die grootste gedeelte van Thaba Tshwane, die hospitaal en die gevangenis herstel.”

Volgens Strydom word die skade van die diefstal alleen om R300 000 beraam. Die sinkgat is een van vele in Thaba Tshwane. Dit het op eiendom van die militêre basis voorgekom en hou nie ʼn onmiddellike gevaar vir die publiek in nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Petrus ·

Dit is op militere eiendom, wys net hoe goed die weermag hulle kampe beskerm,of dit was dalk weermag lede wat die steelwerk gedoen het.

KP ·

Hierdie skade sal ver meer as geskatte waarde wees waarop hulle reken. Hierdie is n groot probleem in hierdie land.

Marnus Bossert ·

Maak nie aan hul saak nie ek vervang weekliks kabels wat gesteel word of hy lewendig is of dood 525V of 11 000V as hul hem wil steel steel hul vir hom en klaar

André ·

Wat keer hulle om die nuwe kabels ook te steel? Hulle weet mos dit gaan baie gou vervang word.

bgj van der westhuizen ·

ag hoe jammer hulle het nie in geval nie sal die skade gwees het vir die mens dom nie

BANG JAN SE VROU ·

Ek weet ek mag nie steel nie en as ek steel en die ongeluk doen hom voor dan is dit mos my eie skuld. Hou op geld mors om kriminele te red en te beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.