Foto’s: Dodetal van Indonesië-aardbewing styg skerp

Foto: AP Photo.

Die dodetal ná die reuse-aardbewing Sondag in Lombok, Indonesië, het nóg hoër tot 131 gestyg.

Reddingswerkers kon uiteindelik daarin slaag om Woensdag van die meer afgeleë gebiede van dié eiland te bereik in die hoop om lewendes onder die puin uit te grawe.

Daar word ook nog tydelike skuilings opgerig vir die tienduisende inwoners wat dakloos gelaat is ná die aardbewing met ʼn meting van 7. Water, kos en mediese voorraad word met vragmotors na die haweloses versprei.

Vyf vliegtuie wat kos, medisyne, komberse, tente en watertenks bevat, het volgens die weermag vroeg Woensdagoggend uit Djakarta vertrek.

Sutopo Purwo Nugroho, woordvoerder van die nasionale rampagentskap, het die dodetal van 131 bevestig. Die amptelike dodetal was Dinsdag nog 105.

Volgens Nugroho word daar verwag dat die dodetal verder sal styg.

Foto: AP Photo.

Sowat 2 500 mense is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem en meer as 156 000 is dakloos gelaat weens die uitgebreide skade aan duisende wonings.

Volgens owerhede het al die toeriste, sowat 5 000 van hulle, wat die drie omliggende vakansie-eilande, Gili Trawangan, Gili Meno en Gili Air, wou ontruim weens kragonderbrekings en skade aan hotelle reeds dié eilande per boot verlaat.

Dié skudding is die tweede groot skudding wat Lombok in twee weke getref het. ʼn 6,4-skudding het 29 Julie 16 mense gedood en talle geboue laat kraak – dít het bygedra tot die omvattende skade wat Sondag aangerig is.

Die model Chrissy Teigen en haar man, die sanger John Legend, en hul twee kinders het ook die skudding gevoel tydens hul vakansie in Bali. Sy het haar skok en kommer op sosiale media uitgespreek.

Geboue in Lombok en naburige Bali mag nie hoër as kokosneutbome gebou word nie.

Lombok is veral vatbaar vir aardskuddings weens sy ligging op die “ring van vuur”, ʼn boog vulkane in die Stille Oseaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.