Foto’s: Drankwinkel van dieremishandeling beskuldig

Foto: NDBV/Facebook

Foto: NDBV/Facebook

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het aanklagte van dieremishandeling teen ‘n Spar in Butterworth in die Oos-Kaap se Tops-drankwinkel aanhangig gemaak.

Andries Venter, ‘n inspekteur by die NDBV sê die aanklagte is aanhangig gemaak nadat ‘n skaap glo vasgebind en as ‘n prys ten toon gestel is. “Die foto’s wys ‘n lewendige skaap wat se bene aan mekaar vasgemaak is waar hy in die drankwinkel lê sonder vryheid van beweging of toegang tot water.”

Venter sê die voorval het glo in Mei by die Spar in Fullerstraat se Tops-drankwinkel plaasgevind. “Daar is ‘n kennisgewing aan die dier vasgeplak dat indien klante ‘n spesifieke bottel drank koop hulle die kans staan om die dier te wen.”

Die NDBV het die Spar se bestuurder gekontak en is in kennis gestel dat die saak ondersoek is en dat daar aksie geneem is. Dit is onduidelik watter stappe geneem is.

“Die NDBV het voldoen aan sy mandaat om ondersoek in te stel en toepaslik op te tree in gevalle van die mishandeling of verwaarlosing van diere,” sê Venter. “Kriminele klagte is aanhangig gemaak in terme van die Wet op Dierebeskerming sowel as die Wet op die Beskerming van Vertoondiere aangesien die dier uitgestal is.”

Spar se bemarkingsbestuurder kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

catharina ·

Vat Tops Fullerstraat se bleddie lisensie af…..hemel wat moet nou nog gebeur ten bate van drank. Sies ek is naar…..ek kan dit nie aanskou nie.

Pieter ·

Hou matigheid voor oe. Die gevaar liggies begin flikker as jy naar word van drank!

Justi ·

Hoe laag sal di mens nie daal nie?

Dankie vir die NDBV wat ingegryp het. Die arme dier moes erg verbouereerd gewees het.

En geen toegang tot water of kos moes dit werklik hel gemaak het vir die skaap.

Diere liefhebber ·

Dis in alle opsigte wreed en onaanvaarbaar.

Ek stem saam met Catharina, kanselleer sy lisensie om handel te dryf.

Nog 'n diere liefhebber ·

WAT???????? Arme skaap. Geen water, geen kos, nee regtig waar, dit is genoeg om van naar te word! Vat Tops Fullerstraat se lisensie af!!! Dit is onmenslik!

Willa ·

Butterworth. Dit sê alles!

Ek het ‘n goeie woord om dié situasie te beskryf, maar Maroela (en my ma) sal my na Jupiter deporteer!

Ek kan sulke optrede nie begryp nie & ek kan dit nie verwerk nie!!

“God be with our animals”!!!!

Hartlief ·

Ja, vat daardie lisensie weg! Slaan hulle hard en sluit hulle toe sonder kos en water en ook vasgebind.

Elizabeth ·

Ja… stomme diere wat nie vir hulself kan praat nie. Laat die sleg bestuur vir 1 jaar lank alle dierehokke gaan skoonmaak by die DBV. Verder ook ‘n kontant skenking van MINSTENS R20 000 aan die DBV. Mense moet begin GESTRAF word op ‘n ordentlike manier sodat hulle sal onthou!!

Belinda ·

Boikot die gemors…………………kan mense regtig geld so najaag jy is n siek vent dis wat jy is! en ek hoop geen mens koop enige iets weer ooit by daai Spar of Tops nie!

Melissa ·

Dit is vieslik!!! Mens behandel nie ‘n lewendige diertjie so nie!!

Snippie ·

En al die diere in die informele gebiede wat dieselfde moet deurmaak? Dis skokkend om ‘n dier so te sien, ek stem, maar dis allermins ‘n vreemde verskynsel (behalwe nou in ‘n ‘beskaafde’ plek soos die een). As die DBV se arms tog net bietjie langer was …

Sollie ·

Wat van ‘n paar ouens gaan laai ‘n paar lorrievragte mis reg OP die voorstoep af – dit moes veroorsaak dat die deure nie kan oopmaak nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.