Foto’s: Drie beseer tydens UKZN-betogings

Betogings by UKZN in September 2014 Foto: @uvi_26, Twitter

Betogings by UKZN in September 2014 Foto: @uvi_26, Twitter

Klasse is Donderdag by die Universiteit van KwaZulu-Natal opgeskort ná gewelddadige optrede deur betogers op die Westville-kampus.

“Die Westville-kampus is veral nie toeganklik vir personeellede van die universiteit of studente wat buite die kampus woon nie,” het Lesiba Seshoka, woordvoerder vir die universiteit, in ʼn verklaring gesê. “Die uitvoerende bestuurskomitee het vanoggend die situasie bespreek en besluit om die akademiese program op alle kampusse vir Donderdag en Vrydag op te skort.”

Klasse sal Maandag weer hervat.

ʼn Polisiebeampte en twee studente is Donderdagoggend beseer. “ʼn Polisiebeampte is beseer toe ʼn klip, wat die betogers gegooi het, hom getref het,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. Zwane het gesê hy is onseker wat die beampte se toestand is.

Robert Mckenzie, woordvoerder vir die provinsiale nooddienste, het gesê paramedici het persone behandel wat matige beserings opgedoen het. “ʼn Derde persoon is met privaatvervoer van die toneel verwyder voordat paramedici opgedaag het,” het hy gesê. “Hulle kan nie die persoon se beserings of sy toestand bevestig nie.”

Mckenzie het gesê geen beserings is aangemeld weens die brande wat op die kampus gestig is nie.

Seshoka het gesê daar was Donderdagoggend “ernstige gewelddadige betogings” by die Westville-, Howard-, Edgewood- en Pietermaritzburg-kampusse. “Die universiteit is jammer oor enige ongerief en vra alle studente wie se aktiwiteite deur ʼn handjievol ontwrigtende elemente ontwrig word, om verskoning.”

Die polisie het Dinsdag by die Westville-kampus ʼn waterkanon teen betogende studente gebruik. Seshoka het in daardie stadium gesê ongeveer 200 studente het met ʼn onwettige betoging op die kampus begin, klasse ontwrig en eiendom beskadig. ʼn Aantal motors is met klippe bestook en van die geboue is aan die brand gesteek.

Seshoka sê die universiteit het ʼn hooggeregshofbevel wat hom beskerm teen alle “onwettige betogings, ontwrigtende byeenkomste, optogte, intimidasie of enige gewelddadige optrede teen persone of eiendom”.

Hy het gesê oortreders sal van dwarsboming van die gereg aangekla word en die universiteit sal nie enige aanklagte terugtrek nie.

Die studente voer in ʼn memorandum aan hulle betoog oor die finansiële skema, lenings, beursbeleid en finansiering vir nagraadse studente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.