[Foto’s] Drie dood, talle beseer toe bus rol     

Die bus se wrak. Foto: Verskaf

Die bus se wrak. Foto: Verskaf

Minstens drie mense is dood en talle beseer, nadat ʼn passasiersbus Maandagoggend teen ʼn steilte langs die M1-Higginson-snelweg in Chatsworth, KwaZulu-Natal, afgerol het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê talle nooddienste is na die toneel ontbied. ʼn Gedeelte van die snelweg is vir verkeer gesluit en helikopters is ook ontbied.

“Twee mense is dood, vier het kritieke beserings opgedoen en minstens nog 70 mense het geringe tot ernstige beserings opgedoen,” het Vermaak gesê. “Van die mense was in die bus se wrak vasgekeer en brandbestryders moes hulle met meganiese toerusting uitsny.” Een van die oorledenes se liggaam is in die bus se wrak aangetref en die ander twee is onder die bus gevind.

Hy het gesê die meeste van die pasiënte is na die RK Khan-hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Volgens Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het die ongeluk omstreeks 07:00 plaasgevind. “Volgens inligting van die toneel was die bus op pad na Pinetown, toe die bestuurder vermoedelik in nat weerstoestande naby Savanapark beheer oor die bus verloor het. Die bus het van die pad af geswenk en deur versperrings langs die pad gebars voordat die voertuig omgeslaan het,” het hy gesê.

Die owerhede ondersoek die presiese oorsaak van die ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.