Foto’s: Drie sterf in kettingbotsing in Kaapse Wynlande

Reddingswerkers op die toneel. Foto: Verskaf

Drie mense, onder wie ʼn tienjarige seun, is Dinsdagoggend in ʼn kettingbotsing in die Kaapse Wynlande dood en nog nege mense is beseer.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing waarin vier voertuie betrokke was, het op die N1-snelweg tussen Worcester en Rawsonville plaasgevind.

“Dit is nog nie duidelik wat tot die botsing gelei het nie. Paramedici van verskeie nooddienste is na die toneel ontbied en plaaslike owerhede moes die pad vir verkeer afsper,” het Meiring gesê.

Meiring het gesê al vier voertuie het beduidende skade opgedoen en die vier wrakke is in die middel van die snelweg aangetref.

“ʼn Vrou se liggaam is in een van die wrakke aangetref. ʼn Man asook ʼn seun en ʼn meisie, albei tien jaar oud, het buite die wrak gelê. Die seun was reeds dood. Die man en die meisie het kritieke beserings opgedoen.”

Volgens Meiring is ʼn man se liggaam in ʼn ander motor se wrak gevind. Nóg ʼn man het buite dié voertuig gelê en was in ʼn kritieke toestand. “Ses ander mense het geringe tot matige beserings opgedoen en het op die toneel rondgeloop.”

Paramedici het al die beseerdes op die toneel behandel voordat hulle onderskeidelik na die Mediclinic Worcester en Worcester- provinsiale hospitaal geneem is vir mediese behandeling.

Owerhede was op die toneel om die oorsaak van die botsing te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kobus ·

Ek was die afgelope naweek op reis tussen Kaapstad en Pretoria.Dit is skokkend om te sien hoe
mense optree.Eerstens word spoedbeperkings geignoreer,voertuie word op sperstrepe very
gegaan,ongeduldigheid en geen respek vir mede padgebruikers is aan die orde van die dag. Voertuie sonder ligte vroegoggend en skemer is aan die orde van die dag.Ergste van dit alles is dat die skuldiges pa’s is met vrou en kinders in die voertuig.Durf jy nie padgee vir hierdie ouens nie,is flitsende ligte en vingertaal aan die orde van die dag.

Liezl ·

Ja, Kobus, dit is verskriklik hoe ons padgebruikers net doen wat hulle wil doen. Ek wens ook net mense kan besef dat as hulle agter ‘n stuurwiel inskuif, dat hulle ‘n groot verantwoordelikheid het. Sorg dat almal vasgegordel is. Die mense vir wie jy lief is, is saam met jou. Jy sal mos enigiets vir hulle doen. Moenie oor die spoedgrens gaan nie, moenie kanse vat nie. En moenie jou vinger gebruik nie, hy gaan verbrand in daai vuurtjie wat jy vanaand gaan aansteek.

We own the road ·

Kobus ek stem 100% saam met jou, ons het in ons baan gery, ‘n aankomende bakkie met ‘n buitensporige grote waentjie aankomend van voor en hy het besluit hy neem die voertuig voor hom verby, ons was oppad bult op en hy oppad af. Die voertuig voor hom moes op die geel streep gaan vir hom om verby te kom en vir ons is ligte geflits en ‘n vinger gepunt omdat ons nie op die geel streep gegaan het nie. Dit is onaanvaarbaar, ek kan myself nie die woede in daardie motor indink nie, ‘n man en sy gesin. Ons het volgens die pad reels gery, hy verontagsaam dit en ons is die ‘skuldiges’. Waar is ons verkeersbeamptes? Ons fokus op die verkeerde voertuie, hoe groter ‘n motor hoe vinniger mag en moet ek ry, want die advertensies verkoop die voertuie as “we own the road” terwyl mense se lewens hierby betrokke is. Dit het niks geword om voertuie verby te neem oor duidelike soliede strepe in die middel nie, almal moet maar net pad gee en ergste is om te sien hoeveel keer vrouens ook agter die stuur is op daardie oomblik. Daar moet meer strenger opgetree word.

BOLANDER ·

Kobus, ons het die naweek op die weskus pad gery. En ons het presies dieselfde gesien waarvan jy praat. Dit is geen wonder dat daar so baie ongelukke gebeur nie. Ons was ook amper in een deur ‘n ander motoris se nalatigheid om nie by ‘n stopstraat te stop wat aansluit by die weskus pad nie. Dit kon lelike gevolge gehad het. Mense gee nie meer om nie, PUNT!!!!!!! Die pad behoort aan alle mense, nie net aan sekeres wat dink hulle kan maak net soos hulle wil nie!!!!! Julle wat doen soos julle wil, is gewoonlik die oorsaak van onskuldige mense se dood!!!!!!! Dink voor jy doen en wees meer geduldig!!!!!!!

Lancelot ·

Orde van die dag is duidelik aan die orde van die dag…

Jack Russl ·

Ons was ook die naweek op die paaie gewees. Die mense het net nie meer enige respek vir mede padgebruikers nie. Soliede lyne ens beteken niks meer nie. Jy kan nie eers sê hulle dink net aan hulle self nie, want dit doen hulle nie eers nie. Deur so op te tree stel hy sy eie lewe ook in gevaar.

Dis van ek wil so vinnig moontlik by my bestemming uitkom en ignoreer al die risiko’s van hulle aksies. Dit is hoekom baie se bestemming nie hulle huis of vakasie plek is nie. Dis asof die mense heeltemal mal geword het.

Maar nou bygesê dis nie net op die lang pad wat die mense so ry nie, dit gebeur daagliks oppad werk toe ook.

BOLANDER ·

Kobus, ons het die naweek op die weskus pad gery. En ons het presies dieselfde gesien waarvan jy praat. Dit is geen wonder dat daar so baie ongelukke gebeur nie. Ons was ook amper in een deur ‘n ander motoris se nalatigheid om nie by ‘n stopstraat te stop wat aansluit by die weskus pad nie. Dit kon lelike gevolge gehad het. Mense gee nie meer om nie, PUNT!!!!!!! Die pad behoort aan alle mense, nie net aan sekeres wat dink hulle kan maak net soos hulle wil nie!!!!! Julle wat doen soos julle wil, is gewoonlik die oorsaak van onskuldige mense se dood!!!!!!! Dink voor jy doen en wees meer geduldig!!!!!!!

Christa Gladd ·

Maroela media, wysig asb jul berig. Die man en dogter is nie kritiek beseer nie maar in stabiele toestand. Daar genoeg ontsteltenis in die familie wat almal ver is.

Nettie ·

Almal gaan nou tekere oor ‘groot voertuie’, spoedbeperkings ens. ens. ens. Ek ry ‘n ou klein Taiwannese karretjie. En ek is elke dag op ‘n stuk pad wat taamlik baie ongelukke op gebeur. Soveel as wat spoed, selfsug, verontagsaming van verkeersreëls en nog baie ander dinge ongelukke veroorsaak, veroorsaak ook “padkruipers” ongelukke. As die spoed 100 km/uur is, is dit 100 km/uur – nie 10 km/uur nie! Dit is dán wanneer ek daai klein Taiwannese karretjie van my in ‘n laer rat gooi en dalk verbygaan op ‘n dubbele sperstreep teen ‘n moewiese spoed. O ja, en die reël van hou links, gaan regs verby geld in SA, hoor. So as jy ‘n ander voertuig verbygegaan het, BEWEEG TERUG IN DIE LINKERBAAN.

Ja né ·

A nee a, nettie. Geduld. Jy mag nie oor n soliede lyn ry nie. Wat maak jou so belangrik dat jy dink jy mag? Ek ry presies op die spoed wat ek mag ry en vir baie is dit net te stadig. Almal jaag verby met hande in die lug. Verstommend.

Karinda ·

Ek sou dit nie hardop noem nie Nettie – ‘n soliede lyn beteken daar is beperkte sig en jy kan nie ‘n voertuig sien aankom nie. Gauteng se bestuurders is baie meer wets gehoorsaam wat soliede lyn verbygaan aanbetref as in die Kaap. Dit is bedagsaam as iemand in die geelstreep stroke ingaan sodat ‘n haastige bestuurder verby kan kom maar steeds is dit teen die wet om oor ‘n soliede streep te gaan. Hou op om ander mense se lewens op die spel te plaas deur jou ongeduldigheid.

Chris Ws ·

Nettie,verkoop jou”karretjie” want hy gaan jou in die moeilikheid laat beland.Dit blyk dat jy nie bewus is daarvan dat ‘n gegewe spoedperk op ‘n pad bepaal dat jy NIE VINNIGER MAG RY as wat aangedui word nie.Maw dit is die MAXIMUM spoed wat jy daar mag ry.Jy mag wel stadiger ry as wat aangedui word want daar is geen wet wat se jy mag nie.Slegs op ‘n snelweg is daar ‘n minimum spoed van 60km/h gewoonlik van toepassing.Los die ongeduldigheid – dit maak onskuldige padgebruikers dood!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.