Foto’s: Drie vas ná reuse-wapenvonds

‘n Man, sy vrou en hulle huishulp is in hegtenis geneem nadat die polisie meer as 300 vuurwapens, ammunisie en plofstof by ‘n huis in Norwood, noord van Johannesburg, gevind het.

Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, sê die verdagtes is tussen 26 en 53 jaar oud. “Die persoon wat ons gesoek het beheer ‘n reuse sindikaat en is op ons lys van mees gesoekte persone.” Die persoon bly glo in die huis maar was nie tuis toe die polisie toegeslaan het nie.

Die polisie het onder meer op R1-, R4- en R5-aanvalsgewere, AK47’s en ongeveer 300 handwapens beslag gelê. Daar is ook slagdoppies, ‘n masjien wat gebruik word om ammunisie te vervaardig, verpakte dagga en plofstof wat vir OTM-bomaanvalle gebruik word op die toneel gevind.

“Ek kan nie in hierdie stadium sê presies hoeveel vuurwapens hier is nie. Wat ek wel kan sê, is dat daar honderde is en dat hulle in houers versteek was.” Phiyega sê die polisie sal die oorsprong van die vuurwapens en ammunisie naspoor, probeer vasstel of dit al vir misdade gebruik is of wat die beplande gebruik daarvoor was.

Phiyega het die polisiebeamptes wat by die klopjag betrokke was gelukgewens. “Ek is baie gelukkig oor die resultaat en ek wil hulle aanmoedig om voort te gaan met hulle harde werk.”

Die drie verdagtes sal eers aangekla word wanneer die toneel deeglik ondersoek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jasper ·

Vind uit wie van hul vriende ,ooms, nefies en oupas is lede van die SAPD.

darryl masimo ·

Hoop daar is baie meer polisie lede wat hul werk so ernstig opneem.A BIG UPS To Them

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.