Foto’s: Duisende gestrand weens busstaking

Pendelaars wag op taxi’s by die Nyanga-staanplek te midde van ʼn landswye staking deur busbestuurders (18 April 2018). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Terwyl duisende pendelaars Woensdag erg gefrustreerd gelaat is deur die landwye busstaking, het taxi-bestuurders breed geglimlag oor die ekstra inkomste wat hulle te beurt geval het.

Duisende pendelaars was Woensdag gestrand en kon nie by hul werkplekke uitkom nie, terwyl ander van alternatiewe vervoer gebruik moes maak om by die werk te kom.

Busbestuurders wat lede is van die South African Transport and Allied Workers’ Union (Satawu) het reg oor die land het begin staak nadat loononderhandelinge met hul werkgewers, die Commuter Bus Employers Organisation en die South African Bus Employers Association (Sabea), ʼn dooiepunt bereik het. Die werkers eis ʼn 12% salarisverhoging, terwyl werkgewers net bereid is om ʼn 7% verhoging toe te staan.

ʼn Vrou wat gewoonlik soggens die bus van Mitchells Plein buite Kaapstad haal om by haar werk in die Kaapstadse sakesentrum te kom, was Woensdagoggend een van dié wat by die plaaslike taxi-staanplek tougestaan het om ʼn taxi te haal. Sy het verduidelik dat haar werkgewer nie begrip het vir die uitdaging van die busstaking nie en dat daar van haar verwag word om nietemin betyds te wees.

Pendelaars in Philippi in Kaapstad wag op taxi’s te midde van ʼn landswye staking deur busbestuurders (18 April 2018). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Die vrou het ook gesê sy is bekommerd oor hoe sy Woensdagaand by die huis gaan kom, aangesien daar geen taxi’s van die Mitchells Plein-taxistaanplek af ry na waar sy in Strandfontein woon nie.

Talle taxibestuurders het egter die ekstra kliënte – en inkomste – verwelkom. Tiyani Madoda, ʼn taxibestuurder wat tussen Marabastad in Pretoria-Wes en Mamelodi in Pretoria-Oos ry, het gesê die busstaking beteken ʼn goeie inkomste vir hom. “Dit is besigheid. Ons werk en is dit ʼn slegte ding as ons nou meer geld maak? Laat die busbestuurders staak,” het Madoda gesê.

In Mamelodi het motoriste gesê hulle word deur taxibestuurders geïntimideer indien hulle aanbied om gestrande pendelaars of hul kollegas ʼn saamrygeleentheid te gee. “Ons sê Suid-Afrika is ʼn vry land, maar ek mag nie toegelaat word om ʼn paar passasiers ʼn geleentheid met my motor te gee nie? Ons word deur die taxibestuurders geïntimideer wanneer ons hierdie gestrande mense help. Is dit ʼn misdaad om jou mede-gemeenskapslede te help?” het een motoris gesê wat versoek het dat sy naam nie genoem word nie.

Ten spyte van die berigte van intimidasie het die woordvoerders van die Tshwane-metropolisie en die Gautengse verkeerspolisie gesê daar was teen Woensdagmiddag geen berigte van geweld nie.

Pendelaars wag op taxi’s by die Nyanga-staanplek te midde van ʼn landswye staking deur busbestuurders (18 April 2018). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Busaphi Nxumalo, woordvoerder van die provinsiale verkeerspolisie in Gauteng, het gesê die owerhede is wel bewus van voorvalle waar taxibestuurders motoriste intimideer. “Dit is ʼn vreedsame staking en geen geweld is aangemeld nie. Maar ek het op die radio gehoor dat mense vertel hulle word deur die taxiverenigings voorgekeer en vertel hulle mag nie mense geld vra om hulle te vervoer nie,” het Nxumalo gesê.

Blade Nzimande, minister van vervoer, het vroeër ʼn beroep op al die betrokke partye gedoen om die busstaking dringend te beëindig en loononderhandelinge te hervat.

Brett Herron, die burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling in Kaapstad, het egter teen Woensdag laatmiddag in ʼn verklaring gesê daar is nog geen einde vir die staking in sig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AD ·

Mens wonder wanneer gaan hulle besef dis n handjie vol mense wat die res straf. In my opinie, die wat betoog word vervzng met iemand wat wil werk en nie n werk het nie. Vervang die wat nie wil met die wat wil. Unies verwoes mense se lewens en word gekul met lidmaatskap wat hulle betaal om moeilikheid te maak. We Demand….

Koos ·

En so word die ekonomie geknou en alles gaan op wie is die wenners hierso.??

Msp ·

Don’t worry people, according Lindiwe Sisulu everything is going well in South Africa…

Oom Kalahari ·

@Hoeveel, ‘n 16sitplek taxi kam 45 mense vat en die geldjies rol in.

Waiting ·

Seker ook weer JAN VAN RIEBEECK se skuld .. die EFF en ANC youth league gaan seker nou weer ‘n paar busse uitbrand … dit is mos die logika .. hoekom moet ons as gewone kantoorwerkers tevrede wees met 7% maar ander brand busse uit en staak ELKE JAAR vir 10 en 12% .. dit gaan tog ook oor die bekostigbaarheid . petrol bly die hoogte inskiet .. En moet asb nie met die argument kom dat die “arme” mense sulke lae salarisse kry nie. AS JY AANSOEK DOEN VIR WERK DAN COMMIT JY JOUSELF TOT ‘n SEKERE SALARIS . en inflasie in aggenome kan jy nie net skielik nou 10% of 20 % verhoging verwag nie .. HOEKOM Is jy tevrede met ‘n sekere salaris as jy kontrak teken en daarna NOOIT weer nie?? Ons wittes hou maar ons monde en vat maar ‘n 4% of 7 % verhoging op die hoogste .. !!

ANTI TAXI ·

Ja, en nou jaag hulle net meer om vinniger hul doodskiste op wiele voller te laai. Hulle het geen respek vir ander padgebruikers nie, maak soos hulle lekker kry, die verkeerspolisies kyk maar net anderpad as die oorlaaide wit strepe verbyspoed,

Ek was gister in amper 3 ongelukke met taxi’s. Hulle voertuie se flikker ligte werk nie, maar net die Hazards, sperstrepe is daar om oorbodige verf op te gebruik en verkeersligte net om tyd te mors.

EK kry die bus pendelaars regtig jammer, maar vir die taxi’s het ek nie ‘n oomblik se respek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.