Foto’s: Duisende ruk op vir #SandtonShutdown-betoging teen geweld

(Foto: Twitter)

Duisende mense – meestal vroue – het vanoggend na die JSE in Sandton, Johannesburg, opgeruk vir die #SandtonShutdown-betoging, wat daarop gemik is om geslagsgeweld onder die soeklig te plaas.

Betogers het reeds van 03:00 vanoggend begin saamdrom om hulle misnoeë te kenne te gee met geweld teen vroue en kinders. Die meeste van hulle was in swart geklee. Hulle was ook gewapen met plakkate waarin daar sterk teen misdaad te velde getrek is.

ʼn Memorandum met eise is vanmiddag aan die uitvoerende hoof van die JSE, Nicky Newton-King, oorhandig.

Betogers het na die hart van die Suid-Afrikaanse sakesektor opgeruk in die hoop dat dié ondernemings hulle van hulp sou wees.

King het beloof om die eise in die memorandum onder die aandag van die sakegemeenskap te bring en hulle te vra hoe hulle op elk van die punte gaan reageer.

“Ek dink die pyn wat vroue in dié land voel, is tasbaar en ek verstaan die desperaatheid om gehoor te word. Ek dink die belangrike punt is hoe ons die regte reaksie van stapel stuur op iets wat ʼn absolute tragedie in ons land is,” het Newton-King gesê.

Die memorandum verteenwoordig meer as 70 burgerlike groepe en individuele aktiviste wat hulle beywer om ʼn einde aan geslagsgeweld te maak.

Hulle eis onder meer dat alle maatskappye wat op die JSE genoteer is ʼn 2%-heffing op hulle omset bydra om met die stryd teen geslagsgebaseerde geweld te help. Hulle vra ook dat alle JSE-genoteerde maatskappye bydra tot ʼn fonds – wat in November vanjaar bekend gestel gaan word – wat geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord moet help stuit.

Hulle eis in die memorandum ook dat korporatiewe maatskappye vervoer verskaf aan vroue wat nagskof werk en diegene wat slagoffers van geweld is, sal bystaan met welstandsprogramme.

“Geslagsgebaseerde geweld is ʼn Suid-Afrikaanse probleem en as ons dié pandemie in sy spore wil stuit, het ons die steun van al ons mense in alle sektore nodig,” lui die memorandum.

“Vir veels te lank het die sakesektor sy verantwoordelikheid afgeskuif om ʼn krisis op te los waaraan hy self ʼn groot aandeel het. Dit moet vandag verander.”

Nomasomi Limako, medestigter van die One in Nine-stigting, het gesê talle onsuksesvolle optogte is al vantevore gehou, maar hulle glo iets daadwerkliks gaan uit dié optrede spruit. “Ons sê nee vir die moord op en misbruik van vroue. Genoeg is genoeg. Ons sterf daagliks en dit kan nie langer toegelaat word nie. Ons is keelvol,” het Limako gesê.

Talle betogers wil ook weet waar dr. Tshepo Motsepe, pres. Cyril Ramaphosa se vrou, in die stryd teen mishandeling is en meen sy behoort haar – as presidentsvrou – veel sterker teen die pandemie van geweld uit te laat.

Verkeer rondom die JSE is hewig ontwrig en motoriste is gevra om die gebied te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jame ·

Baie goeie rede maar waarom die JSE? Dis nie hulle wat die wette maak en uitvoer nie. Klink vir my na n teen als beweging wat maar net agter vroue wegkruip. Gaan ruk op by die howe en die regerende party, dis al wat sal help.

Garath ·

Kom ons sê die JSE vorder die geld in. Hoe gaan die geld die geweld teen vroue bestry? Gaan die geld verdere optogte befonds? Waar kry die mense die tyd vir sulke optogte? Wie befonds hierdie optog nou? Ek stem saam dat die onderwerp goed is, maar miskien moet ons Suid Afrikaners liewer begin werk en ophou toi-toi

Strydom ·

Nou gaan dit oor geld! Jy kry waarvoor jy stem! Stem reg en die regering sal die doodstraf instel vir verkragters.

Willehond ·

Gaan niks help nie! Julle het niks gebrand of geplunder nie! Dit werk nie so in die land nie.

Ig ·

Ons landsleiers is die probleem, hulle het nie n oplossing nie

MANIE ·

Die aanklop by die jse se deure klink vir my na iemand wat geld geruik het wat ander mense se smart uitbuit. Die anc gee nie n duit om vir vroueregte behalwe as hulle n klomp strooi kwyt raak van n verhoog vir publisiteit

Gogga ·

Ek staan saam TEEN geweld teenoor vroue en kinders. Uitlokkende klere ís egter moeilikheid soek, jy kan maar sê net wat jy wil. Leer julle digters van KLEINS af: Trek ordentlik aan en bly uit die moeilikheid uit!!!!!!

Arno Scheepers ·

Gogga?? Jy is ongelooflik naief en oningelig en ongevoelig. Dit is elke vrou se reg om aan te trek soos sy wil. Ek mag dalk my respek vir haar verloor as sy nie haar eie liggaam respekteer nie MAAR as man het ek nie die reg om haar te molesteer nie. Ons moet ons vrouens en dogters beskerm en verdedig. Leer liewer jou seun om reg teenoor n vrou op te tree.
REAL MEN DON’T RAPE.
Ons vrouens is kosbaar, baklei vir hulle en nie teen hulle nie.

PJ ·

JSE omdat geld nodig is. Dis simboliek ook. Vir berading, vir mediese onkoste, vir regshulp, vir verblyf as jy jou man moet verlaat, vir kos, klere, seep, vervoer… Regtig mense.. Wat verstaan julle nie? Dis tyd dat die mans wat vroue en kinders vermink en vermoor vasgevat word. Dit was ‘n rustige optog. Niks verwoes en geplunder nie. Nice one girls.

piper ·

aandeelhouers kry genoeg slae dividend belasting van 15 na 20% verhoog. dit is nie die jse skulddat die land in wanorde is nie. besighede verlaat klaar reeds die jse vir beter weivelde.. die vrot ANC is die oorsaak van al die gemors.

Jerry ·

So graag soos wat almal van ons aksies teen die geweld van vrouens en kinders ondersteun, so graag moet ons nie hierdie “campaign” wat deur geldgierige opportuniste gekaap is ondersteun nie, inteendeel moet dit met die veragting wat dit verdien, verwerp word. Dit is duidelik dat dit die motief van opportuniste is om drukgroepe te gebruik om geld in die hande te kry. Dit sou geloofwaardig gewees het indien hulle druk op die ANC “failed state” uitgeoefen het wie se beleid alle Suid Afrikaners op alle fronte faal. Dit is dus die ANC se sosialistiese beleid en versuim om wette toe te pas en te vervolg wat inderwaarheid geweld teen vroue en kinders aanmoedig en verkragting, moord tot gevolg het. Hierdie “Campaign” se ware motief vir geld was vandag ontbloot wat die “campaign” se geloofwaardigheid sleg in die hek laat duik het! Die SAPD kan gerus ook statistiek bekend maak van hoeveel sake van verkragting wat gemaak word deur die sogenaamde verkragtingslagoffers, teruggetrek word (sodra die vermeende verkragter betaal)! Ongelukkig is deesdae se mense nie net desperaat vir werk en geld nie, maar ook instaat tot enige “dirty tricks” vir geld en dit is juis sake wat die emosies opsweep en aanjaag wat die geld laat inrol!

Kry die blinkgepoetste ANC voor stok ·

Self ‘n vrou, maar wonder ook oor die JSE as bestemming. Gaan storm eerder Luthuli huis, of die kantore van die ANC se sg. Women’s League. Vra daar vir geld en antwoorde, want dis die beleidmakers. Kry die regtes om uit hulle gate te kruip en die verrinneweerde vrouens van SA in die gesig te kom kyk.

Jimmy ·

Ek het hoop gehad vir die optog. Maar toe daag die ANC Vroueliga op om saam te betoog, en daar val alles plat soos ‘n pannekoek. Nou word gevra vir ekstra belasting op JSE maatskappye om diè geld aan te wend vir vroueregte. Eintlik sal maatskappye die belasting maar net verhaal van die verbruiker. Dis hoe dit nog altyd werk. Waarskynlik sit die staat self agter die optog as verskoning om ekstra belatings te hef. Mens kan deesdae niemand se ware motiewe meer vertrou nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.