Die drie Zimbabwiërs wat na bewering vyf maande gelede op Alwyn van Zyl (79) en sy vrou, René (66), se plaas by Badseloop toegeslaan het, het Donderdag in die Mookgophong-landdroshof in Limpopo verskyn. Alwyn is tydens die aanval vermoor.
Die hofsaak is tot 7 Oktober uitgestel vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om te besluit na watter hof die saak geskuif sal word. Die hof het ook beveel dat een van die verdagtes mediese behandeling moet ontvang nadat hy glo aangerand is.
Die verdagtes, Tatenda Lebogang Mongwenya (32), Lyod Madumba (28) en Yaganias Saga (30), bly tot dan in aanhouding, aangesien hul aansoek om borgtog vroeër geweier is.
Die drie verdagtes word aangekla van huisroof, poging tot moord, moord, die besit van gesteelde goedere en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.
Die Van Zyl-egpaar is op 20 Maart omstreeks 00:15 deur vyf aanvallers in hul plaashuis buite Mookgophong (Naboomspruit) oorrompel en aangerand. Die egpaar het gelê en slaap toe die mans die plaashuis betree het. Die aanvallers het Alwyn se voete en arms met klere vasgemaak en hom daarna verwurg.
Hulle is toe na die ander kamer waar hulle René gedreig en geld en vuurwapens geëis het. Hulle het haar met skoenveters vasgemaak en daarna die kamer geplunder, op soek na goed om te steel.
Die verdagtes is etlike ure ná die aanval in hegtenis geneem.
Duisende trekkers, vragmotors, bakkies en plaaswerktuie het vandag in konvooi onderweg na die hof saamgetrek. Boere het selfs op perde aan die optog deelgeneem.
Volgens ʼn lid van die gemeenskap wat aan die optog deelgeneem het, was daar sowat 1 000 voertuie, 4 000 mense en 300 trekkers wat aan die optog deelgeneem het.
Die boere het in hul voertuie by al vyf ingange na die dorp byeengekom en saam na die hof opgeruk.
Swart kruise en baniere is op die voertuie geplak met woorde daarop soos “Waar trek jy die streep?”, “Geen boer, geen kos, geen werk, geen toekoms”. Vergrote foto’s van Alwyn en René is ook ten toon gestel.
“Dit is ’n hoendervleis-oomblik om te sien hoe duisende boere saamstaan vir een doel,” sê een van die boere wat aan die optog deelgeneem het.
“Hoewel dit baie hartseer omstandighede is wat ons bymekaarbring, is dit verblydend om te sien dat lede van die gemeenskap hulle al hoe meer teen plaasaanvalle verset,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.
Die optog is deur die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) se Potgietersrus-distrik gereël.
Kobus Briel, René se skoonseun, sê die familie waardeer die optog en die moeite wat die boere van die gemeenskap vir hulle doen. Hy het ook aan die optog deelgeneem.
Briel sê René het intussen na die dorp (Naboomspruit) getrek en woon nie meer op die plaas nie. Hy sê dit gaan goed met haar in die omstandighede.
Maroela Media het vroeër berig Alwyn was een van die stigterslede van die Naboomspruit Boerevereniging. Hy was ook ’n aktiewe lid van TLU SA.
Boere van die gemeenskap sal hom as ’n boer met ’n opregte, goeie hart onthou wat “nie ’n vlieg skade sou aandoen nie”.
- Boere het selfs op perde aan die optog deelgeneem (Foto: Verskaf)
- Duisende het in konvooi na die hof saamgetrek (Foto: Verskaf)
- Duisende mense het saam na die hof opgetrek (Foto: Verskaf)
- Foto: Verskaf
- “Waar trek jy die streep?” vra die boere (Foto: Verskaf)
- Honderde trekkers het aan die optog deelgeneem (Foto: Verskaf)
- Duisende mense het saam na die hof opgetrek (Foto: Verskaf)
- Boere het hul trekkers en waens ingespan vir die optog (Foto: Verskaf)
- Boere het op hul trekkers, in vragmotors, bakkies en selfs met plaasimplemente deelgeneem (Foto: Verskaf)
- Boere het by die ingange van die dorp byeengekom (Foto: Verskaf)
- Boere het ook in hul vragmotors na die hof opgeruk (Foto: Verskaf)
- Alwyn en René se foto op ‘n trekker opgeplak (Foto: Verskaf)
- Boere is keelvol vir plaasaanvalle en -moorde (Foto: Verskaf)
- Boere het hul trekkers en waens ingespan vir die optog (Foto: Verskaf)
- Boere het hul trekkers en waens ingespan vir die optog (Foto: Verskaf)
- Alwyn en René se foto is orals te sien (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
26 Kommentare
Nou begin ons boere wee moet kry as ons so saam staan ek kan begin hoop sien
Dankie aan al die boere, ons wat nie boere is nie staan saam, die euwel moet end kry
Here, beskerm asb al ons boere, hul gesinne, hul getroue werkers sowel as ons almal in hierdie pragtige land Suid-Afrika wat so verwoes word deur ‘n onbevoegde ANC Regering.
Zimbabwiers, seker illegal in die land, nou moet my en jou belasting geld gaan om vir sy mediese sorg te betaal, Suid Afrika die land van melk en heuning! TROTS OP JULLE BOERE
Ons bid dat die wereld sal raak sien wat in Suid-Afrika aangaan.