Foto’s: Duisende vroue sê ‘nee’ vir geweld

Foto: Twitter via @Lisa_Hams.

Derduisende vroue het Woensdag in Suid-Afrika en ook buite die landsgrense opgeruk om deel te neem aan die #thetotalshutdown-optog.

Dié optog word op die eerste dag van Vrouemaand gehou teen geslagsgebaseerde geweld teen vroue en kinders.

Die optog, met die slagspreuk “My body, not your crime scene” het volgens organiseerders ten doel om ʼn einde te bring aan geslagsgebaseerde geweld teen vroue, kinders en die LGBTQIA-gemeenskap (lesbies, gay, biseksueel, transseksueel, queer, interseksueel en aseksuele gemeenskap).

Die optog is nét vir vroue hoewel mans volgens die Total Shutdown-organiseerders kan bydra tot die optog deur donasies; deur by die werk in te staan vir vroue wat die optog bywoon; deur ma’s en vroue se pligte tuis te verlig en deur op te hou om vroue, kinders en mense met neutrale geslagsoortuigings te mishandel.

Die metropolisie in Tshwane het motoriste aangeraai om alternatiewe paaie te gebruik aangesien duidende vroue, in swart en rooi geklee, na verwagting deur die middestad sal beweeg. Duisende vroue in al nege van Suid-Afrika se provinsies het ook hul ondersteuning gewys en opgedaag vir die optog in hul onderskeie provinsies. Busse is gratis vir die deelnemers beskikbaar.

Die optog het ook oorgespoel na Lesotho en Namibië waar deelnemers byeenkom.

Organiseerders het werkgewers versoek om vroue toe te laat om aan die optog deel te neem.

“Verder versoek ons dat alle noodsaaklike werkers wat op die dag moet werk toegelaat sal word om ʼn ruskans te vat tussen 13:00 en 13:30 om te deel in solidariteit teen geslagsgebaseerde geweld.”

ʼn Memorandum met eise sal volgens Total Shutdown se webtuiste vandag aan die regering, die parlement, die appèlhof asook ander provinsiale en streekstrukture oorhandig word.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK); die EFF-leier, Julius Malema; die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela en die geslagskommissie ondersteun dié optog.

Op Twitter het sommige gebruikers hulle egter uitgespreek teen die optog en onder meer gesê “die #totalshutdown feministiese beweging is daarop gemik om Suid-Afrikaanse mans te demoniseer in stede daarvan om vroue te bemagtig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

WIEBO ·

Baie sterkte aan al die vrouens met die opmars in die strate . Wanneer gaan ons mans opstaan teen geweld van vroue teen mans. My ou liewe vroutjie het my al 14 erg aangerand, maar blykbaar is daar net geweld deur mans op vroue en kinders. Ag shame…………….

Bosman ·

Wiebo en marous klink mos nou nes die wat skree: “All murders matter!!!” wanneer ons enigsens oor plaasvalle/moorde praat.

Bosman ·

Klink mos nou soos die wat skree: “All murders matter!!!” wanneer ons enigsens oor plaasmoorde/aanvalle praat?

Riouna Martin ·

Baie dankie aan al die dames wat namens die wat nie dit kon maak nie wel gedoen is. Dankie geniet julle dag verder.

Alida ·

Optogte help niks. Terwyl hulle dans en skreeu word daar iewers n vrou verkrag of vermoor.

Ella ·

Ek stem. Vroue het ook self ‘n verantwoordelikheid om verhoudings wat nie goed vir hulle is nie, te beeindig. En om nie sake terug te trek wanneer mans hulle skuldig gemaak het aan geweld nie.

Snowball ·

Bewusmaking van hierdie tipe geweld is nodig. Of die situasie sal verander ná die veldtog betwyfel ek egter. Hierdie is net nog ‘n a aaklige manifestasie van hoé siek en vrot SA is, waar moordenaars en geweldenaars nie die doodstraf opgelê word nie. SAP is helaas ook geen afskrikmiddel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.