Foto’s: Duisende ysterperde brul vir HS Driehoek

Met vergunning van Vaal Weekblad/ Elsje Vermeulen.

Sowat 11 000 motorfietsryers van oral in die land het Sondag by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark bymekaar gekom ten bate van die leerders wat deur die onlangse brugtragedie by dié skool geraak is.

“Dit was elektries,” verduidelik Hennie Nel, organiseerder en motorfietsryer, Maandagoggend aan Maroela Media.

Nel, beter bekend as Bees onder die motorfietsgemeenskap, vertel dat sowat 5 000 motorfietse gister by die Blokhuis op die R59-pad in die Vanderbijlpark-omgewing bymekaargekom het en vandaar in ʼn konvooi na Hoërskool Driehoek gery het. Daar gekom, is ʼn veiling op die rugbyveld gehou om geld in te samel vir die leerders van die skool.

“Die motorfietsryers het van wyd en syd gekom. Van Kroonstad, Parys, Welkom en Bloemfontein. ʼn Paar het selfs vanuit die Kaap en Port Elizabeth gekom. Ek het al baie motorfietsfunksies bygewoon maar om 11 000 motorfietsryers saam te sien ry – dit was perfek,” vertel Nel.

Met vergunning van Vaal Weekblad/ Elsje Vermeulen.

Nel het sowat 250 motorfietsryers van sy motorfietsklub aan die Oos-Rand begelei.

Hy vertel dat hy saam met ʼn mede-motorfietsryer, bekend as Bees Fourie, van ʼn klub aan die Wes-Rand op dié manier van fondsinsameling vorendag gekom het.

“Fourie het eintlik leiding geneem en die idee van ʼn memorial run op Facebook versprei,” sê Nel.

Hy vertel dat die motorfietsgemeenskap dadelik by die idee ingekoop het en die nodige reëlings is met die skool, polisie en die sakekamer in die dorp getref om lewe in Nel en Fourie se idee te blaas.

Die massiewe groep motorfietsryers kon gevolglik gister omstreeks 09:45 met polisie-begeleiding die pad aandurf skool toe waar die brug op 1 Februarie ineengestort en vier leerders dood gelaat het.

Met vergunning van Vaal Weekblad/ Elsje Vermeulen.

Volgens Nel het donasies ingestroom nog voordat die amptelike veiling begin het. Donasies is glo onder polisiebewaking in twee groot staalasblikke ingesamel.

“Ons wag nog vir die finale bedrag van ouditeure, maar as ek moet skat, het ons so tussen R135 000 en R140 000 ingesamel,” vertel Nel.

Ook die ouers van die leerders wat gesterf het, was teenwoordig en die skool het na ʼn getuienis van een van die oorledenes se pa geluister, sê Nel.

Op ʼn vraag oor waarom die motorfietsgemeenskap hul hande diep in hulle sakke gesteek het vir die spesifieke saak, antwoord Nel: “Waar kinders betrokke is, raak ons motorfietsryers se harte sag.”

Nel is self ʼn pa en oupa, verduidelik hy. Nel wil graag almal betrokke by die dag se reëlings bedank asook die polisie wat gesorg het dat die motorfietsryers veilig by hul bestemming gekom het.

Met vergunning van Vaal Weekblad/ Elsje Vermeulen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Ronel ·

Pragtige gebaar, ek dink die hele SA se harte raak sag wanneer dit by kinders kom. Soveel mense skenkings gemaak en saam bid, daar ís nog baie goeie dinge in ons land .

LH ·

Ek wil vra dat ons bewus sal raak van hierdie pragtige goedhartige mense wanneer ons op die pad is! THINK BIKE!!!

Johnnie ·

As dit nou nie n mooi gebaar was nie dan weet ek nie wat mooi is nie. Dit is nou maar die geaardheid van die motorfiets ryers as dit kom by kinders maak nie saak watter velkleur dit is nie dan is hul harte altyd oop om te gee.

Dorita ·

Net weer ‘n bewys dat motorfiets ryers soms op die baadjie getakseer word. WOW WOW WOW. Baie dankie dat julle weer bewys het dat daar soveel groot harte en omgee onder die leer baadjies en gepatchde onderbaadjies lê. Ek will aansluit by vorige kommentaar. …… THINK BIKE vir ons motorfietse en trap fiets ryers

Lindtjies ·

Baie dankie aan hierdie motorfiets ryers vir hulle groothartigheid. Julle het al hoeveel keer mense gehelp. Ek het baie groot respek vir julle.

Pragtig ·

Pragtig. Daar is nog steeds wonderlike goedheid in Suid-Afrika en omgee vir ander wat deur hartseer tye gaan.

Wilma ·

Baie dankie aan elkeen wat betrokke was by die reëlings en ook aan elke donateur!
THINK BIKE!!!!!

Henrietta Klaasing ·

Hartverwarmende berig ! Here seen hierdie mense!

Statestiek ·

Wonderlike gebaar. Verskoon my asseblief om te sê. Indien die 11 000 ryers elkeen R100 sou skenk sou daar R1.1 miljoen ingesamel wees.

Mariana ·

Wat ‘n pragtige gebaar van die motorfietsryers. . Dit moes belewenis gewees het om te sien. Suid-Afrikaners kan saamstaan en bewys dit telkemale. Tye waar ons almal net mens is en kleur nie saak maak, waar politiek nie als beduiwel nie. Baie dankie.

chris ·

n Pragtige gebaar , hoekom kan die mense nie ook optrek en geld insamel vir die boere wat so uitgemoor word nie , wat van hulle mense wat agter bly .

Johan H. ·

Pragtig maar waarvoor gaan die geld? Hoop nie dis vir gebou onderhoud nie. Die staat moet dit betaal

Mandy ·

Daar word n trust gestig vir die beseerde kinders. As daar enige mediese onkostes of ander nood is dan word die trust daarvoor gebruik. Word glad nie aan die skool geskenk nie. Dit was hoendervleis mooi om deel te wees van hierdie awesome run #bikersunited ❤

Jack Daniel ·

WELL DONE!!!!
Wat a wonderlike gebaar!
Harte van Goud!!
Mag die Here elkeen van julle Bless!!!
?

Karolis ·

Baie mooi gebaar.
Seenwense aan al die goedhartige donateurs.

Familie van motorfietsryer ·

Ai, die storie maak my hart klop van waardering en dankbaarheid teenoor ons land se motorfietsryers…julle is awesome! X

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.