[Foto’s] Durban-protesoptogte gaan voort ná hofaansoek

Optoggangers in Durban, KwaZulu-Natal (7 April 2017). Foto: Twitter

Nadat die hooggeregshof in Durban ʼn dringende aansoek aan die DA toegestaan het wat Zandile Gumede, die eThekwini-burgemeester, verhoed om wetstoepassingsagentskappe te beveel om betogers in hegtenis te neem, het duisende inwoners vandag opgedaag om aan die optog deel te neem.

Zwakele Mncwango, die DA se leier in KwaZulu-Natal, het dit as ʼn oorwinning vir die grondwetlike reg tot vreedsame betoging bestempel. “Ons doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om by enige van die vreedsame optogte regoor die land aan te sluit,” het Mncwango vroeër in ʼn verklaring gesê.

“In ʼn tyd van krisis het ons nou die geleentheid om saam te staan, ongeag ons politieke affiliasies, en ʼn harde en duidelike boodskap te stuur dat [pres.] Jacob Zuma moet gaan en nóú moet gaan.”

Optoggangers in Durban, KwaZulu-Natal (7 April 2017). Foto: Twitter

Die DA moes Donderdag ʼn aansoek by die hooggeregshof indien nadat Gumede na bewering gesê het enigiemand wat aan ʼn optog teen Zuma deelneem, sal in hegtenis geneem word omdat dit ʼn daad van hoogverraad sal wees. Gumede het na bewering gesê metrobeamptes en lede van die SAPD sal regoor die stad ontplooi word om enigiemand in hegtenis neem wat teen Zuma betoog.

Gumede het later hierdie uitspraak teruggetrek en gesê mense is vry om hul grondwetlike regte uit te oefen, maar optoggangers gemaan om nie ander te beseer of infrastruktuur te beskadig nie.

Suid-Afrikaners het Vrydag in hul duisende by optogte regoor die land aangesluit, van Pretoria tot in Kaapstad. Die betogers dring daarop aan dat Zuma uit sy pos verwyder moet word.

Die eThekwini-munisipaliteit het in ʼn verklaring gesê daar is toestemming gegee aan die “People’s March” wat van die sirkusterrein naby die Suncoast Casino and Entertainment World sal beweeg, asook aan ʼn optog in die sakesentrum wat deur die ANC-jeugliga gehou word.

Sosialemediagebruikers het die onderstaande foto’s van die protesaksies in Durban gedeel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Go Durban ·

Durban lyk AWESOME, lyk soos ‘n groot opkoms, dankie vir julle GUTS, hier staan almal, swart, wit, bruin, indier … proud of you!~!

Cherokee ·

Ek het my kantoor en ‘n eiendomsagentskap hul kantore laat sluit vir die dag. Personeel in albei besighede verlof gegee. Om 15:00 was ek in die kantoor en tot my verrassing sê een van die personeelllede vir wie ek die dag af gegee het, ‘n Indiër, dat hy op Noord Strand was tydens die optog en die enigste Indiër omring deur meer witmense as ooit! Hy sê dat daar slêgs witmense was reg rondom hom. Kyk op media-nuusuitsendings na fotos oor hoe Durban se betoog gelyk het! Ek is trots op die witmense van hierdie land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.