[Foto’s] Eerste groot reën bring ook skade

'n Vragmotor het in vloedwater in die duikweg op Rachel de Beer in Pretoria-Noord vasgesit. Meer foto's volg onderaan die berig. Foto: Facebook.

‘n Vragmotor het in vloedwater in die duikweg op Rachel de Beer in Pretoria-Noord vasgesit. Meer foto’s volg onderaan die berig. Foto: Facebook.

Die broodnodige reën wat Maandag in Gauteng en ander provinsies geval het, het ook erge hael- en waterskade in sekere gebiede tot gevolg gehad.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeër die dag ʼn waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms in vier van die land se provinsies wat met stormsterkte wind en hael gepaardgegaan het.

Talle buurte in die noorde van Pretoria waaronder Pretoria-Noord, Mountain View en Mayville is swaar getref waar die hael, wind en swaar reën kitsvloede veroorsaak het, verskeie huise laat oorstroom en dakke afgewaai het.

“ʼn Dak by Huis Hermon, ʼn tehuis vir bejaardes, in Pretoria-Noord het afgewaai. Die brandweer en die stad se rampbestuur het vinnig gehelp om die inwoners te beveilig,” het Dana Wannenburg, DA-raadslid van die omgewing, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Hy het gesê vier groot bome het in die omgewing omgewaai en paaie versper. “Die gemeenskap het soos één saamgewerk. Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sektorpolisielede en inwoners het kettingsae wat deur sakeondernemings beskikbaar gestel is, gebruik om die bome in stukke te saag en te verwyder.”

Hy het gesê ʼn hoofroete na Pretoria-Noord, die duikweg op Rachel de Beerweg, was erg in vloed.

“Die GPF en sektorpolisie het die duikweg toegemaak omdat sommige mense deur die vloedwater wou ry. Die Tshwane-metro het teen 22:00 ʼn stootskraper gestuur om die meeste van die modder en slik te verwyder. Dié hoofroete is weer toeganklik vir verkeer.”

Groot skade is ook veral aan die Oos-Rand aangemeld. Die donderstorms het ook vlugte by die OR Tambo-lughawe vertraag, en kragpale aan die Wes-Rand omgewaai.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê daar word vermoed dat die storm tot ʼn noodlottige ongeluk gelei het waarin vyf mense dood is. ʼn Bakkie, wat mense agterop vervoer het, het op die M1-snelweg gery toe dit tussen die Greystone- en Marlboro-afritte omgeslaan en die mense van die bakkie afgeslinger het. Buiten die vyf mense wat dood is, is twee kritiek beseer.

Limpopo, veral die Hoedspruit-omgewing, het Sondag onder ʼn hewige storm deurgeloop en verskeie mense het foto’s op sosiale media gedeel van haelkorrels wat so groot soos tennisballe was. Nagenoeg 200 huise in dorpies, soos Apel, Sekhukhune en Mopani, is beskadig nadat die huise se dakke afgewaai het.

Jan Vermaak, weervoorspeller van die weerdiens, het gesê vir Dinsdag word enkele tot verspreide donderbuie oor die sentrale, noordelike en oostelike gedeeltes van die land verwag.

Hewige donderstorms kan in die weste van Noordwes, die sentrale en westelike gedeeltes van die Vrystaat en die noordoostelike dele van die Noord-Kaap verwag word.

Hier volg foto’s van die skade in die noorde van Pretoria en Mayville:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Landie ·

Ai, dis soveel skade. En aan die ander kant het ons die reen so nodig!!!

Gerhard Bezuidenhout ·

Die skade wat mag voorkom gedurende reen is nie n fraksie van die skade wat die boere ly met die droogte nie . Dit is hartverskeurend om jou vee te sien swaarkry wanneer weiding en kos opraak en jy eintlik maar magteloos moet toekyk want voer is op die oomblik onbekombaar.

daleen ·

presies, so se ek ook mos. Hou op moun en se baie dankie vir die lewensmiddel genaamd water

Harry ·

Ek bly in Mountian View. Wat ‘n storm! Ek het ook skade gely aan my huis, en amper weg gespoel met my kar. Die grootste probleem wat ek gister kom sien is dat die afvoer dreine op die paaie omtrent alles verstop was. Ek kan nie glo dat die reen en hael alleen verantwoordelik daarvoor kon wees nie. Ek dink onderhoudswerk moet meer gereeld gedoen word. Maar nou ja, ons het gebid vir die reen en moet dan vat wat ons kry ne!

John Barendrecht ·

Harry
Tshwane -metro se rampbestuur en nooddienste is besig om aandag te gee. As jy my jou adres en kontakbesonderhede gee; dan sal ons ook jou ondersteun. Laat die boodskap maar onder die inwoners van Mountain View versprei asb.
Kontak my by 0826856039
John Barendrecht
Raadslid Wyk 1
Mountain View

Carol-Ann ·

Myne was die klein karretjie wat in noordelike rigting weggespoel het #sothankfultobealive

scalla ·

Wees eerder bly oor die reen wat ons so broodnodig het, jammer vir die skade, dit kan immers herstel of vervang word, ongelukkig is daar geen alternatief of plaasvervanger vir water nie

sonnie ·

Daar is lankal gewaarsku ten hewige storms en hael, hoekom het die mense nie voorbereiding getref, die boere het die reen of hael nodig.

Marelize ·

Julle wat so lekker kommentaar lewer oor die boere het die hael ook nodig het duidelik nie n idee nie! Weet julle hoeveel groente en vrugte boere het Sondag en gister al hul oeste verloor agv die hael? Ja ons is dankbaar vir die reen maar nie die hael neem. Jy verloor al die kapitaal en arbeidsonkoste wat jy in daardie oeste ingesit het en verloor n hele jaar se toekomstige inkomste. Meeste boere moes Desember begin oes het. SO asb as jy nie n boer is nie moet jou nie uitlaat oor hoe ond die hael ook nodig het nie. Praat oor goed waarvan jy weet en hou jou mond as jy so lekker daar in jou dorpshuis sit

Eddie ·

Dit is awesome om te sien hoe dit reen. Jammer aan die wat skade gely het maar dit is aardse goed wat herstel en reggemaak kan word. Vir die boere jammer oor die haal maar kies droogte of reen. Die lande sou erger lyk as daar nie reen was nie. En vir die wat moan oor die reen. Vir julle kan ek se gaan op julle knee en se dankie. Ons as mens het gebid vir reen en gekry al het dit met koste gekom. Dankie onse Vader.

Charlene ·

Dis bitter hartseer, ons het die reën nodig maar nie die hael nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.