Foto’s: Eerste hoofleier van Voortrekkers met beeldonthulling vereer

Dr. Danie Langner en Theuns Stofberg by die borsbeeld. Foto: Johann van Staden

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydagaand die viering van sy 90ste bestaansjaar afgeskop deur ʼn brons borsbeeld van dr. NJ van der Merwe, eerste hoof en medestigter van die FAK, te onthul.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het die aand se verrigtinge in die FAK-liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria geopen deur die gaste te vra om ʼn minuut stilte vir die vier leerders wat gesterf het in die Hoërskool Driehoek-tragedie in Vanderbijlpark.

Theuns Stofberg, voormalige Springbok-rugbykaptein en kleinseun van Van der Merwe, het saam met Tibby Odendaal en Carin van Ginkel, kleindogters van Van der Merwe, die geleentheid bygewoon.

Die Klipwerfboereorkes het die vermaak vir die aand verskaf. Dié boeremusieklegendes is ook tydens die geleentheid verras met ʼn spesiale FAK-toekenning vir hul 50ste bestaansjaar in die musiekbedryf.

Die Klipwerfboereorkes het ʼn spesiale FAK-toekenning vir hul 50ste bestaansjaar in die musiekbedryf ontvang. Foto: Johann van Staden

Van der Merwe was die eerste hoofleier van Die Voortrekkers. Op sy voorstel is daar in 1916 begin met die vertaling van die Bybel uit Nederlands in Afrikaans. In sy tyd as hoof van die FAK het die FAK-Sangbundel die lig gesien en het die Sentrale Volksmonumentekommissie as onderafdeling van die FAK begin, met die beplanning en bouwerk van die Voortrekkermonument. Van der Merwe het ook aan Die Voortrekkers die leuse “Hou Koers” gegee.

Die dr. NJ van der Merwe-beeld is getiteld Toekomsargitek. “ʼn Verbeeldingryke toekomsargitek skep doelgeskikte, funksionele ruimtes wat tydgewys nie betekenis verloor nie, maar in waarde toeneem,” het Langner in sy toespraak die oorsprong van die titel verduidelik.

“Al is Van der Merwe vandag vir baie mense ʼn onbekende naam en vergete held, dra sy nalatenskap steeds goeie vrugte,” het hy bygevoeg.

Die bronsbeeld is geskep deur Jacques Müller, ʼn beeldhouer en kunstenaar van Centurion. Volgens Müller is dié bronsbeeld geïnspireer deur Langner se boek oor Van der Merwe se jeugjare in die Norvalspont-konsentrasiekamp, NJ Hou Koers. Müller het aan die hand van historiese foto’s Van der Merwe in sy middeljare uitgebeeld. Die kopstuk rus op ʼn sandsteen-hoeksteen.

Theuns Stofberg, voormalige Springbok-rugbykaptein en kleinseun van Van der Merwe, by die beeld. Foto: Johann van Staden

“Die stuk sandsteen is eie aan die Vrystaat, waar Van der Merwe gebore is. Hierdie spesifieke stuk sandsteen is baie uniek, want dit is van die oorspronklike sandsteen wat gebruik is om die vloer van die senotaafsaal in die Voortrekkermonument te bou. Dit is ook simbool van die stewige fondamente wat Van der Merwe as kulturele bouer gelê het,” het Müller gesê.

Daar is ook drie bronsbeelde van Kaapse kanaries aan die beeld aangebring. Müller het verduidelik dit is simbolies van Van der Merwe se ma, Anna, en sy vriendin Mina, wat tydens die oorlog in die konsentrasiekamp gesterf het. Die derde kanarie simboliseer vryheid na aanleiding van ʼn ervaring wat Van der Merwe as jong seun kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog beleef het.

Müller (38) het ʼn nasionale diploma in beeldende kuns aan die destydse Technikon van Pretoria verwerf en in beeldhou en skilderkuns gespesialiseer. Die verganklikheid van die mens word in Müller se beeldhouwerk beklemtoon.

Hy het verlede jaar die borsbeeld van pres. Paul Kruger in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria herstel nadat vandale dit beskadig het. Müller het ook ʼn hele nuwe beeld uit graniet en marmer van Kruger geskep, wat verlede jaar op 10 Oktober, op Kruger se verjaarsdag, onthul is.

Müller het al beeldhou- en skilderwerk in opdrag van korporatiewe en private versamelaars gelewer. Sy werk is ingesluit in verskeie versamelings oor die hele Suid-Afrika, Australië, Italië en die VSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

zoom zoom ·

Barend.
As ek kyk Na die 2 name moet dit sekerlik 2 mans gewees het. Of hulle saam met Ou Jan in Sy skip Na SA gekom het en of hulle vol dagga en Te perd oor die Drakensberg gevlieg het weet ek ook nie.

Daan Erasmus ·

Die Klipwerf Orkes is ‘n Orkes. Hulle is nie ‘n Boere Orkes nie.

Daan Erasmus ·

Die Klipwerf Orkes is ‘n Orkes. Hulle is nie ‘n Boere Orkes nie..
Klipwerf Orkes, vra hul gerus.

Daan Erasmus ·

Doen gerus ‘n artikel oor die Klipwerf Orkes. Hulle sê self hulle is ‘n Orkes nie ‘n Boere Orkes nie.

J. van Rensburg ·

Aan my maak dit nie saak of hulle net ‘n ‘ORKES’ of ‘BOERE-ORKES’ is nie – KLIPWERF is ‘n wen-orkes in alle opsigte!

Ellisras ·

Natuurlik is Klipwerf ‘n puik Orkes. Net soos vark wors nie Kosher is nie. En perde bolle nie vye is nie. So is Klipwerf net ‘n Orkes.

Willie ·

Jy kry dalk te warm daar in Ellisras.. verstom my hoe mense oor sulke onbenullige twak kan twis?

Charles ·

Wonderlik! N.J. v/d Merwe is ‘n grooste held; ek het die boek “NJ Hou Koers” ‘n rukkie terug aangekoop by Kraal Uitgewers, en dit was baie inspirerend!

Baie dankie aan die FAK vir alles wat hulle doen vir ons erfenis :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.