[Foto’s] Egpaar en hulle hond gered

Mev. Lubbe en haar Shnauzer Foto: NSRI

Mev. Lubbe en haar Shnauzer Foto: NSRI

‘n Egpaar van Kaapstad, mnr. en mev. Lubbe, en hul hond, ‘n Shnauzer, is gered toe hul seiljag, See Brok, Dinsdag naby Durban gesink het.

“Die egpaar het Sondag uit Richardsbaai van die Zululand-seiljagklub vertrek, maar het Maandag probleme ondervind toe hul enjin onklaar geraak het,” het Clifford Ireland, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Durban, gesê. “Hulle het sonder ‘n motor begin ronddryf en het om 16:00 rooi noodfakkels afgevuur. Die motorvaartuig Kishore het omstreeks 17:40 op die noodfakkels reageer en van koers afgewyk om die seiljag by te staan. Die NSRI is ontbied.”

Volgens Ireland het die Kishore by die seiljag gebly totdat die NSRI omstreeks 22:45 opgedaag het. Die seiljag is van daar in rowwe seetoestande in die rigting van Durban se hawe gesleep. “Die bemanning aan boord die See Brok en hul hond was veilig,” het Ireland bygevoeg.

Intussen het die Kishore sy vaart hervat.

“Die See Brok sou na verwagting om 12:00 by Durban se hawe aankom, maar ‘n noodsein is om 10:30 ontvang dat die seiljag besig is om te lek en besig is om te sink,” het hy bygevoeg. “Die seereddingspan het gepoog om water uit die seiljag te pomp, maar die egpaar en hul hond het kort daarna die seiljag verlaat en is met die seereddingsvaartuig gered.”

Die egpaar en hul hond het almal lewensreddingsbaadjies aangehad en is nie beseer nie. Die seiljag het gesink.

“Die egpaar en hul hond is veilig na die hawe gebring. Die Maritieme Veiligheidsowerheid en die polisie stel ondersoek in,” het Ireland gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

candice ·

Ja, Carel en Zelna Lubbe. Hond, Floors…
Die ding is, as hulle nie Richardsbaai uit is nie, sou dit nie gebeur het nie. Die boot het sy “Seaworthy” inspeksie gevaal en daar is goeie redes hoekom SAMSA sulke streng reëls toepas op bote wat wil uit gaan. Ek glo nie vir een oomblik daardie boot het nie net “gesink” nie…. Baie mense wil baie dinge by hulle weet.
Weereens en ek hoop hulle lees dit: Alles gebeur met ‘n rede – soos ek al voorheen vir hulle gesê het.
Mens kan net vir solank weg kom met mense vir ‘n gek hou.

candice ·

Hulle hele lewe is onder op die see bodem. Dis nie iets om oor trots te wees nie…. ek is baie verlig hulle is veilig. Dinge kon net baie anders gewees het as hulle nie gegaan het nie.

Lea ·

Candice … regtig! Is dit nou al kommentaar waaraan jy kon dink! Jou “ek is baie verlig hulle is veilig” klink na ‘n terloopse gedagte … Jy ken sekerlik die mense maar ek twyfel of hulle jou nadese sal wil ken!

Doedels ·

Candice, ons almal bly in huise van glas, ons mag nie oordeel nie. Vergeet en vergewe. Jaloesie is besig om hier die oorhand te kry

Delia ·

O, die hoogheiliges wat Candice nou so voor stok kry, het nog nooit iets negatiefs oor iemand anders vertel nie! En nee, ek is nie familie van Candice nie en ken haar ook nie. Dit is stom onnosel om met ‘n boot uit te gaan as dit nie ‘seaworthy’ is nie en ek twyfel of die versekering gaan uit betaal….

Pieter ·

Moenie Candice sommer veroordeel sonder dat julle meer weet nie. Die feit dat sy hulle ken sê baie. Ek het gister gelees hulle is uit Richardsbaai sonder die nodige permissies, op ‘n onseewaardige boot, sonder om hulle aankope rekenings en dokfooie rekenings te betaal. Dit beteken hulle integriteit is onbetroubaar.

Christie Joubert ·

Dankie Candice, vir die storie agter die storie. Ek is al goed dik vir die alewige gepreek oor huise van glas. Nie alle mense is noodwendig die “slagoffer” nie.

pop ·

Ai, Ai, Ai mense!!! Hulle kon dood gewees het. En die feit dat daar gese word hulle hele lewe le onder in die see, se vir my hulle sukkel finansieel. Komaan, Candice en almal wat so oordeel, wees nou goeie Christene en loop betaal daai rekeninge.

Adri ·

Candice. …..ja nee……Ek sien ook jy het baie simpatient met jou medemens. ….baie baie trots op jou hoor. ….N Mens skop nie iemand as hy klaar le nie…..Mag jy nooit so veroordeel word nie. ….en so terloops. ….Die boot was SEEVAARDIG. …. jou feite is verkeerd.
So bly jy is gelukkige dat hulle veilig is .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.