Foto’s: Egpaar se huis in brand verwoes

Wilma en Deon Joubert is verpletter na ’n wegholbrand hulle huis in Lusthof, noord van Pretoria, vernietig het. (Foto: Verskaf)

’n Wegholbrand het Saterdag die grasdakhuis van Wilma (65) en Deon (67) Joubert op hulle kleinhoewe in Lusthof, noord van Pretoria, vernietig. Hulle woon al sedert 1992 op dié kleinhoewe, wat ook hulle neseier vir hul oudag was.

Benewens die egpaar se besittings en huishoudelike items is hul voertuie ook erg in die brand beskadig.

Die Jouberts, albei pensioenarisse, het Saterdag hul kleinkinders, Misha (5) en Ivan (4), op ’n uitstappie Hartbeespoortdam toe geneem toe ’n brand vermoedelik by ’n kleinhoewe in Hotellaan, wat agter die gesin se gesin se huis verbyloop, ontstaan het.

Hulle woon al sedert 1994 op dié plot, wat ook hulle neseier vir hul oudag was. (Foto: Verskaf / BBV)

Die egpaar se dogter, Natacha Uys, en haar man, Heinrich, woon op ’n kleinhoewe in dieselfde straat as haar ouers en was op pad om te gaan vleis koop toe hulle geweldig baie rook naby die Jouberts se huis opgemerk het.

“Ons het gesien die brand beweeg gevaarlik nader aan my ouers se plot. Ons het besluit om solank die brandkar te gaan haal om die grasdak nat te spuit en het kort daarna die plaaslike LGV-buurtwag ontbied.

Benewens die egpaar se besittings en huishoudelike items is hul voertuie ook erg in die brand beskadig. (Foto: Verskaf / BBV)

“Die wind het Saterdag erg gewaai en die vuur het gespring. Toe die wind die eerste keer draai, was ons aanvanklik verlig, maar kort voor lank het die wind wéér gedraai en die huis in vlamme gehul,” sê Uys.

Volgens haar het Heinrich en sowat 40 lede van die buurtwag, gemeenskap asook die Apiesrivier Landelike Brandbeskermingsvereniging (BBV) onverpoos probeer om die brand te blus en die huis te red.

“My man was op ’n stadium bo-op die dak besig om gras uit te ruk in ’n poging om te verhoed dat die hele huis afbrand.

Alles is in die brand vernietig. (Foto: Verskaf / BBV)

“Ek het aanvanklik self gehelp, maar het ’n asma-aanval weens al die rook gekry. Die buurtwag se nooddienswerkers het my van die toneel verwyder en met suurstof behandel.”

Uys sê dit was moeilik om die nuus aan haar ouers te breek wat op hul beurt na ’n brandende huis moes terugkeer.

“Dis ’n skok. Na soveel jaar het jy skielik niks oor nie en moet jy van vooraf begin. Ons het egter baie om voor dankbaar te wees aangesien niemand in die brand beseer is nie,” sê Joubert.

Wilma en Deon Joubert by hul kleinkinders, Ivan en Misha. (Foto: Verskaf)

Joubert sê haar hart is die seerste oor die vernietiging van sentimentele items soos hulle trouklere, wat hulle al 44 jaar lank bêre, asook briewe wat Deon destyds op die grens aan haar geskryf het.

Joubert en haar man het Sondag deur die puinhoop gesoek, waar sy stukkies lap van haar trourok gevind het. Haar trouring, wat tydens die brand by die huis was, is ook tussen die as gevind.

“My kleindogter was baie bekommerd oor haar blokkies en die foto’s teen die muur. Toe sy sien hoe hartseer ek is, het sy my probeer troos en gesê: ‘Toemaar, Ouma, dis net ’n huis.’ Ek het toe by myself gedink, ‘maar my kind, dis eintlik alles’.”

Die egpaar se kinders en meer as 40 lede van die buurtwag, gemeenskap asook die Apiesrivier Landelike Brandbeskermingsvereniging (BBV) het onverpoos probeer om die brand te blus. (Foto: Verskaf / BBV))

Volgens Tarien Cooks, koördineerder by die BBV, is 14 plotte en altesaam 119 ha in Lusthof Saterdag deur die brand beskadig. Benewens die Joubert-egpaar se huis wat afgebrand het, is talle vrugteboorde beskadig en weiding ook vernietig.

“Dit was ’n redelike rowwe brand wat vinnig versprei het. Ons het ’n wind van 20 km/h gehad en die windrigting was veranderlik. Dit het die blus van die brand geweldig bemoeilik. Dit gebied is ook redelik bebos,” het Cooks aan Maroela Media gesê.

“Dit blyk dat ’n vuur onwettig in ’n erf in Hotellaan gemaak is en toe versprei het. Die ondersoek duur voort en ’n verslag sal volg.

“Dit is maar baie hartseer. Teen die tyd wat Wilma en Deon by die huis aangekom het, het hulle alles verloor en net die klere aan hulle lyf gehad.”

Heinrich en Natacha Uys het Saterdag tevergeefs probeer om die huis te red. (Foto: Verskaf)

Kos en klereskenkings uit die gemeenskap het sedertdien vir die Joubert-egpaar, wat tans by hul dogter en skoonseun woon, ingestroom. Hulle het egter nog talle huishoudelike items en kombuistoerusting nodig.

“Ek raak emosioneel as ek aan die goedheid van die mensdom dink. Soveel mense uit die gemeenskap staan ons by en maak hulle harte oop,” sê Joubert.

Indien iemand ’n skenking wil maak, kan Natacha Uys by 071 003 5978 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MAGRIETHA ·

Sterkte aan die familie dis nie maklik om so iets te ervaar nie eks 2 jaar gelede deur so n ervaring en het alles m,a alles verloor so sterkte en byt vas Bid en god sal help Hy het my deurgedra deur di moeilike tyd

Elize ·

Jare terug toe ek in die bank gewerk het, was die versekering op ‘n grasdak dubbeld. Die rede wat hulle aangevoer het ? ‘n Grasdak het ‘n 100% kans om af te brand. Dis pragtig maar nee dankie vir my.

Noels244 ·

Dit is verskriklik hartseer, gewone huisraad kan mens vervang, maar die sentimentele items is vir altyd weg. Dis baie keer al wat jy oor het van geliefdes.

Cherokee ·

Was die huis nie verseker nie? Eiendomsversekering is tog redelik bekostigbaar. En indien nie verseker nie, behoort vasgestel te word of nie geëis kan word van die versekering (indien daar is!) op die kleinhoewe waar dit onstaan het. Versekering dek immers skade aan betrokke eiendom plus skade aan ander eiendom wat veroorsaak is deur dieselfde brand. Maak seker of dit ‘n uitweg kan wees.

Sêmanet ·

Ek is seker hulle sou versekerd wees. Maar totdat so eis afgehandel is, sukkel en ploeter jy voort en is afhanklik van ander mense. Sulke eise word nie vinnig afgehandel nie. Arme mense, ek is net bly hulle was nie daar om dit te moes aanskou of selfs in die huis vasgekeer te moes wees nie. Mens voel seker so magteloos en platgeslaan. Sterkte oom en tannie.

Kirst ·

Dis ‘n belangrike les. So iets gebeur so maklik (en vinnig). Ek het die afgelope Vrydag ons iventaris gedoen vir die hernuwing van ons versekering, en gevind dat selfs teen konserwatiewe vervangingswaardes, ons huisinhoud R600 000 onderverseker was. Maak seker joune is reg, en sit rookalarms in al die kamers om te keer dat die rook jou oorval as jou huis dalk brand terwyl jy daarin is.

Anel ·

Probleem is die brand is onwettig gestig en die een wat dit gedoen het is nou weg en kom niks oor nie. Die spul loop mos orals en vuur maak. Kyk maar al die veld en plase. Geen brand ontstaan net sommer in die veld nie. Baie sterkte aan hierdie familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.