Foto’s: Eise aan hof oorhandig ná Vaalharts-moorde

Gemeenskapslede het baniere wat hul ontevredenheid oor plaasaanvalle uitbeeld, aan hul motors vasgemaak en langs die pad laat rondwapper (Foto: Verskaf)

Honderde mense het Donderdagoggend in Hartswater byeengekom om stem dik te maak oor die moord op Dan (83) en Breggie (79) Brand en hul dogter Elzabie die afgelope naweek.

Lede van die gemeenskap het van Jan Kempdorp, Magogong en Hartswater in hul plaasbakkies, motors, vragmotors en selfs op hul trekkers by die Hartswater-landdroshof byeengekom. Die vyf verdagtes wat vasgetrek is in verband met die moorde op die Brand-gesin sal na verwagting Donderdag in dié hof verskyn.

Die gemeenskap het ʼn memorandum aan die staatsaanklaer by die hof oorhandig waarin hulle eis dat plaasaanvalle en -moorde end kry en dat borgtog nié aan die vyf verdagtes toegestaan sal word nie.

Maroela Media het vroeër berig die Brand-egpaar se liggame is Dinsdagmiddag in die omgewing van die Takaneng-nedersetting in Taung in Noordwes gevind. Elzabie se liggaam is vroeër in dieselfde omgewing opgespoor.

Die Vaalharts-gemeenskapsveiligheidseenheid en die Noord-Kaap Landbou-unie het kragte saamgesnoer om dié optog te reël. Ná vergaderings met die polisie, die verkeersdepartement en die Hartswater-landdroshof se staatsaanklaer is goedkeuring gegee dat die byeenkoms kan voortgaan.

“Die hele Vaalharts-gemeenskap is geruk deur die Brand-gesin se wrede moorde. Dit het in ʼn oogwink hier onder ons neuse gebeur. Ons gaan plaasaanvalle en -moorde nie langer duld nie,” sê Frederik van Zyl, ʼn veiligheidsverteenwoordiger van die Vaalharts-gemeenskapsveiligheidseenheid.

Van die motors wat voor die Amaglug-vulstasie in Hartswater byeengekom het (Foto: Verskaf)

Volgens Van Zyl het lede van die gemeenskap om 07:30 voor die hospitaal in Jan Kempdorp, by die Amaglug-vulstasie in Hartswater en by die skougrond in Magogong byeengekom. Hulle het van daar in hul voertuie na die Hartswater-landdroshof beweeg. Lede van die gemeenskap het baniere wat hul ontevredenheid oor plaasaanvalle uitbeeld, aan hul motors vasgemaak en langs die pad laat wapper.

Die motors het amper ʼn uur lank om die landdroshof gery. Hulle het daarna by die Bean-restaurant en voor die Hartswater Klein Kerkie byeengekom, waar hulle nou wag vir die landdros se uitspraak.

Die reëls vir die optog is vooraf duidelik uiteengesit vir diegene wat aan die optog wou deelneem. Slegs twee persone, met maskers, word per motor toegelaat. Vuurwapens, haatspraak of aanstootlike baniere of kennisgewings is verbied.

Philip Schutte (27), ʼn Vaalharts-inwoner wat aan die optog deelgeneem het, sê hy voel trots om as Suid-Afrikaner deel van die optog te wees.

“Ons is woedend en raadop. Ek het besluit om aan die optog deel te neem, want dit is ons eie mense wat aangeval en vermoor word. Al is almal nie familie of kennisse nie, is al ons boere maar familie. Sonder hulle sal die land nie aan die beweeg kan bly nie,” sê hy.

Die gemeenskap van Hartswater is uitmekaar geruk van die moorde op die Brand-gesin (Foto: Verskaf)

Sy broer, Marius (30), wat ook aan die optog deelgeneem het, sê dit was wonderlik om te sien hoe so ʼn klein gemeenskap kan saamstaan. Hy sê die optog was vreedsaam en goed georganiseerd.

“Dit is nie nodig om met ʼn optog te verbrand of te verbreek nie. Verkeer is wel ʼn bietjie opgehou, maar hier was geen geweld of beskadiging van eiendom nie. Almal is rustig en is hier vir een rede,” sê hy.

Die twee broers sê hulle hoop die optog skep bewustheid.

“Plaasaanvalle en -moorde raak net al hoe erger en [vind] meer gereeld [plaas]. Dus moet iets drasties daaraan gedoen word. Die wêreld moet begin besef wat in ons land aangaan. Ons boere leef daagliks in vrees; hulle gaan slaap met die gedagte dat iets deur die nag kan gebeur en deesdae sommer deur die dag,” sê Philip.

Die Brand-gesin is vermoedelik Sondag al ontvoer tydens die aanval op ʼn kleinhoewe in die Vaalharts-besproeiingskema naby Hartswater in die Noord-Kaap.

Vier verdagtes is laat Maandagaand in hegtenis geneem en ʼn vyfde verdagte is Dinsdag aangekeer. Sommige van die verdagtes het glo erken hulle het die egpaar en hul dogter vermoor en het toe aan die polisie begin uitwys waar die liggame gevind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Waar IS ons Onder President Cyril Ramaphosa? Die President Nkosazana Dlamini-Zuma het gese hy mag nie gaan nie!

Kiewiet

EFF kyk hoe skitter “our People” in hulle afwesigheid. Pasop die regverdiges van die land is besig om kwaad te word.

Hendrik

Hierdie lewens maak saak.

Adeline

“Black Matters” Daarom dit is wit plaasboer familie nie “Black” nie. Hoe kan mense die onmoontlike verwag van die korrupte rassistiese anc familie. Onthou “Black Matter” Wonner nou of die “Black Matter” sport ondersteuners ook hier deelneem!!

Piet

Hulle mors hulle tyd om te wag vir die landdros se uitspraak. Geen borgtog sal vandag toegestaan word nie en hulle sal in aanhouding bly. Vir ‘n ernstige aanklag soos moord moet ‘n formele borgaansoek gebring word (as hulle wel vir borg wil aansoek doen) en dit word nie maklik toegestaan nie. Die saak sal uitgestel word vir die borgverhoor (as hulle aansoek doen). Hulle bly in aanhouding.