Pistorius het geskiedenis gemaak nadat hy die eerste paralimpiese baanatleet geword het om aan die Olimpiese Spele deel te neem. ʼn Paar maande later het Pistorius weer internasionaal nuus gemaak toe hy aangekla is vir die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp.
14 Februarie 2013
Op die oggend van Valentynsdag word daar berig dat Oscar Pistorius sy vriendin doodgeskiet het nadat hy haar vir ʼn inbreker aangesien het. Die polisie bevestig later dat Pistorius in hegtenis geneem is en dat daar op ʼn 9mm-pistool beslag gelê is.
Die polisie bevestig later die middag die oorledene is Pistorius se vriendin Reeva Steenkamp (29).
15 Februarie 2013
Pistorius verskyn in die Pretoria-landdroshof nadat hy die aand agter tralies spandeer het. Die staat kondig aan dat hy Pistorius van moord met voorbedagte rade gaan aankla. Die saak word tot 19 Februarie uitgestel wanneer Pistorius om borg sal aansoek doen.
17 Februarie 2013
Peet van Zyl, Pistorius se agent, kondig aan dat Pistorius se deelname aan verdere byeenkomste gekanselleer is.
19 Februarie 2013
Steenkamp se roudiens word in Port Elizabeth gehou. Pistorius verskyn intussen in die Pretoria-landdroshof vir die eerste dag van sy borgverhoor. Staatsaanklaer Gerrie Nel voer aan dat Pistorius vier skote deur die badkamerdeur geskiet het en dat drie daarvan vir Steenkamp getref het. Die verdediging voer aan dat Pistorius haar vir ʼn inbreker aangesien het en Pistorius ontken dat hy Steenkamp met opset doodgeskiet het.
22 Februarie 2013
Landdros Desmond Nair staan borgtog van R1 miljoen aan Pistorius toe. Sy borgvoorwaardes behels onder meer dat hy sy paspoort en enige vuurwapens in sy besit moet inhandig.
28 Februarie 2013
Pistorius verskyn op die voorblad van Time se Maart-uitgawe. Op die voorblad staan: “Man. Superman. Gunman.”
11 Maart 2013
Pistorius se regsverteenwoordiger doen aansoek om teen sy borgvoorwaardes te appelleer.
28 Maart 2013
Pistorius se borgvoorwaardes word verlig. Daar word onder meer beslis dat Pistorius internasionaal mag deelneem.
19 Augustus 2013
Pistorius verskyn in die Pretoria-landdroshof op die dag wat Steenkamp haar dertigste verjaarsdag sou vier. Hy word aangekla van moord met voorbedagte rade en aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet.
Daar word ook bekend gemaak dat die staat beplan om meer as ʼn 100 getuies te roep om in die verhoor te getuig. Die moordverhoor word vir 3 tot 20 Maart in die hooggeregshof in Pretoria geskeduleer.
14 Februarie 2014
Pistorius breek sy stilte presies ʼn jaar nadat hy Steenkamp doodgeskiet het en skryf op sy webtuiste: “Geen woorde kan voldoende my gevoelens oor die verwoestende ongeluk, wat soveel hartseer vir almal wat waarlik vir Reeva lief was en steeds lief het, beskryf nie. Die pyn en hartseer – veral vir Reeva se ouers, familie en vriende verteer my met hartseer. Die verlies van Reeva en die trauma van daardie dag sal ek die res van my lewe saam met my dra.”
19 Februarie 2014
Mediahuise versoek die hooggeregshof vir toestemming om Pistorius se moordverhoor uit te saai. Die aansoek is later goedgekeur.
3 Maart 2014
Pistorius se moordverhoor begin in die hooggeregshof in Pretoria. Pistorius pleit onskuldig op aanklag van moord met voorbedagte rade.
25 Maart 2014
Die staat handel sy saak af nadat hy 21 getuies geroep het om te getuig.
8 Julie 2014
Regter Thokozile Masipa beslis dat die hoofde van argumente nie gepubliseer of oor berig mag word voor dit in die hof aangehoor is nie.
12 Julie 2014
Pistorius is glo in ʼn onderonsie betrokke by ʼn kuierplek in Sandton.
13 Julie 2014
Pistorius laai ʼn paar foto’s op Twitter.
30 Julie 2014
Die staat dien sy slotbetoë in.
4 Augustus 2014
Die verdediging dien sy slotbetoë in.
7 Augustus 2014
Die staat en verdediging lewer hul slotbetoë. Pistorius en Steenkamp se pa’s woon die eerste keer die hofverrigtinge by.
8 Augustus 2014
Die staat en verdediging gaan voort met hul slotbetoë. Barry Roux, vir Pistorius, voer aan dat die staat selektief was met sy bewyse wat vir die saak oorweeg is en dat belangrike sake wat in die verhoor geopper is geïgnoreer het.
Staatsaanklaer Gerrie Nel voer aan dat Pistorius aan moord skuldig bevind moet word aangesien hy ʼn “leuenaar” is en die hof mislei het.
8 Augustus 2014
Pistorius bedank sy geliefdes op Twitter: “Dankie aan my geliefdes en diegene wat daar was vir my, wat my opgetel het en deur alles gehelp het.”
Thank you to my loved ones and those that have been there for me, who have picked me up and helped me through everything.
— Oscar Pistorius (@OscarPistorius) August 8, 2014
11 Augustus 2014
Pistorius skryf op Twitter: “Here ek weet U het ʼn plan vir elkeen wat sukkel, gee asseblief vir hulle vrede en help hulle om te glo.”
Lord, I know you have a plan for each & everyone that is struggling, please give them peace and help them to believe. pic.twitter.com/7WDYq5aoDN
— Oscar Pistorius (@OscarPistorius) August 11, 2014
11 September 2014
Regter Thokozile Masipa begin met haar uitspraak in Pistorius se moordverhoor. Sy bevind Pistorius onskuldig aan moord. Sy bevind wel dat hy nalatig opgetree het toe hy Steenkamp doodgeskiet het.
12 September
Regter Thokozile Masipa gaan voort met haar uitspraak.
Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.