Foto’s en video: Bela-Bela-baken brand af

Die toneel by die Waterfront. Foto: Verskaf

ʼn Gewilde baken in Bela-Bela, die Limpopo-vakansiedorpie, het Vrydagnag tot op die grond afgebrand.

Na wat verneem word, het die brand omstreeks 21:30 by die Rodeos-restaurant en kuierplek van die Bela-Bela Waterfront ontstaan, waarna dit vinnig na die omliggende hout en grasdak strukture versprei het.

Natasja Kemp, woordvoerder van die Bela-Bela-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Saterdag aan Maroela Media gesê dit is vir die gemeenskap ʼn baie hartseer saak en ʼn groot skok.

“Ons buurtwaglede het opgemerk daar is ʼn groot rookwolk in dié gebied van die dorp en het ondersoek gaan instel. Al die strukture by die Waterfront is van grasdakke en hout gemaak en die wind het ook opgesteek.”

Die brandweer het bystand gebied en mense in die omliggende omgewing het met waterkarre ook uitgery om te probeer help waar hulle kan, maar die brand kon nie onder beheer gebring word nie. Die polisie, verkeersbeampte en ambulansdienste was ook op die toneel.

Teen Saterdagoggend het al die strukture tot op die grond afgebrand en steeds gesmeul. Daar was minstens nege ondernemings by die waterfront bedrywig.

“In dié stadium weet ons glad nie hoe die brand ontstaan het nie en die oorsaak sal ondersoek word. Die polisie het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat geen vuilspel vermoed word nie. Sover ons weet is een van die persone wat gehelp het om die band te probeer blus ligtelik beseer, maar verder is niemand anders beseer of dood nie,” het Kemp gesê.

Kemp het gesê al die diere by die klein dierepark van die kwekery is betyds gered en is ongedeerd.

NJ van Heerden, die seun van die Waterfront se eienaar, het op sosiale media almal bedank wat deur die nag bystand verleen het om die brand te bestry. Hy het ʼn foto gedeel wat geneem is kort nadat die brand vermoedelik by die Rodeo’s-restaurant uitgebreek het waarna dit vinnig na alle kante versprei het weens die sterk wind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Superman ·

Ek vermoed sabotasie of bransstigting….omtrend 2 maande gelede het een van die restaurante by diesfde Waterfrond afgebrand en n paar maande voor dit het die Spar heeltemal afgebrand

Daan Erasmus ·

In die ou dae het arm mense in grasdak huise gebly. Nou bly net die ryk mense in grasdak huise. Of kommersiële eiendomme wat spoggerig moet lyk. Grasdakke is nie so ‘n blink idee nie. Net die brandgevaar alleen is klaar rede genoeg om weg te bly. Hoekom duur betaal vir iets met ‘n baie beperkte lewe.

bren ·

Restaurante moet gereeld hul (extractions)waar hul kos braai en kook laat diens; meeste brande is omdat dit nie gediens word nie.

Wonder maar net ·

Is dit nie die selfde Warmbad Waterfront wat voorlopig onder likwidasie geplaas is net laas week iewers?

Wonder ook maar net ·

Jip hier brand meer as net Bela Bela Waterfront het hulle ook op die likwidasie lys gesien…

IK ·

Daar word gesê dat slegs ‘n kettingsaag sulke brande se verspreiding kan stuit. Jy saag dus struktuur af tussen dit wat brand en dit wat nog nie brand. Dit maak nogal sin.

Anoniem ·

Die spar het ook gebrand n tyd gelede in bela bela . Dis tragies hoop.al die mense was veilig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.